Tafelberg
Mense is vreemde wesens. Hulle het vir biljoene, toe miljoene jare hulle kans afgewag. Die ontploffings, die botsings, die minimalistiese veranderinge in primitiewe eerste uitinge van lewe. Toe op ‘n mooi dag raak die evolusionêre gesweet, verbete, menslike lewe. Begin op twee bene loop. Breinkrag wat so suurstof kry vir kopkrag.
En toe loop ons rond. Hier in Afrika. San mense, Khoi mense. Daar in Europa, die Van der Walt’s in Flaandere. Daardie Geelles van der Walt, was nie upper class nie. Matroos geword. Om elders te probeer staanplek in die lewe kry.
Klim op die VOC se skip. Kom Afrika toe. Op ‘n dag, op ‘n moontlike oggend, op ‘n moontlike namiddag kom daardie skippie in die waai van die Suidkant van Afrika ingevaar. Blou blou water. Maar daar…
Die berg. Hulle het dit weldra Tafelberg begin noem. Oor daardie platgeit op die kopkant van die berg. Maar die berg, wat hulle Tafelberg begin noem het, het oor miljoene van jare uitgestulp om ‘n ongevraagde baken tussen die blou van die see, en die grondkontoere aan die binnelandse kant te raak. Aan die eenkant was daar die San, die Khoi mense. Wat ‘n lewe gemaak het. Probeer maak het. Op hulle manier. Toe kom die Europeërs. En my voorvader die matroos Geelles ook.
Die Kaap, soos die oorwinnende party dit later sou noem, is asemrowend. So mooi soos Sneeuwitjie en Racheltjie de Beer. En miskien Koos du Plessis. Mooier as Maria Callas. As dit moontlik is.
Die berg lê in die oggendson soos ‘n mitologiese Griekse god. Die berg lê en bak by middel van die dag soos ‘n witwarm roos. Maar rose is eintlik baie rooi en berge is baie blou. En Tafelberg weet dit. Om beide se geveg in haar arms met ‘n barshart te vou.
Maar die mense baklei. Om vir hulle alles te vat. Die grond, die muntstukke, die vee, die grond. Om vir hulle se self vrede en lekkerte te skep. Geelles, die matroos, vat vrou, kry grond en die Van der Walt’s kry ‘n plaas. Want selfs matrose was baas.
Die land word wyd geneem. Mense vat van mekaar. Want die ander was anders. Dus minder mens was die logiese oorhoofse konklusie.
Tafelberg sien die gebaklei. Tafelberg huil. Wanneer niemand kyk nie. Want Tafelberg het gesien hoe ‘n aardsmens moes swig voor geweervuur en verbete verhewe gesag. Tafelberg sien hoe die eeue begin ontvou. Hoe Jan Smuts op ‘n Tafelberg klip kom sit en dink oor die konsep van Holisme. Hoe mense huise bou waar die San mense eers vee gewei het. Tafelberg sien hoe oggend en middag en aand klam vir Tafelberg met ‘n sakdoek groet.
En hier sit ek. Sien in die verte die berg. Die mense noem dit Tafelberg. Maar die son val so fyn daarop dat ek nie weet of mense die ontmoeting van ‘n blou berg en die wit vingers van die see kan uitmaak nie. Om golwe wat ‘n berg verlang, die berg, wat ander Tafelberg benoem het, te kan ontmoet, dit te kan aanraak nie.
Want die berg, is blou, in breke van blou, die berg steek ‘n wand uit sodat die geel van die son, met verlange, half lam, vertroosting kan kry. Die berg kyk oor die wykende see uit. ‘n See wat skarrel. Om blou met alles wat getye kan doen te beskerm. Daardie diep hunkering na die trotse rande, kante, harte, van ander. Die berg raak eers blind met sonsonder. Die berg mymer deur nagte. Vir die ander kant van vlak bedenkte gragte.
Die berg se naam is Tafelberg. Mens kan vir Tafelberg eindeloos handeklap. Want Tafelberg skouer altyd, ander kant alle woorde, die fyn son, die kaal maan, die mense wat met oë mistig ver, miskien te baie ver, eindeloos bly verlang.
Maar Tafelberg bly hang. Bly altyd hang. Tussen die see en die lewe. Maar ons bly die ander stoei vir ‘n blatante een pond sewe.
Jou mooi berg. Ek verstaan jou melankolie.
Goeienag jy. Tafelberg. Jou baie mooi berg.
Wim van der Walt