Xperia X2 Images

Die verhaal van twee Bruin Kaapse kunstenaars

Ons sit om die tafel in Bellville Biblioteek se Koffiewinkel. Twee talentvolle, maar sukkelende kunstenaars en ek. Henry de Leeuw is gebore in 1953 en het in Bellville Suid grootgeword. In die tyd wat apartheid ’n formele werklikheid geword het. Sy leerling en nou ook vriend, Paul Daniels is in 1975 gebore. Hulle verteenwoordig twee verskillende tye van diskriminasie en beleef nou weer ‘n derde saam.

Henry bedoel eintlik iets meer eksistensiëel daarmee, maar op ‘n vreemde manier is dit ook weer toepaslik op die tye wat ons nou sit en bepraat.  “Ek noem myself drie mense”, sê Henry. “Ek het nog net twee ontmoet”, kwinkslag Paul blitsvinnig.

Henry kyk my aan met ‘n wysheid wat mens nou eintlik eers anderkant vyftigjaar oud begin agterkom en vertel van hoe daar voor 1948 ‘n ou apartheid was. Witmense en Bruinmense het deurmekaar gebly. Veral die gewone mense. Bellville Suid was ‘n ‘mixed’ area. “Die manne met die plase was eintlik die base…maar gewone witkinders en bruinkinders het saam skool toe gegaan, maar as die klas uitkom het ons apart huis toe gegaan”. Daar was dog wedersydse respek.

Maar dinge het maar gebly gebeur. So is daar baie later selfs bo oor die ‘German’ begraafplaas ‘n supermark gebou. Sy een oupa was ‘n witman. Maar sy ma moes alleen vir daardie familie gaan kuier. Haar kinders mog nie saamgegaan het om vir die wit familie te gaan kuier het nie. “Die krane was net daar afgedraai”. En is gesê, “Julle vat julle nonsens daardie kant van die draad toe”.

Daar was egter sterk mense wat daarteen bly baklei het om minderwarig gesien te word. So was sy ma. En ‘Nurse Mona Liza’ wat met ‘n ‘bicycle’ na mense se huise toe gery het om daar te gaan help waar vrouens swaar aan geboorte gee was. My hand bewe ‘n bietjie en my linkeroog traan bietjie oor daardie vrou wat ‘n fiets hard getrap het om in klein gehuggies babalyfies die lewe in te gaan aanhelp het.

Die bruinmense kon nie soos die ‘Muslims’ besigheid bedryf het nie. Ook nie soos die Indiërs nie. Hulle was teruggehou. Daardie ander mense was meer witterig in die gesig of van ‘n ander ver regtige land.

Paul kom in die gesprek in. Hy vertel met trots van sy oupa. Hy het drie uur in die oggend opgestaan om te gaan werk. Altyd netjies. Gebaadjie, al het hy nie gewerk nie. Sy skoene was altyd ‘Tony Red’. Mens kon jouself daarin soos ‘n spiëel sien. Ge’dress’ het hy by die huis teen die muur gesit en die kinders dopgehou. Dan roep hy die drie boeties nader. Paul en sy broers. Dan moet hulle teen die muur staan. Niemand mog beweeg het nie. Niemand mog afgekyk het nie. “Dit is net skelms wat afkyk”, het sy oupa altyd gesê. Dissipline. En dan het hy gesê, “Kom onder my oë uit”. Dan het die ‘lighties’ laat spaander. Maar hy het ook vir Paul gesê om sy kitaar en sy saksofoon nader te bring. Dit dan bespeel, al was sy een vinger af. “Jy let nie op nie!”, het hy vir Paul gesê.

Onder swaarkry is die beginsels om te oorleef vir hulle geleer. Fokus, netheid, deursettingsvermoë. Rondom het vele van die gemeenskap moed opgegee. Drank, ‘gangsters’.  Die ‘gangsters sê, “Dit is ‘cheaper’. Toe en nou. Makliker om net te vat en te laat spat. Die trots, inbors, het verlore gegaan. Hopeloosheid het die gewete verdrink. Maar, het Henry se mense gesê, ‘Moenie my ‘twice fise(five)’ nie en ‘n gedeelte van ‘n verinnerweerde gemeenskap het net aangehou aanhou.

Henry vertel hoe hy kleinklein ‘n stukkie aarde voor hom plathand in platsand omskep het. Dan het hy daarop geteken. Diere. Dinge. Hy mog nie die bladsye van die boeke wat hulle by die skool gekry het vir teken gebruik nie. Dit was vir belangriker dinge gebruik. Briewe, gepleit vir werk. En so.

Maar hy kon mooi teken. Koeie, perde. Die juffrou het dit op skool raakgesien. “De Leeuw teken mooi”, het sy gesê en hom ingeskryf vir ‘n kompetisie. Die Colgate kompetisie. En toe wen hy. Teen die hoërskole ook. Hy word gekies om by die Ruth Prowse kunsskool te gaan studeer. Sy ma wou niks daarvan weet nie, “Jou pa is ‘n ‘painter’, my kind is nie ‘n dronklap soos sy pa nie”. Niemand kon haar oortuig dat hier van ‘n ander soort ‘painter’ gepraat word nie. Henry sê egter dat hy nie spyt is dat hy toe kuns op die harde manier moes aanleer nie.  “As ek dit maklik gekry het, sou ek nie hier gewees het nie”.

