Sus en Daan, hier volg ‘n aanklag

Ja, dit was blerrie 1959. Daar in die Karoo. Ek vermoed elders ook. My ouers, die een blerrie Hollywood mooi, die ander een ‘n sensitiewe mens wat as die jongste seun met skape op die plaas groot geword het, het besluit dat ek op blerrie 5 (Vyf) skool toe moes gaan. Op Victoria Wes.

Ja, so toe gebeur dit toe. Juffrou Van Aarde, wat ‘n wonderlike van, as ek nou met hierdie ou brein reg onthou, het ons begin ABC leer en so. ‘n Paar verwilderde kinders ook daar. So is sy besig met onderrig en sien dat Lukas strak deur die venster staar. Hy het na duiwe en goed daar buite gekyk. Sy raak geïrreteerd met hom, sê hom dat hy maar deur die venster moet spring. Hy staan op om dit te doen. Iemand keer hom. Was nie ek nie. Ek sou wou, maar op daardie gevorderde stadium van skoolonderrig, was ek ietwat onseker oor heelwat dinge.

Ja. Die Sus en Daan blerrie boek. Mooi sulke prentjies. Daar was ‘n hond ook. Met sulke strepie-goete daar onder. Dit het iets met die spellery te doen gehad wat Juffrou Van Aarde mee moeite gemaak het.

So, toe op ‘n stadium, moes ons ry vir ry af gespel het. So kom die spellery my kant toe. Ek hoor Sus, ek hoor Daan, ek hoor Wagter, maar, ek had nie ‘n blerrie idee wat om te antwoord wanneer dit my beurt sou raak nie. Ja, toe maak ek ‘n F^% op. Oom Jan wat hond gemaak word. Haar gesig het verstar. Ek glo myne ook toe daar opvolgende.

Daardie volgende middag daag sy by my Eeufees koningin Moeder op om oor my te praat. Ek sien hulle. Hulle praat half stillerig. En kyk in my rigting. Ek kyk ook. Hulle kant toe. Ek en my hond.  Anner mense het hom ‘n brak genoem. Die hond het geweet ek is eintlik ook ‘n mens.

Ek weet nie wat toe gebeur het nie. Maar op een dag, op een blerrie dag, het ek lees bloot aangeleer. ‘n Moderne wonderwerk. Ja, in die derde kwartaal het ek in Juffrou Van Aarde se klas vir die kinders voorgelees. Toe gebeur dit. Ek begin met my Raleigh bike angstig biblioteek toe te ry. Ek neem boeke uit, weet nie wat om te los nie, vra om verskoning vir wat ek los, en sit dit wat ek vat in my fiets se agterrak. Ek ry huistoe, en ek voel soos ‘n skurwe siels-dief. Die rykdom hieragter my, waar ek my bike met kaal tone trap, hiri rykdom, wat saam met my huistoe mag gaan.

En ek lees. In die bed, op die toilet, in die bad, langs die huis op die sykant. So, dat  ek een keer so opgenome in my boek, langs die huis opstaan en ‘n gat in my kop teen die vensterhoek bo my stamp. Bloed en steke. Ek het nou nog ‘n duik in my kop oor daardie ongelukkige gebeure. Terwyl die steke nate in my kop geraak het, terwyl my pa kyk wat die dokter aan my doen, het ek gesit en lees. No time to waste. Alhoewel Ingels eers heelwat, heelwat later gevolg het. Maar eksistensie het klaar bakens ingekap.

Sus en Daan, hier volg ’n aanklag. Julle het groot stront veroorsaak. Toe die biblioteekrakke begin leeg raak van boeke wat ek nog nie gelees het nie, het die juffrou voor in die biblioteek my in die kelder in gestuur. Die verweerde boeke, die bloedbad verskeurde boeke moes daar op hulle eventuele grafte wag. Ek het hulle gekonfiskeer. Ek het hulle uitgedaag. Ek het hulle in baddens en op toilette gesit en lees. Saam het ons in stilte stom gehuil.

Ja, en wat het julle, Sus en Daan vir my gedoen? Ek het julle en al daardie strome ander boeke met groot geloof en hoop, en liefde, en wat de bliksem nog, gelees en gelees.

