Een. Ek drink my koffie klaar in my hoofkantoor en oppad uit stop ek inpromptu by ‘n tafel. Sê vir die man en vrou daar dat ek sommer gereël het dat my rekening by hulle tafel s’n bygevoeg word. Hulle kyk my verbaas en grootoog aan. Is jy Afrikaans?, vra die man my? Hoekom wonder ek. Ja, sê ek. Sê,vra hy, ‘Is alle Kapenaars so?’. Dit blyk toe dat ons ‘n paar kilometer van mekaar lank gelede gewoon het. Hulle in Benoni, ek in Kempton Park. ‘n Baie grênder plek. Vra ek hulle of hulle weet wat beteken Benoni? ‘Nee?’, sê hulle. Glimlag ek soos ‘n archeologiese professor na hulle kant toe. ‘Seun van my smarte’ praat ek en kyk of die res van die gehoor in die koffiewinkel van my verhewe insigte kennis geneem het.

‘Is alle Kapenaars so?’, vra die man terwyl ek begin agteruit loop. ‘Nee’, antwoord ek. Koebaai.

Twee. By die woonstelle waar ek verkope en verhurings doen, kom twee klein swart seuntjies na my kant toe gestap. ‘My bal het daar afgeval’ vertel die een grootoog jongman my. Ek sê, ‘Kom ons gaan soek dit?’. Die twee stap saam af. Ek identifiseer, soos in my dae in die Eerste Wêreldoorlog dinge. ‘Daar lê die bal onder die voorwiel van daardie geparkeerde motor’. Die lightie buk en vind sy bal terug.

‘You show people where to live’, gee hy my sy akute indrukke van my. Ek beaam.

‘Can we come with you?’, wil die  verveelde twee jongmanne weet.

‘No’ I replied.

Maar, hier is ‘n gesonde vriendskap in wording. As mense maar net mekaar so in die oë kan kyk soos ons drie, gaan ek voorwaar nog Kanselier van Werklik Groot Dinge word.

Wim Audi Alteram Partem van die Walt