‘n Meditasie oor Sokrates en demokrasie

Sokrates, die ou filosoof wat net nie wou ophou om vrae te vra nie, het op ‘n punt so na demokrasie verwys – demo(n)krasie, het hy dit genoem.

Dit is dan die vraag aan my ou held dan vanmiddag- (Johan Degenaar, jy kan ook maar daar diep onder roer…dankie, baie, baie, Johan)  

‘Sokrates, is mense dan nie belangrik om gehoor te word nie? Is mense nie mense nie? Moet daar nie na hulle wyd na gekyk word nie?’.

‘Wim, natuurlik. Maar Wim, kom ek vra jou ‘n vraag, Wim. Is jy reg daarvoor?’.

‘Ja, Meester, ek luister, soos wat jy verwag, met ‘n vraag wat gereed hang…’.

‘Moenie met my probeer slim wees nie Wim’.

‘Sorry Sokrates, sorry’.

Toe gaan hy voort. Dit is Wim wat eenvoudige Sokratiese buikspraak hier doen.

‘As jy skape oppas Wim, ken jy skape. Maar die menslike lewe is ingebed in dimensies wat veel wyer dan skaapkrale se lokale gebruike is. Stem jy saam Wim? Moenie dat die skaap antwoord nie, Wim’.

‘Ja, Meester, ek stem saam. Maar die mense Sokrates, die mense. In Afrikaans het ons ‘n sanger gehad wat hulle Koos du Plessis genoem het. Hy het broos stil gesing van die mense wat met die mense mors’.

‘Juis Wim, juis!’ praat Sokrates na my toe. ‘n Vraag Wim. ‘Hoeveel van die massa verstaan kompleksiteit? Hoeveel van die massa het deur die filosofieë, teologieë van die lewe, die kontinente geswoeg, gesweet? Hoeveel van hulle het die tese van dinge gekontrasteer met antiteses? Hoeveel van hulle kan, kon, by diep-aar sinteses uitkom? Hoeveel Wim?’.

‘Jy loop nou Hegel vooruit Sokrates. Miskien het ons hulle nie ‘n redelike kans gegee nie Sokrates? Miskien het ons hulle nog net altyd gebruik om onsself te verryk? Goedkoop genot Sokrates? Ons broodlyne wat verander in banale 4×4 voertuie, oorgroot huise, goedkoop materialistiese genot? Ten koste van hulle? Die mense. Miskien is dinge vir ons Dinge. miskien is mense vir ons bloot toiletpapier om wyd te gebruik. Hoe dink jy Sokrates?’.

“Sjoe Wim! Die politiese gewigte moes jou ingetrek het. Jy verstaan die essensie van primitiewe siellose vooruitgang so goed! Jy kon, kan vir hulle help geld maak!?’

‘Sokrates, moenie met my galgehumor hou nie. Antwoord my kwaadpraat! Wat van die mense? Hulle pyn, hopeloosheid, is baie groot’.

‘Wim, juis. Juis. Hoe goedkoop is dit om almal se stemme gladgemaklik, eie kombuis-gebore, oor swaargewig dinge te hoor en nie kompleksiteit die maatstaf te maak om vorentoe te beweeg nie? Mense skaaf nie aan hulle siele nie. Mense weet nie wat hulle nie weet nie. Hy is so ‘n bietjie na my tyd, maar daardie Darwin was nie ‘n nonsêns nie. Hoe selfbelang en ander se belang soos ‘n glibberige tweekop-slang in onse mense se se siele, se harte, rondhang. En ons weet wie wen Wim, nê?’.

‘Sokrates, wat dan? Wat dan Meester?’.

‘Moenie so huilerig lyk nie Wim, jy lyk of jy ook daar by my doodsbed, my gifbeker teenwoordig was…Werklike Demokrasie, is nie ‘n towerwoord nie. Demokrasie is nie ‘n blote stemreg, ‘n stembriefie kruistrek nie. Demokrasie mag nie nie deur kortsigtigheid, deur primitiewe ‘greed’, manupilasie, gekaap word nie. Demokrasie, in essensie, gaan oor diepgang. Oor kompleksiteit. Gee almal eerste-vlak toegang tot alles, en simplisme, vooroordeel, kwaadgeit, onbegrip, knaterverlange, nog, nog, sal aangaan om die toekoms in stukke te breek’.

‘Sokrates, Meester, jy het iets oop gepraat. Ek hoor. Hoe, om essensiële demokrasie ‘n integrale werklikheid te maak, hoe om dieper vir mense om te gee as wat hulle nou kan verstaan, hoe, weet ek nie Sokrates, Meester?’.

‘Sorry Wim, ek is dood. Ja, ek sien jy knik jou kop. Ek sien jou opstaan en stadige handeklap vir my laaste moment hier op aarde. Dapper tot die einde. Dankbaar vir heilige dapperte. Maar julle, julle, moet simplistiese demokrasie na komplekse diepgang demokrasie neem. Passop vir die slange Wim’.

“Nag Meester. Nag, ek luister Meester. Nag Sokrates’.