‘To be, or not to be’, het Shakespeare gesê.
To have, or to be’ said Erich Fromm
Daar is minstens een goeie ding daaraan om oud te begin word. Met baie stampe en stote begin mens ten minste om met ‘n minder gulsige en/of oorgretige oog na die lewe te kyk. Om minder maklik bloot ‘n onkritiese ideologiese poppemarionet te wees. ‘n Mens begin ander mense raak te sien vir wat hulle is, en behoort te wees, en met meer bewustheid dat hulle ook nes jy en joune, met ‘n harde meedoënlose geveg vir oorlewing besig is.
Ons ouer geslag het wyd gejuig toe Kommunisme die gees gegee het in die laat 1980’s, want toe het die Kapitalisme ‘finaal’ geseëvier. So was ons saam oortuig dat ‘n ekonomiese stelsel wat entrepeneurskap en die najaag van persoonlike gewin as lewensideologie voorgehou het, die gepaste morele oorwinnaar was. So is ons na alles van kleinsaf geleer.
Die meeste lesers van hierdie koerant se ouers, of hulleself was ‘Baby Boomers’. Na oorlogse babas wat die enorme ekonomiese opswaai vanaf die 1950’ vreugdevol kon ervaar. Daar is ‘gadgets’ gekoop, en karre, en huise, dat die stof staan. Ons het sukses begin meet aan ons vermoë om kompeterend aan die ideologie van private verryking deel te neem. Om die oorwinnaars in besigheid, sport, as hoogste maatstaf van menslike prestasie te erken. Die spreekwoord, ‘Nice guys come second’ is van pa tot seun oorgedra. ‘Hond eet hond’, sou die noodwendige konsekwensie van so ‘n lewensbenadering wees. Meer subtiel gestel, maar met die nodige verskanste deurvoering. En as ons ‘n boksheld gehad het, en ons het, moes hy nie met punte wen nie, hy moes die teenstander verwoes, bewusteloos slaan soos in halfdood. Dodelike kompetisie in alles. Wat ons al hoe meer nie gesien het nie, was dat ons siele, ons menswees ernstig skade begin ly het.
Soos Shakespeare gefilosofeer het, wat is dit dan om mens te wees? Hierdie brose, dog waardevolle kortstondige hierwees op aarde? ‘n Paar honderd jaar later het Erich Fromm hom betekenisvol geantwoord. Ons kan volstaan daarin om dinge te vergaar, mooier motors, huise, wasmasjiene, yskaste, stofsuiers, meubels te koop, en dan ook sommer mooier vroue en golfstokke. Ons het voorts daarin geslaag om ons serebrale vernuftigheid goed aan te wend om die finansiële stelsels, die belastingstelsels te omseil sodat ons maksimale houvas op ons gewigtige geldsakke kon behou. Ons het ook met skisofreniese geheues en blinde solipsisme daarin geslaag om daardie mense wat nie in gegoede middelklashuise groot geword het en gevolglik sonder goed geskoolde vaardighede die lewe ingestuur was, te pypkan en hoegenaamd nie empaties opgevang nie. Inteendeel, die lekkerte was eintlik dat daardie reuse gaping tussen ons en hulle dit moontlik gemaak het om goedkoop arbeid en selfs sluwe oorname van hulle benutbare bates te kon bewerkstellig.
Fromm het geskryf, dat dit ten koste van die essensie van menswees is om so te lewe. Wanneer materialisme en oorweldiging van die ander jou stille, ontkende (af) G_D geraak het, vreet daardie klatergoud jou van binnekant af op. Dit vat tyd vir verveeldheid, onrustigheid en nihilisme om deur die stortvloed van nog weer nuwe modes, nuwe fabrikasies van selfone en verstommende rekenaars te filtreer, maar dit sal. Dit doen.
‘n Mens kan nie jou siel met die oppervlakkige versameling van dinge bymekaar hou nie. Mens kan nie onbepaald by hopelose manne wat langs straathoeke staan en werk soek, en wat in verslaendheid nie weet wat om vanaand vir ‘n moedelose vrou en honger kinders te sê nie, verby ry en wonder wanneer jy jou driejaar oue Vier-by-Vier vir ‘n nog sterker model gaan inruil nie. ‘n Moraliteit wat ditself met dinge probeer verskans teen die kille gang van tyd wat na doodloop aanstap, is lank reeds op die glyplank na wesentlike verlies aan menslikheid. ‘n Mens wat ‘n ‘bargain’ met genot koop omdat ‘n ander mens dit ten alle koste moet laat gaan om te oorleef, het begin om gevaarlik na oer oorlewingsinstinkte oor te hel. Om besit te neem van ‘n ander. Jou tande in sy hoofslagaar. Dit is verskriklik om in ‘n karikatuur van ‘n mens te verander. En jou kinders kyk fyn en verander in tyd in hulle rolmodelle.
