Ek sien haar staan toe ek na my blyplek aangery kom. By die vullisdromme wat in die straat gepak wag om deur die vullislorrie se meganiese kake verslind te word.
Washiela is haar naam. Leem haar van. Sy praat met my, maar haar oë kyk aandagtig deur die dromme. Drom vir drom. Haar hande vat vaardig raak, skeur sakke oop, sy kyk en gooi eenkant toe. “Somtyds is daar lekker goedjies hier…en dan kan ek dit verkoop”. Wat, vra ek? “Klere, koper in die ‘leads’, ‘blushers’ en ‘make up’ wat ek aan die prostitute verkoop. Vol pakke macaroni. ‘Ear phones’ wat die witmense weggooi”. Sy praat en kyk na ‘n bottel sjampoe. “Nog genoeg hier in” sê sy.
Sy het ‘n ding teen die ‘foreigners’. Hulle wil nie genoeg betaal nie. Iets is R 20 werd, dan wil hulle net R 3 betaal. “Our country was not cheap…you make South Africa cheap”, vertel sy hulle.
“in ‘n ‘split second”, gaan sy aan, “het alles verander. Ons het nie geweet die Man daarbo gaan so vinnig omdraai nie…Ek het niks meer nie. Verstaan u?”.
Sy was werksaam in ‘n klerefabriek. In ‘n ander tyd. ‘n Beter tyd. Toe begin die besighede toemaak. Washiela moes op straat bly. Haar kinders. Een is by die pa. “Hy is ‘n jôller…ek kon nie bly nie. Haar ma, haar niggie help met die vier kinders. Haar oudste kind is 21. Die ander is 12, 6, 4 en 2 jaar oud.
Sy bly nou in Blikkiesdorp in Delft. In ‘n blikhuisie. Sy moes eers op straat bly om te kwalifiseer vir daardie blikhuisie. Sy geniet die pratery, lyk dit my, maar sy bly werk werk met die hande deur die volreuk swartdromme. “Hier is lekker speelgoed vir die kinders”, sê sy en haal ‘n blou water ‘gunnetjie’ uit vir eenkant sit.
Waar op straat het sy gebly? Onder brûe, by die taxi rank. Sy slaan oor na ‘n saak wat haar naby die hart lê. “Meneer moet kom kyk as ‘law enforcement op die straatmense toeslaan. Meneer moet daar op die brug staan en kyk hoe werk hulle met die mense…en dan moet meneer dit vir die koerante gaan vertel”. Hulle het haar ook lank terug gevang, kaalvoet haar gegryp en haar 2 jarige seuntjie agtergelos. “Verstaan u?”vra sy my.
Daardie straatmense kom uit goeie huise sê sy. “Most of them” vertel sy en kyk my ernstig aan. “Hulle sê daai mense is bergies, maar dit is nie so nie…Mens moet op straat bly om te sien wat is regtig die lewe…sien lewe…laat lewe”.
Sy glimlag. “Ons het ‘close’ geraak. Ek het vir hulle kos gebring…hulle het gesê ek is hulle ma!”.
Hoe het sy begin om vullisdromme te begin deurgaan vir ‘n bestaanswyse? Sy het probeer werk kry by ‘Cleaning Companies’. “Ek hou baie van skoonmaak meneer”. By baie plekke het sy probeer. Ook by die ‘Council’ seker meer as 50 vorms ingevul. “Maar hulle vat net die Africans aan…die Man daarbo het vinnig omgedraai…miskien draai hy weer vinnig om?”.
“Ek weet nie wat dat ons kan werk kry nie”. By ‘n verkeerslig sal sy nie staan en bedel nie. “Nee, nee meneer…ek is jammer…nie…huh uh…nee dit sal ek nie doen nie. Van my ‘point of view’ sien ek daai mense wat niks dink van jouself nie. Dit is eintlik nie ‘pride’ nie. Wat kon ek doen? Ek wil nie ‘n prostituut word nie…Nooit nie! Nooit nie! Ek sê nee dankie!”.
Die skraal vroutjie praat en praat, en ek skryf en skryf, maar sy bly krap in die dromme. “Ek moes my ‘pride’ bymekaar skraap om in die dromme te krap. Dit is nou my ‘living’ dié…Kyk hoe mooi is dié ding…sien jy kry mooi goed hier in”. Sy wys my ‘n glasdeksel wat splinternuut lyk. Daar is nie ‘n bak by nie. Seker gebreek, vermoed ek terwyl ek my verwonder oor die dapper klein mensie voor my.
