Mense is eintlik vreemde wesens. Hulle kom van orals en dan vind hulle plekke wat hulle met hulle se lywe en koppe en drome bloot met oorgroot dapperte beset. So, assof dinge kan hou. So, assof jy wydsbeen daar kan staan en vir die berge wat intuur bloot vertel, ‘Ek is nou hier. Wyk berg, wyk satan’.

En dan doen mense dinge. Baie dinge. Vir baie lank. Op so ‘n manier dat mens bloot begin glo, alles was so bestem. Die gode is aan jou kant, en die hel daar oorkant.

Jy doen die oggend. Wanneer die heelal vars asemhaal. Suurstof. Suurstof. Jy doen die middag. Wanneer die heelal ‘n slapie vang. Fyn sweet op die kussingwang. Jy doen die aand. Wanneer die son wyk en vir die westekant van die lewe vra vir vanaand se leplek. Wanneer die vure vir vleis aangesteek word en die aand van anderkant die Suiderkruis waag om op jou en julle in te tuur en dink dit is reg om iets baie bitter betugtend sag te fluister.

Maar alles se gat. Want jy is jy. En jy is die baas. En daar is ‘n verskil tussen die baas en klaas. En jy braai vleis, en jy sit in jou eetkamer en eet vleis en dan die poeding, en jy sit gatsag in jou sitkamer en netnou gaan jy lank uitgerek wyd op jou slaapkamerbed le. Want jy is jy. En jy is die baas van dinge. En die plaas en die ou huis hier rondom jou vleis, is ook joune. ‘Watch it’ papie.

En so loop die tye. Die seisoene. Die harwar jare. Dweperige dekades. Maar jy is die baas. En jy weet wie se naam spel jy Klaas.

En dinge gebeur. Bietjie ietwat onverwags. En jou geld en jou somme raak dom pionne. En wat lekker eens was begin om nou met dagbreek te pyn.

En ‘n ander ou kom. Met ‘n ander plan. Maar sodoende, sal jy gat moet skoon maak. Weg na elders want iemand het nou vir jou grond, hiri huis, hiri hiri, ‘n nuwe geldmaakdroom.

So jy moet. So jy teken. So jy pak en jy trek. So bly die huis alleen agter en waai vir jou die middag toe jy met alles op die lorrie bloot vir altyd wegtrek.

En die grond, en die ou strak huis hoor wat die opgewonde manne by die voordeur staan en praat. Kry iemand om die huis se kniee te knak. Sodat niemand kan protesteer teen die tot niet maak van die verlede nie. Sodat mens kan geld maak met die so mooi le van dinge.

Sorry huis. Sorry. Jy staan in die pad. Die lewe moet aangaan. Met ‘n nuwe blink bladjie. Sorry huis. Ons gaan jou uitkap. Jou stories ter syde. Die verlede ter syde. Die lag en die huil en die middernag drome, ter syde. Jy gaan sewe kleinkinders kry.

Ja ja. En so stap ek op ‘n middag en ek neem hierdie foto. En sodoende red ek wat te redde is. ‘n Huis met ‘n lang droom. Wat toe opgedroog het. Maar wat lewe op ‘n foto wat die gode voor pa sal moet staan.

Wim van der Walt