Ek sien op ‘n koue, ja, ‘n koue, Novembermiddag ‘n paar mense teen die parkie-muur teen die wind skuil. Hulle het soort van komberse oor hulle gevou. Ek ry verby na die nabye winkelsentrum om te gaan koffie drink en koerante lees, maar het reeds besluit ek sal vir hulle iets te ete koop en ‘n paar woorde gaan praat om te hoor waar, waar hierdie swaarkry-wesens vandaan kom.

Die lewe is vol galgehumor. Ek sit lekker in die knoes koffiewinkel en drink die besigheid bankkrot aan opvul-aanvul koffie, en sien ‘n paar pragtige jongmense rondom my. ‘n Paar van hulle is ernstig besig om oor rekenaars te studeer. In hierdie swaarkry land van ons geniet ek die entoesiasme en konsentrasie van die pragtige jongmense half verskriklik. Ek weet ek is netnou oppad om met ander mense wat duidelik heeltemal aan die verloor is te gaan praat en die wrang kontras krabbel reeds aan my siel. Met die uitstap vra ek vir twee van die studente wat hulle swot. ’Medicine’ sê hulle helderoog en glimlag vir my ‘thumbs up’ totsiens sêery.

Dan ry ek, gaan trek ‘n ander broek aan wat mens op die grond mee kan sit en stap oor na die parkie toe waar die uitgesakte deel van die samelewing skraal teenwoordig is in die bes moontlike huisvesting vir die middag en die half koue van die komende aand.

Ek maak my rondte en oorhandig soet ‘buns’ en tjips aan die klein gemeenskap teenwoordig. Ek praat eerste met Shaun. Hy is sestig jaar oud. Shaun het kreukeloë en ‘n grys baard. Daar is iets ‘gentle’ in die aanbieding van homself. ‘n Skramse glimlag ook. Hy kom van Caledon af. Daar het hy op ‘n plaas groot geword. Ek vra die vraag met ‘n voorafverwagting en ek word geboul. ‘Ek het matriek’ sê Shaun. Daarna het hy in die Vloot gaan werk. Later busse tussen Kaapstad en Port Elizabeth gery. “Wat?”, vra ek, ‘het veroorsaak dat hy nou hier met ‘n karige kombers teen ‘n openbare parkie se muur huis moet hou?’ Shaun kyk my reguit met ‘n effense glimlag en nugter aan. “Wyn, drank”, antwoord hy. ‘Ek het ‘n vrou, en kinders, en ‘n huis, maar ek mag nie daar kom nie’. Die drankmisbruik is te sterk, die drank wen. Shaun, en sy vrou, en sy kinders verloor. Hulle kom tweede. Drank is die baas.

Ek draai na Samson toe. Hy is 42 jaar oud. Hy kom van Upington af. Hy is ietwat meer as Shaun kwaad vir die lewe. Sy pa was in die Weermag. Hy het matriek in Tokai se ‘reformatory’ gedoen. “Hoekom daar?” vra ek. “Moord”, antwoord Samson my terwyl hy my stip in die oë kyk. Hy het nie ‘n keuse gehad nie, is sy verweer. Die ander man het hom vasgedruk. Daarna doen Samson sekuriteitswerk in Athlone. “En toe?”, vra ek. Dieselfde antwoord. Drank. “Daar het ek moed opgegee…dit is te laat vir my”, antwoord die man wat op ‘n sak in ‘n groen parkie met glinstervenster woonstelle rondom lê.

Ek vra vir Shaun en Simson of die staat se mense, of die kerkmense, nog nie hier gekom het om hulp van een of ander aard aan te bied nie. Baie beleefd, kom die antwoord. “U is die eerste man wat so iets doen”. Ek steier in my binneste weens my eie onvermoë en sê ek kom nou nou terug, ek wil gou eers met daardie ander mense daar anderkant teen die muur gaan praat…