Paul vertel weer dat sy broer so reguit lyne kon trek dat dit gelyk het asof ‘n liniaal dit gedoen het. Hy word toe op skool ingeroep en daar word toe gesê dat hy oneerlik in die eksamen was. Voor hulle word hy toe ‘n ander vraestel gegee. Hierdie keer kry hy nie 100% nie. Net 99%.

“Enige ding het ‘n begin en ‘n ‘vanishing point’, leer Paul toe by sy broer. Hy leer om ‘steady’ te teken. Wanneer daar kinkel in sy kuns kom, is dit doelbewus. “Ek buig my werk vir ‘n rede” vertel hy.

Dan vertel Henry weer verder. ‘n Paar dekades terug in die verlede. Op 34 jarige ouderdom sit hy sonder werk. “Dit het ‘n bietjie afheuwel gegaan by die huis. Ek moet ‘n ‘way’ vir myself kry”, besef hy. Hy gaan werk toe by ‘n winkel met die naam Artes. Hy word ‘n ‘frame’ maker, maar die mooi papier wat opgeskeur word, vat hy deurentyd huistoe. Hy begin bietjies bietjies verf koop en skilder. En by die winkel begin mense sy werkies koop. Vir R 20. “En ek dink toe ek maak geld!”, glimlag die man met die dringende oë na my kant toe. Hy vertel van Lionel Davies. Dit is tye van politiese frustrasie, persoonlike frustrasie. Die man wat sy tekeninge terug bring huis toe en dit dan daar op die stoep sit en opskeur. Die eeue oue refrein van die begeesterde geeste wat droom, stoom, hoop, teleurgestel word en dan hulle werk verwoes, of hulle ore afsny of met sakke vol klippe ‘n rivier inloop. Goeienaand Vincent. Goeienaand Virginia. Die tenger dans tussen lig en duisternis.

Henry het in biblioteke gaan rondloop om kunsboeke te bekyk. Dan dinge gaan uitprobeer. En dan wanneer hy ‘n kans kry, het hy sy werk gaan aanbied. Eenkeer in Bellville, het die kunswinkel se eienaar sy handlanger aangesê om Henry by die deur te stop.

“Ek sit my voet in ‘n deur wat bietjie oopstaan…dit is nie toegemaak nie”. Hy skep, sy werke verkoop, maar gaandeweg kom hy agter dat daar hiërargiese ordes in die kunswêreld bestaan, die gekultiveerdes, die ‘have’s’ en die ‘have not’s’, die subtiele uitbuiting van kunstenaars wat nie ‘n aura rondom hulle opgebou gekry het nie. Die mag van geld wat ook nie die kunste, wat ons siele lewend moet hou, respekteer buiten die geld wat daardeur geskep kan word nie.

Paul kom op ‘n dag by Henry uit vir kunsklasse. Henry leer hom, “Hou op verf…teken…teken…! Moenie net verkoop nie. Hou vas nou, wag…as jy nou verkoop dan weet niemand van jou nie…werk na ‘n ‘exhibition’ toe!”.

Die twee kunstenaars sit en deel hulle verlange om vry te kan skep, Ons drink koffie, Henry drink net water. Hulle was kleinklein misken. Hulle het teen alle ‘odds’ kunsvaardig geword, ‘n mate van erkenning gekry, maar nou bestaan hulle steeds, na baie dekades, as randfigure in die kunswêreld. “Hulle weet nie wie ek is nie”.

By ons stap jongmense verby die kunsgallery binne. Met hulle eie innerlike geroepenheid om gehoor te gee aan die profetiese hunkering, te luister na die fluistering van die muses, om verbeelding terug te gee aan ‘n wêreld wat een dimensioneel, versonke in materialisme klakke sintuiglikheid aanhang. Henry en Paul vertel en vertel van skilderye wat wag om gebore te word, van stories wat verwoord wil word en die hoop dat ‘n mens met kuns menswaardig mag bestaan.

Dan later stap die twee manne uit. Paul om in sy slaapkamer te gaan skilder. Die leefvertrek word vir ‘ n ‘creche’ gebruik. Henry om sy kleinkind te gaan oppas. Buite het ek ‘n parkeerkaartjie gekry. Netnou sluit die biblioteek en die gallery. Dan moet al daardie dromers daaruit padgee. Maar hulle vat nog ‘n bietjie terugveg saam na hulle huise toe.

“Moenie ons ‘twice fise(five) nie”. ‘n Ou verontregting. ‘n Ene wat met vandag reeds in more bly vasloop. Maar hulle sal bly om drome te beteken.  Al is dit met stroke strepe in die Kaapse vlakte se plat sand. Want ‘n mens se siel is ‘n siel.

Wim van der Walt – Tygervallei