Ek word, ‘n aantal jare gelede, vertel van ‘n nuwe DVD winkel in Durbanville. ‘n Ander soort as dié wat mens met gemoedsdepressie laat oor die omvang van Hollywood se meestal bitter vlak kolonisasie van mense se sielsvermaak. Maar daai DVD winkel in die systraatjie, dit is nou ‘One Thousand and One Movies To See Before You Die’ huiwer anders. Wanneer mens daar instap sien jy dadelik twee dinge. Rakke vol DVD ‘covers’ van films wat biltonggedroogde siele van huil kan laat biggel. Blydskap deurdat daar dan ten einde laaste op planeet aarde lewe te vinde is.
Tweedens sien jy ‘n rare uitsonderlike figuur agter die toonbank wat professionele fliek ‘connoirseurs’ en ons leke van mekaar skei. Alex van Zyl is sy naam. Hy is goed bles. Lang deurmekaar hare, ‘n borsel se moses, oë wat lyk na die see net voor dié se deining leer om soos ‘n brander te breek. ‘n Intensiteit wat instinktief onder die standaard radar van gewone middelklasbestaan wegglip. Die klere wat hy aan het is nie onlangs by Edgars gekoop is nie. Ek vermoed vroeg reeds dat hy so iets waarskynlik hoogs immoreel sou vind.
Nadat ek ‘n paar keer in totale ekstase DVD’s van ongekende gehalte uitgeneem het, “Turin Horse”, “Burned by the Sun”, ook Fellini se skeermes meesterstukke, vir die soveelste keer alle Coen Brothers flieks waarop mens ‘n hand kan lê, begin ek met Alex ‘n gesprek voer. Hy het op ‘n Stellenboschse plaas groot geword. Daar het die SAUK wel met Saterdagaandflieks ‘n kind se knorkop aan die gang gesit. Bladerunner, The God Father en so. En op sy ma se boekrak het hy groot geeste soos Ettienne le Roux ontdek. So het sy leefwêreld vorm begin aanneem.
Hy was vir een volle week ‘n universiteitstudent voor hy gekaputileer het. Vir ‘n jaar bloot op die plaas gesit en lees. Skryf. Ver weg van gebaande uitgewers ook ‘n ‘underground’ skrywe uitgegee. En toe vir lank het Alex op ‘n wynplaas gaan werk . Mense laat wynproe. Soms het hulle dit ook uitgespoeg.
Soos dit maar soms in die lewe werk, ontmoet hy toe ‘n soortgelyke onrustige gees op Stellenbosch. Werner de Swardt het ‘n DVD winkel in die ou stasiemeester se huis begin en toe Alex daar instap het hy geweet dat sy tipe mens daar sou kon ‘funksioneer’. Daar was flieks wat ‘Outsiders’ soos in Colin Wilson se boek, kon laat voel dat hulle inderdaad nie sertifiseerbaar is nie. En so het hy van die ‘Ford’ voerband afgeklim, respekte betoon aan Charlie Chaplin en ingesink in ‘n lewe waar meevoeling met die wesentlike van die lewe veel meer gewig dan blote materiële prestasie ingehou het. Naas die gestoei met meester fliekmakers het hy ook begin om sy kompulsiewe boekery op te bou. Samuel Beckett ‘wie se sinne soos ‘n sambok klap’. Skrywers wie se skryfstyl ‘n ‘attitude’ het. Hy haal Louise Brooks aan, “I am to be the world’s most wellread idiot”. En hy vertel dit so ernstig oor dat ek vermoed dat dit presies sy maatstaf van ‘n geslaagde lewe sou wees. Aangevuur deur sy kennis van flieks en boeke, vra ek hom of hy sou saamstem dat die mooiste titel ooit vir ‘n boek, en ‘n fliek, van Milan Kundera kom, ‘The Unbearable Lightness of Being”. Hy knik beleefd kop, maar ek vermoed dat hy nou so met my maak soos wat hy gemaak het toe ek Ondaatje se meesterskap besing. Hy sê dat ‘The English Patient’ baie netjies geskryf was, ‘alles is waar dit moet wees’ en ook dat die boek en die fliek net mooi niks ingemeen het nie. Gelukkig het die fliekfilm-argiefbrein nog nie Ondaatje se verdere oevre verken nie. Ek is daarmee verlig. Geen bliksem kan darem alles in een lewe bemeester nie.
Daar kom ‘n verde interessante ander aspek in sy bestuur van die DVD winkel na vore. Hy sal die winkel oopsluit, na die stil stoet swetende flieks op die rakke kyk en daar en dan besluit om die orde van dinge opnuut om ver te werp. Dan vaar hy tussen die rakke in en ‘colour code’ die voorblaaie van die ‘covers’ om langs mekaar te kan inpas. So is die ‘resident artist’ dan aan werke. Op ‘n ander keer kyk hy na die figure op die voorblaaie en begin hulle so langs mekaar inpas dat die gesigte ter sake in gesprek met hulle van die voorblaaie langsaan kan begin verkeer. Eindelose plesier, eindelose verlange om dinge bymekaar te bring sodat niks verlore mag gaan nie. Ander kere weer ‘directors’ wat hulle siele op ooreenkomstige eilande opgetel het.
