Dit is Saterdagaand. Lank gelede, was dit amper tyd Vir U Eie Keuse

Lank, lank, regtig lank gelede. Die Karoo aand het baie stil, subtiel, geleidelik, die son bloot stom stil gemaak, die maan met ‘n krom grondvinger nader gewink, en die beswete dag het die groot verloor-sakdoek aan die stil dapper aand, ‘n luierende heldin, oorgegee.

En die brose aand het vir die ver ver skatersterre met ‘n Karoo bek wyd geglimlag, hulle nader gewink. Vir hulle gewink. Kom kyk. Kom kyk na alles. Kom kyk na die dag wat aand moet raak. Wat nie kan keer nie. En die aand wat nag gaan raak. En nie die dagbreek gaan kan keer nie. Kom kyk. Kom kyk dit alles.

En ons, die mense in Landboustraat, daai dorp, Groot Karoo, te groot, sit daar in die sitkamer. Die naweek Burger was vroeer aangekoop. Kos is ge-eet. Nou volg U Eie Keuse, volgende, op die radio. Mens is maar bloot kind, maar die ‘songs’ begin met jou mors.

Maria Callas. One Fine Day. Caruso. O Sole Mio. Elizabeth Schwarzkopf. O Mio Bambino. Beethoven. Ander. Ander. Your tiny hand is frozen.  Hulle sing. Hulle sing die Karoo aand stom. En die mense wat nie kan aangaan om te luister nie, oorweeg selfmoord daar agter die wingerd.

En ek was ‘n lightie. Hiri songs het my hart vroeg gebreek. Soveel so dat ek Radio LM toe gehardloop het. Waar Buddy Holly, Elvis, Chuck Berry, Fats Dominoe vir my siel ‘n welkom geglimlag het.

So was dit. Die klassieke stroom via U Eie Keuse. So was dit. Die diep diep verlang wat flitsende voete moes kry om staande te bly. Al die songs van ‘n mens se kop. En hulle hou nie op nie. Hulle kom aan soos ‘n see wat klippe kwaai slaan om verstaanbaar te wees.

En mense, en slakke, en bye, moet dit alles baie dapper vat.

En wat het ons? ‘n Blote radio, in die ou dae. En ‘songs’, ‘songs’, wat jou siel goed stukkend skud. Maar jou so mens maak.

Ne? Joan of Arc. Sing Leonard. Soos jy dit bedoel het. Gevoel het.

Luciano, Luciano Pavarotti, jy ook. Sing. Soos jy bedoel het. Nessum Dorma. Niemand sal slaap nie. Aikona.

Wim van der Walt