Sus en Daan

Sus en Daan, hier volg ‘n aanklag

Ja, dit was blerrie 1959. Daar in die Karoo. Ek vermoed elders ook. My ouers, die een blerrie Hollywood mooi, die ander een ‘n sensitiewe mens wat as die jongste kind met skape op die plaas groot geword het, het besluit dat ek op 5 (Vyf) skool toe moes gaan. Op Victoria Wes. Hoofkantoor van die heelal.

Ja, so toe gebeur dit toe. Juffrou Van Aarde, as ek nou met hierdie ou brein reg onthou, het ons begin ABC leer en so. ‘n Paar verwilderde kinders ook daar. So is sy besig met onderrig en sien dat Lukas strak deur die venster staar. Hy het na duiwe en goed daar buite gekyk. Sy raak geïrreteerd met hom, sê hom dat hy maar deur die venster moet spring. Hy staan op om dit te doen. Iemand keer hom. Was nie ek nie. Ek sou wou, maar op daardie gevorderde stadium van skoolonderrig, was ek ietwat onseker oor heelwat dinge.

Ja. Die Sus en Daan blerrie boek. Mooi sulke prentjies. Daar was ‘n hond ook. Met sulke strepie-goete daar onder. Dit het iets met die spellery te doen gehad wat Juffrou Van Aarde mee moeite gemaak het.

So, toe op ‘n stadium, moes ons ry af gespel het. So kom die spellery my kant toe. Ek hoor Sus, ek hoor Daan, ek hoor Wagter, maar, ek had nie ‘n blerrie idee wat om te antwoord wanneer dit my beurt sou raak nie. Ja, toe maak ek ‘n F^% op. Oom Jan wat hond gemaak word. Haar gesig het verstar. Ek glo myne ook toe daar opvolgende.

Daardie volgende middag daag sy by my Eeufees koningin Moeder op om oor my te praat. Ek sien hulle. Hulle praat half stillerig. En kyk in my rigting. Ek kyk ook. Hulle kant toe. Ek en my hond.  Anner mense het hom ‘n brak genoem.

Ek weet nie wat toe gebeur het nie. Maar op een dag, op een blerrie dag, het ek lees bloot aangeleer. ‘n Moderne wonderwerk. Toe gebeur dit. Ek begin met my Raleigh bike angstig biblioteek toe te ry. Ek neem boeke uit, weet nie wat om te los nie, vra om verskoning vir wat ek los, en sit dit wat ek vat in my fiets se agterrak. Ek ry huistoe, en ek voel soos ‘n skurwe siels-dief. Die rykdom hieragter my, waar ek my bike met kaal tone trap, hiri rykdom, wat saam met my huistoe mag gaan.

En ek lees. In die bed, op die toilet, in die bad, langs die huis op die sykant. So, dat  ek een keer so opgenome in my boek, langs die huis opstaan en ‘n gat in my kop teen die vensterhoek bo my stamp. Bloed en steke. Terwyl die steke nate in my kop geraak het, terwyl my pa kyk wat die dokter aan my doen, het ek gesit en lees. No time to waste. Alhoewel Ingels eers heelwat, heelwat later gevolg het. Maar eksistensie het klaar bakens ingekap. En die duik in my kop vermaan my steeds om die verlede te onthou. Maar dit was ‘n tragiese gebeure. Daarmee was dit heen vir die potensiele Afrika Einstein.

Sus en Daan, hier volg ’n aanklag. Julle het groot stront veroorsaak. Toe die biblioteekrakke begin leeg raak van boeke wat ek nog nie gelees het nie, het die juffrou voor in die biblioteek my in die kelder in gestuur. Die verweerde boeke, die bloedbad verskeurde boeke moes daar op hulle eventuele grafte wag. Ek het hulle gekonfiskeer. Ek het hulle uitgedaag. Ek het hulle in baddens en op toilette gesit en lees. Saam het ons in stilte stom gehuil.

Ja, en wat het julle, Sus en Daan vir my gedoen? Ek het julle en al daardie strome ander boeke met groot geloof en hoop, en liefde, en wat de bliksem nog, gelees en gelees.