Julle, en die boeke wat sou volg, dekades lank, sou my stukkie vir stukkie verslind. My pa het een laat nag terwyl ek waterpokkies gehad het, my kamer ingekom. Hulle het ‘n gelag van hulle se kamer af gehoor. Ek het gekrap soos ‘n krap, maar daar was genoeg lig van die kragstasie se kant af dat ek kon lees en krap waar dit meer jeuk. Die jeuk op die vel, die jeuk in die kop wat verlief was op die letters wat woorde en sinne, en gedagtes, en verlange en groot groot erns geraak het, het die moeilike nag ‘n makliker ene gemaak.

Maar nou Sus en Daan, hier staan julle kinders. Boekrakke vol. Geletterde Kinders wyd versprei oor kontinente waar daar ook soveel dringendheid in woorde verpak was, is, word. Ek kyk hulle almal. Ek praat met hulle. Kwaai. Hulle praat terug. Kwaaier.

En ek dink vanmidddag weer aan my afgestorwe prokureurs- vriend Fred Stander. Eendag, twee eeue gelede, sit ek en hy in ‘n Kaapstad restaurant en kuier. En hy draai sy sigaret se filter nek om sodat hy meer direkte nikotien kon ontvang. En Tafelberg lê grysdeins daar bokant en wonder wat Fred nou gaan sê. En ek sit skuins-skouer en wonder ook. Fred kyk op, en hy sê so. ‘Weet jy Wim, ek staan nou die dag voor my boekrakke en ek kyk na die boeke wat ek nog nie gelees het nie. En ek bereken hoeveel boeke ek per jaar kan lees. En hoe oud ek is. En die boeke gaan wen. Ek gaan hulle nie inhaal nie’. Hy het ook op daardie deinsblou Kaapstad dag dit so gesê, ‘Eintlik is die lewe een groot koebaai sêery’.

En toe is Fred dood. Hom eens darem aan my ander vriend Dreyer Kruger voorgestel. Regte en sielkunde wat mekaar ontmoet. Tafelberg het toegekyk. Dreyer is ook nou al lankal dood. Nog ‘n mens met nog ‘n storie.

Maar Fred het verseker groot verloor. Ek belowe. Want die boeke hou net aan om aan te kom. Nuwes, wat mens laatnag laat ril. Oues op uitverkopings, wat hulle self soos heilige prostitute aanbied. Boeke, boeke wat bly aanrol. En ek, soos Fred is maar bloot een mens wat teen ‘n waterval moet bly staan.

Ek wat net net Sus en Daan in die Karoo, asem laat ophou het, ek wat toe net net saam baas geraak het. En toe, het die hel losgebars. Sies Sus, sies Daan, sies vir julle.

Maar dankie Juffrou Botha. Jy wat eens, onder aan die kwartblad opstel geskryf het, ‘Knaap, jy het dit’. Net omdat ek oor my hond moes opstel skryf het en vir Oubaas in die Wilgerboom vir die maan laat blaf het. Daai ding van die dieper lees, die pyn, die brand en die oorgroot verlang. En Meneer Weideman, Griekwaland rugby speel of te nôt, jy en daardie ander onderwyser wat voor in die klas later gestaan en kyk het na wat ek in erns verwoord het. Ja, ons moes sogenaamd as koshuiskinders huis toe skryf en vir sakgeld vra. In Engels. En ek skryf toe, ‘My shoes are fiedie kondêm’. Julle hoef nie so skuinskop my kant toe gestaan en kyk het nie. Sulke stil geluide gemaak het nie. Engels, was, is, ‘n wêreldtaal. Mens mag dit maar kreatief aanwend. Dêmmit.  

Maar eintlik, die tyd, die gang van dinge, die falankse van stormende boeke. Die groot verloor.

Blad vir blad. Nag Fred. Nag Dreyer.

Nag Juffrou Van Aarde. Nag Juffrou Botha. Jy met die breed belynde lyf, skuifgeluide vanaf jou skuur skuur sykouse soos wat jy verby gestap gekom het.

Nag Sus en Daan. As ek iets mag vra Sus en Daan.  As julle asseblief stilletjies, op die regte tyd hier kan verby kom en al my boeke aan die brand sal steek. Ek sal aan julle  anderkant die Lethe, ‘n miljoen rand kom oorbetaal. Uit bitter ontstelde dankbaarheid.

Juffrou Van Aarde, ek en Lukas moes wragtig gespring het toe ons die kans gehad het.   

Wim van der Walt