‘n Mens, jammer mense, is eintlik dommer as ‘n blote bobbejaan, gorilla of so.
Laat ek so vertel. ‘n Bobbejaan, nou praat ek van die harige ander, nie my middelste seun, sorry boet, en julle nie, reageer op dinge in sy/haar omgewing instinktief. Bloot so. Ter wille van oorlewing. Om more weer te kan gallop, Elvis, nee, was nie die eerste Elvis gewees nie, met twee of vier voete, en te kan eet, en te kan kreet teen die opkom van die maan, die doodgaan van die son nie. So maak hulle onse broeders en susters wat ons nie in familieverband enige erkenning voor gee nie. Hulle kyk ons net gelate uit. Boggom ons boggers.
Maar ons, ons is wragtiglik dommer. Ons kan ons gatte af werk om geld bymekaar te maak om ons ou wêreld te gaan besoek. In my geval, hierdie gegewe bobbejaan, was dit Europa. Ja, ek het in Rome van ‘n vliegtuig afgeklim en so blerrie ampers voor ‘n bromponie ridder in die straat ingestap omdat ek bloot gedisoriënteerd was tydens die aankoms in die ou wêreld van my verlange.
En toe ek dinge, darem tog half met heilige verlange begin doen het, het ek nie besef hoe ek met my toetrede tot daardie eksistensiële diepte, my siel se graf begin grawe het nie. Hoe kon mens, as mens mens sou wees, in Rome se grafkatakombes kon instap, deurstap, met dooie mense wat plate en plate van hulle se skedels vir jou gang vir gang af gewys het, en gedink het dat jy bloot kyk. Dat hulle nie gaan terugkom om by jou te kom spook wanneer die son weer in Afrika begin doodgaan het en die maan ditself reggeskud het om jou siel van elke gemaklike plato te verjaag nie. Daardie skedels, daardie hol oogholtes, met verlore oë, daardie kakebene van die verre verlede wat nooit weer kon kou, kon strek, dari mond wat nooit weer wyd kon lag nie .
Daardie kunsgallerye, Rome, Florence, Venici, Parys, Londen, daardie kunsgallerye, wat mens met ‘n voorkop gestamp het toe jy bloot soos ‘n respektabele toeris ingestap het, daardie kunsgallerye wat later sou sweepslag deur jou blote onthou. Bobbejane, het ten minste nie hierdie soort van ‘n probleem nie. Dikwels al gewens ek was bloot bobbejaan. Bobbejanius van der Walt.
En dan was daar die donker drif waterrif, dieper as ‘n blote rivier wat Parys dermdiep gekerf het. Net baie dapper mense, miskien net rasegte bobbejane, kan laat nag dit verduur. En dan was daar skilders wat in die vergang van lang strate bly kreun, geneurie, geverf, het. Hulle werke hang daar. Sonder ophou toe. Sonder ophou nou. En jy het gedink dat mens bloot daarna soos ‘n veldiepte toeris kan kyk, geniet, soos in gemaklike genot, en dan bloot aan te gaan?
En dan was daar die brue van Venici. Die gekreun van mense wat oorgevat was om nooit weer terug te keer nie. Agter jou rug, met die water voor, het jy hulle gehoor. En, stupid bobbejaan, gedink, hulle gaan vir jou los?
En bloot, Londen, op ‘n middag wat die son teen half vier, ja half vier, al gedreig het om bloot oor alles te begin sak. My protes was bloot nie aangehoor nie. Want daardie boekwinkel van baie ouds het nog op my gewag. Daardie huis wat die Engelsman wat werklik dieper as penverf kon skryf, eens bewoon het. En daardie een wat daardie Italianer met sy trane vol verf op doek en doek en nog ‘n skreeuende doek bly kerwe het. Met sy flaandere vingers aan ‘n hand. ‘n Hand wat weier om bloot ‘n betekenislose aanhangsel van ‘n lyf te wees.
Bobbejane is bloot bobbejane. Mense is meerendeels ook maar bobbejane. Hulle dink nie dat kuns, en literatuur, en straattonele, en riviere, en berge, en momente wat histories nooit herhaal, verhaal, kan word, gaan terugkom, en jou lukrake gemoedsrus met ‘n bloednaald gaan bly prik nie. Dat ‘n siel bloed gaan bly spoeg nie.
Hierdie bobbejaan gaan nou bloot koebaai sê. Om anderkant bobbejaangrense te bly verlang. Na die mens wat die siel van die wêreld wil skilder, dit wil dig, dit wil sing. Dit vir altyd te bly verlang. Om nie te bly boggom nie.
Bobbejanius van der Walt