Victoria Wes

Hierdie, is ‘n ou, ‘n baie bitter ou en so mooi, so bitterlik mooi, pynlik mooie ou Karoo dorp. Diep in die ou grou Karoo ingegrein. ‘n Diep ou Karoo bitterdou dorp wat diepnag soos ou manne en ou vroue vergeefs vir iets onverstaanbaar krul. Die diep nag se groot groot baie verlang. Baie stiltes wat wyd, so bly skrou in die diep, oer oue Karoo nag.

‘n Dorp wat, wat vlaktes strakdiep laat sug, oor hulle, hulle almal wat hier so in verlange vir ‘n lewe naglangs gelê, gelê, gesweet het, gedroom, so wydwyd gedroom het, so vir alles gewag het. Daar was partykeers ‘n volmaan. Snakmooi. Net die Karoo kan so stil bly dat die maan se huil gehoor kon word. Tot daar in die kolletjie van ‘n mens se maag wat nie geweet het waar kom hierdie oergevoel vandaan nie. Hierdie dorp, wat ‘n paar eeue nou al skreeu vir ‘n houdbare lewe.

Daar van Beaufort Wes se kant loop ‘n Asperger’s teerpad, dit pyn langsaam by baie aanhoudende bossies verby. Dit koes vir die wydte van hierdie rotskoppie wat ysterklip wyd opdoen, dit buig voor hierdie duiwelsdiep karoobossie berg wat met ‘n klam verhemelte vir ‘n verkrummelende hemel soos vir ‘n mooi ewigheid bly sing. Dit swaai weg van ‘n sielsgekliefde vlakte, ‘n wydste wydte van ‘n stom vlakte wat krulbos rol van verlange. Dit krul om die stom voorkop koppie se trae strak gang, dit snak vir Vicky, vir Vicky Wes. Vir Victoria Wes wat vir ‘n oomblik op snakasem kennis, kontakmaak,  groot vreugde wil raak, wat dan skielik ‘n ongekerkde verlange vir jou, vir jou verby laat hou om met die stilste van ‘n nag arm stadig, so bitter stadig bly bly vir iets van lank gelede of oormore verby te dui en uit warmlugverlange bloot te bly waai en waai.

Jy ry af om die dorp, Bernie hulle se huis links teen die rand, onse een in die vlakte, om vir Victoria Wes in lewer eerlike essensie te tref. Jy voel dit. Jy onthou dit. Die kaalvoet kinders wat groottoon strate met kaalvoete en kaalvoetharte, gestamp, aangedurf het. Die praat die praat, die swembad se water. By die Kruitkoppie en ook anderkant in die lokasie van toe waar niks elke dag vir mense soort van ‘n naam was.

Verlange. Victoria Wes. Hulle is ‘n tweeling V. Kinders in strate. Kinders in die groublou biblioteek wat ‘n boek vir die vorige nag se emosie moet vind. Op boekrakke. Of in ‘n kelder waar verskeurde bladsye vir verlore woorde iewers en elders soos vir heiligheid of iets, bly soek het. En te baie ander daar buite wat maar net met die Karoo se sand en met ‘n mensehand hopies van hopeloosheid gemaak het.

En die berg, die Victoria Wes naam getatoeërde strak bossieberg, dit kyk en kyk. Want dit kan nie anders nie. Somber en wyd, wyd, bly vir een mens daar onder, vir twee, vir alles. Dit bly vir alles en almal uitkyk. Hoe die son styg, hoe die son weer soos ‘n verlore god begin sink, hoe die son soos ‘n bloedkind, ‘n bloedbad, sterf. Halms en walms wat aanpak. En dit is net ‘n berg wat weet. Hoe dit voel, hoe voel dit wanneer‘n son besluit om weereens vir altyd, tot more aand, te sterf. Om vanoggend van vanaand te weet. Weer en weer te repiteer. Hoe, moet ‘n berg oor dinge anderkant uit probeer dink? Hoeveel kraterslae moet ‘n berg soos ‘n man, soos ‘n dapper vrou, kan vat? Hoe om dit wat bly sterf vir fynvel mense moontlik te maak om uit te staan. Godweet, daar word te veel van ‘n Karooberg verwag. Maar Karooberge is bitterlik dapper. Dit probeer hulle se bes. Vir langer al as ‘n ewigheid. Vind as jy kan, ‘n Karooberg wanneer die eerste reën van die jaar druppels begin maak. Mense het wange. En berge het wange ook. Mens weet nie wie eerste begin huil nie.  

Victoria Wes. Koppies en strate. Vlaktes wat bromkla om ook gehoor te word. Die maan wat teen die glas van nagvensters kom kap kap om te sê, ek is hier. Ek is hier. Waar is jy? Waarom is ons, jy en ek, ons altwee hier? Daar is ‘n skitterende aandster. Daar is ‘n morester. Kom kyk hoe ons saam kan lag! Los huil vir more.

‘n Appel het een keer op Aristoteles, of Einstein, of Newton, of William Tell, of Sokrates, verseker op Bruce Springsteen, Bob Dylan se kop geval. Maar in Vicky Wes, het ook appels geval. Op mense se koppe wat in die lokkasie, of in Landboustraat, iewers ‘ n lewe probeer maak het. Aia Mieta, ek onthou vir jou, die muskiete in ‘n kas. En ‘n kaalvoetseun wat kennis neem van ‘n inheemse heroïese geveg van ‘n baie dapper vrou. Aia Mieta. Griekwa godin.

Die Karoo probeer sy se beste. Die mense, hier en daar en orals, is maar half swak, maar hulle probeer ook almal maar net. Soos mense maar maak. Maar die koppies, en die maan, en die vroegoggend son, daar in die diepte van die Karoo, sal vir heiligheid, soos ‘n godheid,  bly skyn. En ons wat dit aan ons velle en ons siele dra, wat dit ken, wat van dit weet, ons sal ons rugge regop en sterk maak.

Want die Karoo, die Karoo, is ‘n wonderlike bliksem. Binne in sy, haar, kermende derms sal ons, gebore in oergelukkigheid, soos ‘n ondermaanse dapperte, bitterbly voort en wyd bly ry. Al kante toe. Nag Victoria Wes. Vicky Wes. Nag my dierbare dorp. 

My kaalvoete, kabbel vir altyd jou verlate strate,

Wim van der Walt