Julle, en die boeke wat sou volg, dekades lank, sou my stukkie vir stukkie verslind. My pa het een aand terwyl ek waterpokkies gehad het, my kamer ingekom. Ek het gekrap soos ‘n krap, maar daar was genoeg lig van die kragstasie se kant af dat ek kon lees en krap waar dit jeuk. Die jeuk op die vel, die jeuk in die kop wat verlief was op die letters wat woorde en sinne, en gedagtes, en verlange en groot groot erns geraak het, het die moeilike nag ‘n makliker ene gemaak.

Maar nou Sus en Daan, hier staan julle kinders. Boekrakke vol. Geletterde Kinders wyd versprei oor kontinente waar daar ook soveel dringendheid in woorde verpak was, is, word. Ek kyk hulle almal. Ek praat met hulle. Kwaai. Hulle praat terug. Kwaaier.

En ek dink aan my afgestorwe prokureurs- vriend Fred Stander. Eendag, twee eeue gelede, sit ek en hy in ‘n Kaapstad restaurant en kuier. En hy draai sy sigaret se filter nek om sodat hy meer direkte nikotien kon ontvang. En Tafelberg lê grysdeins daar bokant en wonder wat Fred nou gaan sê. En ek sit skuins-skouer en wonder ook. Fred kyk op, en hy sê so. ‘Weet jy Wim, ek staan nou die dag voor my boekrakke en ek kyk na die boeke wat ek nog nie gelees het nie. En ek bereken hoeveel boeke ek per jaar kan lees. En hoe oud ek is. En die boeke gaan wen. Ek gaan hulle nie inhaal nie’. En hy praat toe so, “Eintlik is hierdie lewe een groot koebaai seery’.

En toe is Fred dood. En Fred het verseker ge-verloor. Ek belowe. Want die boeke hou net aan om aan te kom. Nuwes, wat mens laatnag laat ril. Oues op uitverkopings, wat hulle self soos heilige prostitute aanbied. Boeke, boeke wat bly aanrol. En ek, soos Fred is maar bloot een mens wat teen ‘n waterval moet bly staan.

Ek wat net net  Sus en Daan in die Karoo asem laat ophou het, ek wat toe net net saam baas geraak het. En toe, het die hel losgebars. Sies Sus, sies Daan, sies vir julle.

Maar dankie Juffrou Botha. Jy wat eens, onder aan die kwartblad, geskryf het, ‘Knaap, jy het dit’. Daai ding van die dieper lees, die pyn, die brand en die oorgroot verlang. 

En eintlik, die groot verloor.

Blad vir blad. Want elke bladsy klaar is ‘n stukkie nader aan die einde.

Nag Fred.

Nag Juffrou Van Aarde. Nag Juffrou Botha. Jy met die bree wyd lyf, skuifgeluid, raas raas, sykouse af af in die klas-paadjie.

Nag Sus en Daan. Donners.

Lukas, vrind, miskien moes ons, ek en jy, saam uit, uit, gespring het. Maar San Francisco was nog te ver voor. Maar ons het ook nie geweet hoe wyd die see is nie. ‘n Karoo trein kon niks aan die wydte van die see doen nie. Nie toe nie. Nie nou nie.

Wim van der Walt  

Naskrif: Daar in 1963/1964 rond het hulle ons begin ernstig Ingils leer. Meneer Weideman het, as hy nie vir Griekwas rugby gespeel het nie, vir ons skoolonderrig gegee. So beveel hy ons toe om as sogenaamde koshuiskinders vir onse ouers tuis ‘n Ingilse brief te skryf om vir ekstra sakgeld te vra. Ons doen so. Ek doen so. En dit was waarskynlik maar net my menslike ongeluk dat my skrywe sy oog gevang het. Hy het gelees wat ek geskryf het en toe het hy ‘n ander Meneer laat inkom om ook te lees wat ek geskryf het. Hulle het voor in die klas gestaan en lees, ernstiglik, dan na my gekyk en ek het sommer geweet dat my toekoms in daardie skool beperk was. Hulle was nie gelukkig met my Ingils nie. Ek het so geskrywe om meer sakgeld te ontvang, ‘My shoes are fieddie condemn’, maar ek vermoed dit was waarskynlik nie afgeronde Ingils nie. Somehow het ek tog daardie jaar deurgekom. En in retrospeksie kan ek nie help dat die manne nie my bydrae tot kleurvolle Ingils aan wou erkenning gee nie.

https://music.youtube.com/watch?v=umVgdWalrUI&list=RDAMVMumVgdWalrUI