Naand Boeta,

Hulle het ons darem baie vroeg na hulle absolute oortuiginge gedraai nê? Jy is so ‘n klompie sekondes voor my gebore, toe ek, toe Andries, ‘n ietwat van ‘n kwartier later. Toe stuur hulle, die nuuskierige Professor, vir jou Rusland toe. Toe stuur hulle vir my terug Karoo toe. Toe stuur hulle vir Andries Ooste toe. ‘n Belangrike eksperiment het die Professor gesê. Toe raak jy ‘n Rus, jou blerrie kommunis. Toe raak ek ‘n Protestantse fundamentalis. Toe raak daai Andries ‘n Siddharta aanhanger. Ek en jy en daai Andries ook, selfde bloed, selfde soort van gesigte, lywe ook, ek bietjie mooier, maar in anderkante van die wêreld, het al drie van ons so verskillend ‘n brein, ‘n siel, ‘n groot hunkering bymekaar gebring. Ja, jy, en ek, en Andries ook, het baie dinge rondom ons gesien gebeur. En Boeta, ons is eintlik maar net mense, en die pyn en verlange en verganglikheid van mense met hopelose oë, het ons elkeen op verskillende maniere pynlik hard geraak.

En toe. En toe. Het ons geleer. As jy ‘n Rus is, sies Boet, as jy ‘n apartheidskind met ‘n roemvlaggie op ‘n rugbyveld was, eina, my kleinwees pyn, as jy as ‘n witkind diep in die delta van Indiese gode, godinne gedompel was, sou jy siel gedagtes, en veilighede, en oorlewingskonsepte by mekaar moes maak. Net om aan te kan gaan. Naand Oom Darwin. Onthou julle daardie een keer wat die professor-hulle ons bymekaar gebring het? Elkeen van ons was verstom oor die kortsigtigheid van die ander twee wat bloot net nie die waarheid kon insien van dinge nie.

Nou het ek geleer Boeta, ons koppe is kleinkoppie. Ons haat Russe, ons haat kapitaliste, ons haat alles en almal wat bloot net anders dan ons rondom die son fanaties, grapjasse, bly dans.

Boeta, jou Russiese blikskottel, hoor hierdie. ‘n Joodjie, Oren Harman skryf ‘n boek op ‘n tyd – The Price of Altruism. Dat daar, ten spyte van ‘n brutale gryppe na oorlewing, dat daar op ‘n evolusionêre dag, ‘n kentering gekom het. Dat primitiewe organismes hulle stange en styfstaan saamgevoeg het, sodat ander oor hulle se flippin dapper rugge kon klim om te kon oorleef. En hulle wat die stange was, het vergaan. Sodat ander kon oorleef. Maar, sonder trots, sonder perkelose dapperte, sonder onbeperkte omgee, bly banaliteit banaliteit.

Boeta, julle Russe skiet nou mense verskriklik stukkend. Boeta, nou weet ek  ook, die geldsug van banale kapitalisme bekruip alles. Skelm slu paaie, en dan kraak iemand, dan kry mense in verskillende lande verskriklik seer.

Boeta, Andries bly so blerrie stil. Kan hy ons nie van Siddharta vertel nie. ‘Gelassenheit’ het ‘n ander Europeër dit eens genoem. En daai anner ou Duitse donner, Hegel het gepraat van Tese – Antitese – Sintese. Nie soos in pragmatiese skietstilstand nie. Nee, Boeta, nê Andries, nee, oor die onmenslike, onbegryplike grenspolitiek, grens filosofie, grens godsdiens, nie. Nee, oor, omdat ons ook iets van daardie ander eerste oorgangs aardse protestant opgetel het. Toe hy die pyn en die lyding van die massas gesien het, het hy vir hulle jammer gekry. Uit sy ingewande sê die Grieks. Dieper as dit, kan mens nie jammer, seerkry, nie. Nee Meneer Putin. Nee Meneer Amerika.

Boeta, Andries, julle en ek mag nie met enige mense mors nie. Ons mag nie bloot van hulle vergeet nie. Ons mag hulle nie miskyk nie. Nie op straat nie, nie op elke, enige hoek van enige straat nie.

Nie op TV nie. Nêrens nie, my boetas. Don Quixote, help my om te bly storm.

En ons mag hulle nie skiet nie. En ons mag nie van hulle, selfs subtiel, steel nie. En ons moet vir almal omgee. Want mense het almal harte, en siele, en verlange, en pyn, en hoop om te mag bly droom. Ons ook.

Of ons is mense. Of ons is breë bek hiënas met selektiewe kwylbekke. Waar mens kan vreet en lag gelyk. Dit is net daar wat die siel met doodsrillings begin.

En wie, wie is jy werklik??

Voorts dink ek, ek moet die badkamerspieel dalk maar afhaal. Ek is meer dan ietwat bekommerd dat daar op ‘n dag ‘n ander wese na my gaan terugstaar. Hiena van der Walt, klink bloot vir my gemoed onaanvaarbaar.

Wim van der Walt     .