Sy wil nie in die bruingebiede se dromme gaan krap nie. Hulle is nie so skoon nie, sê sy. Ek stel dit aan haar dat hulle ook miskien minder goed het om weg te gooi. Sy kyk aandagtig na my. Dan stem sy geredelik in dat my bydrae wel ‘n mate van meriete het.
November, Desember is die beste tye vir drommewerk. Dan gooi mense baie goed uit. “Vir Krismis…die ou goet…hulle koop nuwe voorkamer goed…dit is net jou geluk as jy daardie dag daar is…Mens kan nie kla nie”.
Haar vriendin Jo-Anne is siek vandag. Maar Jo-Anne is mal oor drommewerk. Washiela lag. “Sy hardloop sommer vir die dromme. Ek bring haar volgende week saam.” Sy het reeds ‘n twintig rand noot van my aanvaar wat ek vroeg vroeg aan haar aangebied het en aanvaar sondermeer dat ek die koerant gaan kry om al hierdie ongeregtighede van die lewe te ondersoek. Ek word inteendeel so nou en dan op die mou getik om haar uitsprake te beklemtoon en seker te maak dat ek genoeg aandag gee. Ek doen.
Hoe gaan dit daar in Blikkiesdorp met haar? “‘n Mens kan nie jou laaste stukkie brood vir mense gee nie want jy weet nie wanneer jy weer gaan kry nie…die mense is almal baie arm. Jy sal doodgaan in Blikkiesdorp”. Sy en ook die ander mense gaan laat middae en vra die groente en vrugtehandelaars vir oorskiet appels en so.
Die Gift of the Givers kom gee darem kos daaruit. Ook die Moslems op Saterdae en Sondae. Partykeer. “Hulle gee vir ons so ‘n bakkie kos”. Sy wys so ‘n ronde klein bakkiehande. “Verstaan u?”.
Dit wat sy nie verkoop kry nie, vat sy saam terug Blikkiesdorp toe en gee dit daar vir die mense. “Wat nodig is daar”, sê sy, “is ‘n ‘program’. Almal wil iets doen. Ons het reeds so gesit en gesels nou die aand. Ons moet so gehelp word”.
Sy vertel my daar is mense wat kom fotos neem van die mense se swaarkry om dan oorsee ‘sponsors’ te kry. Maar na die ‘photos’ kom daar geen geld uit in Blikkiesdorp nie. “Hulle praat praat en dan vat hulle daai geld”.
“Hierdie is my ‘living’. Ek verkoop die goed aan die ‘foreigners’ wat so min wil betaal. Kry sy darem ook soms lekker kos uit die dromme? Sy gril sigbaar. “Die toe pakke, nie die oop pakke en sakke nie”. Sy het haar trots verduidelik sy. “Verstaan jy”. Ek hoor die aksent wat van u na jy verander het, en ek voel lekker daaroor. Nou is ek ook ‘n ingelyfde. Ek kan amper begin help!
Maar ek bly meneer vir haar. “Ek hou van skoonmaakwerk, meneer”, herhaal sy. Meer dringend hierdie keer. “Wat kan mens doen om aan geld te kom?”, vra sy. “Dit is vandag wie djy ken…hulle sit in die ‘parliament’ om te steel van die ‘government’, gee sy my ‘n politiese en ekonomiese les. “As ons net ‘n kans kan kry om vir onsself te bewys” sê Washiela en kyk my ernstig aan. Daar is ‘n vraag in haar oë. Ek ‘cringe’ in my binneste en sê vir haar dat miskien is daar mense wat van hierdie dinge gaan lees.
Later stap ek weg en sy gaan nog aan om dinge uit te sorteer. Ek hou haar dop deur my venster. Party goed gaan in haar klein rugsakkie. Ander in ‘n plastiese sak. Twee werkers kom aangestap. Een gaan sit eenkant. Die ander een begin met haar praat. Sy gee die splinternuwe glasdeksel oor vir hom. Nog iets kleinerig. Dit lyk my as of dit dan moet betaal vir haar reg om daar deur die vullisdromme ‘n lewe te probeer bymekaar skraap. Haar ‘body language’ lyk meer broos, maar sy gee die dinge oor en dan stap sy af die straat.
Sy is oppad na die prostitute, die ‘foreigners’ en dan gaan sy terug Blikkiesdorp toe.
“Verstaan jy meneer?”.
Twee weke later stap ek by die opgaarplek van vullisdromme verby. Daar is ‘n hopie bruikbare artikels eenkant gesit. Diegene wat toegang tot die fasiliteit het, het nou reeds hier vir Washiela voorgespring. Wanneer sy by die vullisdromme kan uitkom, sal dit gestroop wees. Sy sal dan opnuut verder afwaarts in die stortterrein van die hopeloses gewerp wees.
“Verstaan jy meneer?
Wim van der Walt