‘n Man met ‘n innemende gesig sê vir my dankie vir die tjips en die ‘buns’ toe ek aangestap kom. Hy het sy ‘tjips’ vir die vrou wat langs hom lê gegee want ek het voorheen gedink daar is net 3 mense in die parkie en my voorraad was te min. Gelukkig was die soet-‘buns een meer en genoeg. In die volgende tien minute wat ek daar met hom, Rayno, en Carrol, sy ‘girlfriend’ deurgebring het, het die aarde geskud. Hy, die Bruin man, praat met my en sy, ‘n Swart vrou met ‘n mooi mooi gesig, lê gemaklik met haar kop op sy bobeen. Rayno kom van Port Elizabeth af. Sy pa is ‘n besigheidsman. Hyself was Tech toe. Selfs ‘human resources’ geswot. Sê die bergieman van die parkie vir my. En ek weet, ‘n mens kan op baie maniere huil. Hy was dikwels oorsee weens die aard van sy werk. “Ek het my ding vir my land gedoen”, sê die bergieman vir my. Toe wil sy vrou skei. “Hoekom werk?”, het hy gedink. “Ek kan maar net los”. Hy het gelos.

“En nou?”, vra ek. ‘n Parkie-lewe? Sy antwoord, met ‘n intellegente, humoristiese uitdrukking op die gesig was, “Dit is die lieflikste tyd van my lewe…geen stress nie”. Die swart hand en die bruin hand vat sag aan mekaar toe hy my so antwoord. Hy is wel ‘n ‘car guard’ daar in Bellville. Kry so geld. “Solank ons net ‘safe’ kan slaap”, sê die man met die sagte oë vir my. “Nee, dit is nie vrêk koud nie. Dit is okay. In die winter het ons seile”.

Carol kyk op na my vanaf haar lê posisie op die grond. Sy is 48 jaar oud sê sy. 1971 gebore. Ek probeer vinnige somme doen om die antwoord te verifiëer. Sy het in Kraaifontein groot geword. Haar pa het vroeg gesterf. Haar ma het al die kinders groot gemaak. ‘char-werk gedoen. Sy, Carol, het ook matriek geslaag. Later ‘Bussiness Admin’ gestudeer. Die man met sy rug teen die parkie-muur glimlag sag vir haar. Daar is asemrowende sagtheid tussen hulle. Dit is opmerklik. Dit is opmerklik. Carol sê vir my, “Ons weet dit gaan beter gaan. Ons glo in God”. Sy kyk na my met haar mooi gesig en sy sê, “ It must get better…ons kan nie laer gaan nie…7 maer jare en dan…yes, we are happy”. Rayno kyk af na haar. Dan soen hy sag haar hand.

Ek stap terug na die eerste twee manne wat ek mee gepraat het . Wouter het nou ook gearriveer. Hy is 47 jaar oud. “Meneer moet asseblief vir my bid” vra hy. Daar is tranerigheid in sy ooghoeke. “Ek kan nie dit doen nie”, antwoord ek, “maar ek sal jou in my hart dra”. Die buurvrou in die huis langsaan kyk by haar agterdeur uit wat in die parkie aangaan. Sy maak die deur vinnig weer toe. Wouter het ook ‘n drankprobleem. “Ek het wyn baie ernstig gevind”. Hy het voorheen gewerk. “Cartridges opgevul”. Ja, hy was ook in Matriek, maar het dit nie klaargemaak nie. Nou is dit alles rof, sê hy. Mens spel broosheid met nege letters.

Ek stap weg van die mense, van die parkie, en ek stoom  in my hopelose gemoed oor politici wat mag bekom om geld en aansien goedkoop en banaal, ten koste van mense te bekom. En ek stoom oor die kerke met al die liriese taal en intrinsieke gebrek aan perkelose intrede in die pyn en lyding van mense wat nie deel van ‘n klubkultuur is nie. En ek stoom oor die plastiek-siele van geldmakers met oordoende eendimensionele waardes en ‘n naarword selfvoldaandheid.

En ek verlang na die gesindheid van Jeshua en Siddharta, en ek verlang na Charles Darwin en George Price, en Oren Harman, wat vir ons uitgewys het dat The Price Of Altruism die begin of die einde van werklike menslikheid is. Alle ideologieë daarnaas, het stink asems.

Wim van der Walt – Bellville