Daar is egter nog iets erger as dit alles. Ortodokse teoloë sien hulleself nie as fundamentaliste nie en skryf alle verval daaraan toe dat mense net doodgewoon nie opregte gelowiges is nie. As mense hulleself maar net wil bekeer, sal anders verander. Is die oorwoë siening tussen samehorige gelowiges.
Wat nie raakgesien word nie, is dat selfs die Misterie van die lewe as ‘n besitting aangeskaf is. “Ons het God in ons verstaanbare greep. Hy/Sy is ons s’n. Ons openbaring is die Waarheid, al daardie biljoene andersdenkendes praat bloot nonsens of is kinders van bose vergrype. En gewapen met die ‘Waarheid’ kan ons maklik ‘kruisigingstogte’ teen die ander onderneem.
“To have, or to be”, het Erich Fromm geskryf. Om moreel mens te wees tot in jou diepste wese. Nie ‘n supermens nie. Hulle bestaan nie. Net een wat nie anders kan dan om radikaal eerlik na alles, en veral na jouself te kyk nie. ‘n Soort wese wat nie weer bloot na primitiewe oorlewing kan terugkeer nie. ‘n Soort mens wat bly stoei, soos Sokrates gesê het, met alles wat jy is, wat jy was, wat jy wil wees. ‘n Soort wese wat besef dat ons almal van kleinsaf gekondisioneer is om na die lewe te kyk soos wat dit vanaf die eie plaashek lyk.
Eers as mens gaandeweg begin agterkom hoe vlak vloei jou riviere wat jy bodemloos diep geag het, kan mens werklik eers as mens ontstaan, moontlik ook begin bestaan. Wanneer ander se lyding nie langer geĭgnoreer kan word nie. Dan eers begin jy met brose aandagtigheid na die lewe, na alle mense kyk. Dan eers begin jou hart ongekwalifiseerd vir hulle almal pyn.
Dit is dan eers wat Shakespeare, en Fromm, en elke ander skrywer, elke digter, skilder, musikant, elke dromer, elke mens wat radikale menslikheid aktief najaag, se verlangende fluisteringe jou begin opval. En dan begin die saamsweet met daardie tipe profetiese geeste. Die aanvat van dringende gesprekke wat die watte van pretensieuse, modieuse groepstaal aftrek en daarna ook krokodilverdikte velle. Stoei stoei met alles en almal, om meer mens te raak.
Dan ook raak mens voorts verontwaardig oor die oppervlakkige snert wat op televisie en in rolprentteaters as kitsvermaak aangebied word. Omdat eendimensionele entrepeneurs so die mense se siele met stomp knipmesse kerf ter wille van kasregistergesange. ‘n Verontwaardige mens, wat sy/haar siel herontdek kan nie anders nie, begin die heilige protes om betekenisvolle lewe op te roep. Die inhoud aan dinge. Sodat mense se siele weer kan asemhaal.
So begin ‘n daaglikse afstand doen aan vervlakte omgang met die lewe en begin mens met erns ophou om mense, bates, die gode en die lewe te wil besit.
Dit bly nie daar nie. ‘n Mens wat die slangvelle van hom/haarself aftrek, kan nie langer bloot passief na alles rondom kyk nie. Begin aktief weier dat daar, soos Koos du Plessis gesing het, langer met die mense gemors word. Duld nie meer slu politici, slu besigheidsmense, slu regeringsamptenare, slu rampokkers wat jou stad oorvat en jou mensekinders met geleidelike verslawing tot geraamtes van mense maak nie. Jy duld nie dat die geld wat armes moet ophef steeds op ‘n onophoudelike rolband na ryk mense se onversadige wellus vir dinge bly voortvloei nie. En as ander lande se presidente besluit om op vyande ter wille van materialistiese eie belang toe te slaan, vat jy hande met jou vreemde broers en susters en jy protesteer ter wille van verontregde mense. Jy gaan nie maar bloot aan om sepies en supervyftien rugby te kyk as of dit die wesentlike van die lewe vergestalt nie. Of eindeloos met vorme van lokale verdowing oppervlakkig sosiaal te verkeer nie.
‘n Mens kan nie mens sonder ‘n menslike samelewing wees nie. So banaal mag dit nie wees nie. Voorts stem jy nie langer ‘per se’ vir enige politieke party nie. Jy kies ook nie geyk gekondisioneerd vir Kapitalisme of Sosialisme nie. Of goedgelowig Sosiale Demokrate nie. Jy kyk eerder deurentyd watter soort mense is in beheer van sake. Die soort wat verskuilde buikspraak doen, of die soort wat uit hulle pad vir ander mense gaan. Jy gaan voort om jou vriende so te kies en om jou kinders so te leer.
Iewers, op ‘n dag, besluit mens om nie net soos ‘n mens te lyk nie, maar om een te wees. Iewers, op ‘n dag. Iewers op ‘n dag.
Wim van der Walt