Tussendeur kom daar nog ‘n mens by die toonbank aan en sê dat sy nuut daar is, maar hierdie DVD wil huis toe vat. Alex help haar, daar is weinig ooreenkoms tussen sy styl en dié van jou standaard Dale Carnegie verkoopsglimlagte by winkeltoonbanke. Miskien pyn dit hom dat daardie DVD nie daar gaan wees wanneer hy vanaand laat die winkel sal moet toesluit nie.
Ek vra hom, en hy beaam dit, dit is oorwegend vroue wat ‘art nouveau’ –agtige DVD’s uitneem. Ons bespreek nie die hoekom nie, maar ek weet ons bedink dit want vir ‘n minuut of wat is daar ‘n soort van ‘n stilte. Dan sê hy dat daar wel ‘n formule bestaan waarvan verloofdes behoort kennis te neem voor hulle trou mag begin oorweeg. Dit het hy al dikwels gesien. ‘n Man en sy meisie kom in om ‘n DVD uit te neem en dan ontaard dit ‘n stille oorlogsvoering. Hy bring een wat met die minste mate moontlik van ordentlikheid verwerp word, dan wanneer hy syne teruggesit het en sy bring haar keuse aan vir die geliefde se oordeel, is hy reg vir haar… Dit vat twee verskietende sterre se onderdrukte woede lank voordat daar tot ‘n vergelyk gekom word. Teen daardie tyd het Alex al die toekomstige egskeidingsklok daar van agter die toonbank gehoor begin klingel. Hy sê mense moet eers saam DVD’s in gemaklike ooreenstemming kan uitneem voordat dinge anderkant blote basiese passie kan bly werk. Halleluja!, beaam ek die ghoeroe se wysheid.
Dan vat hy eers vlam. Hy sê dat DVD’s soos virusse werk. Dit raak tydelik deel van jou DNA wanneer jy daarmee besig is. Dit betrek jou murg. Subliminaal. Maar dit is nie net tydelik nie. As die kompleksiteit van die voorgehoue lewe jou so ingedring het, laat dit nie weer los nie. Dit steek vir ‘n leeftyd vas in een voortdurende gebroei met al die ander boeke en flieks wat kom en weer gaan. Sonder daai tipe flieks en boeke is ‘n mens se DNA maar basies ‘n arm ding. Dit is seker hoekom vroue voorgaan om nuwe kontinente te ontdek.
Maar, anders dan in Stellenbosch, bring ouers hulle kinders saam om in hierdie DVD winkel verbeelding te kom uitneem. Hoekom so?, maar ons laat die vraag eenkant toe en praat oor die tipe mense wat kom DVD’s huur. Daar is wel hulle wat DVD’s kom soek om na te kyk terwyl hulle daarmee saam kan bly stryk, maar dit is dikwels die laaste halfuur voor sluitingstyd mense wat hom psigies die meeste uitput. Hulle kom vervaard in met die nag wat buite soos ‘n swart depressie lê en dan wil hulle daarvan gered word. Dan moet Alex van Zyl in ‘n dieptepsigoloog verander wat vinnig moet dink, raak op moet som en dan wanneer die ‘pasiënt’ die spreekkamer verlaat, staan hy wonder of hy sy professie reg beoefen het. “Oomblikke wat baie ‘tight’ gepak is”, noem hy dit.
“‘n Mens weet nooit hoe ‘n dag gaan verloop nie”, vertel hy verder. Jy begin ‘n dag opgewonde en geïnspireerd en dan eindig dit so dat jy omgekrap is. “Hierdie tyd van die dag, hierdie soort mense”. En dit is net jy wat weet van die omvang van die heiligheid op die rakke, en dat die regte heiligheid vir die regte mense hoort gegee te word.
Ek vra hom die oer vereenvoudige vraag. As jy nou verban word na ‘n eiland waar daar darem ‘n DVD speler vir jou wag, watter paar DVD’s gaan jy daarvoor gryp? Hy antwoord sonder nadenke. Tarkovsky. “Ek het hulle lekker in ‘n omhulsel. Dit pas lekker onder my arm in… Tarkovsky”.
Ek vra waar staan Tarkovsky op die rakke. Ook ek het iets vir my eiland vanaand nodig. Die ghoeroe gee dit aan my oor sonder enige sprake van ‘n glimlag. Hy wonder seker of hy mense met hierdie heiligheid kan toe vertrou? Maar ook kan hy nie anders nie.
Wim van der Walt – Bellville