Ek het die eerste keer met die verhaal van Koos Sas kennis gemaak deur ‘n ou plaatopname van  David Kramer baie jare gelede. Dit het my so getref dat ek later ‘n besoek aan die museum in Montagu gebring het. Ek het gewonder of Koos Sas se skedel nog daar was om na te kyk. Om te kyk of die wind dalk werklik nog deur sy skedel trek daar waar dit as trofee en vir sensasie tentoongestel was.  

Ja, sy skedel was daar om na te kyk en so ook fotos van die dooie Koos Sas. ‘n Kopie daarvan  staan nou hier voor my op my lessenaar. Ek sal later meer vertel van hierdie ontstellende foto, maar eers wil ek julle vertel van hierdie man.

Koos Sas was op Touwsrivier gebore en al wat mens weet van daardie jare was dat sy broers musikante was. Mense wat musiek maak hoor iewers ‘n muse se gefluister en kan nie anders as om die siel dringend te probeer besing, vertaal of vertel nie. Van so ‘n familie kom die veedief en moordernaar Koos Sas. Ek kan nie anders as om aan hierdie man van die Sasfamilie die moontlikheid van ‘n bietjie meer ingewikkelde innerlike leefwêreld toe te laat as die eensydige relativering deur ideologies kultureel gekleurde teenpole nie.  

Daarmee saam sou Koos Sas en sy mense daar in Touwsrivier treine sien verbygaan het wat Engelse soldate na die boerefront vervoer het waar ‘n gulsige belangegroep weer opnuut ‘n ander ongenadiglik sou konfronteer.    

Hoe hy groot geword het, weet mens nie. Swaar, ongetwyfeld. Want die Khoisanmense is oor ‘n 200/400 jaar tydperk gereduseer van vry mense wat uit die oop velde van die land hulle wyse van lewe gehad het tot blote uitskot. Op ‘n punt het hy aan sy familie gesê dat hy Montagu toe gaan trek want daar is meer werk daar as op Touwsrivier.

Net hier het my wonder oor dinge begin inskop. Hoekom Montagu, hoekom nie Worcester of selfs Kaapstad nie? Daar was groter dorpe as Montagu verseker. Maar, hulle het nie die gekraakte heuwels, kranse, gedempte vlaktes van Montagu alles in een gehad nie. Die ‘Boesman’ in sy bloed, die Khoi en die San, het heel moontlik in sy are verlang na plekke waar die aarde kreun om aan ‘n sekere soort ou oerprag geboorte te gee. Hy het geweet sy voorouers se spore en verlange na ‘n begeesterde aarde lê nog tussen daardie rantjies rond. Daarom, daardie dorpie, nie daar waar die siel makliker die gemak van die moderne lewe kon betree nie. Hy het waarskynlik terug geneig in sy instinkte na die verlede, die ongenaakbare toekoms het hom nie aangestaan nie.

Ek vermoed, Koos Sas, dit was wat dit was. Maar wie weet wat?

En toe het Koos Sas begin naam maak. Nie ‘n goeie een soos wat dit ‘n arbeider in die vroeë dekades van die twintigste eeu betaam het nie. Oja, hulle het gesê dat hy ‘n goeie werker was, dit was net dat hy nooit lank by enige werkgewer gebly het nie. Goed gewerk, en dan pad gegee.

Ahah!, Koos Sas, ek dink miskien kan ek jou nou begin plaas. Jou vryheid wou jy nooit prysgee nie. Die lang tye se vry gang van jou voorouers was nog ‘n ou polsing in jou bloed. Om te gaan waar die horison vir jou staan en wink. Om te bly wonder wat lê anderkant daardie koppie en hoe ruik die veld aan daardie kant van hierdie berg? Was jy ‘n Afrika hippie vasgevang in die knyptang van die mens se amper fanatiese drang om dinge te besit,  beset, as  net joune af te merk?

Jy, Koos Sas begin toe op plase werk. Goed, maar met ‘n skadukant. Jy het skape gesteel. Dit is interessant dat jy altyd geweier het om skape op plase op te pas. Ek neem aan Koos dat jy dan verantwoording vir tekorte sou moes doen. Dit het jy maar liefs vir ‘n ander arbeider se sweetverklaring oorgelaat. Want, vleis wou jy eet. Die bokke op die vlaktes het nog in die geheue van jou are gepols. Herhaaldelik sou jy ‘n skaap steel om ‘n braaivleisvuur aan te kon steek. Die bokke in die veld was in elke geval toe nie meer almal s’n nie. Hulle het julle se bokke wyd via stukke Europees gekleurde papierdeklarasies gesteel. So  het jy dan maar weer hulle skape begin steel. Want almal steel maar van mekaar as hulle ‘n gewetenlose magskans kry. Nê Koos?

Kom ons sê dit ook nou maar Koos. Die boere het mens nou nie juis vleis gegee om te eet nie. Dit was ‘n kosbare verhandelingsentiteit en nie bedoel vir plaaswerkers vir gereelde gebruik nie. Vleis was vir die base. Nie vir die klase nie. Die feit dat jy ‘n afstammeling was van veldmense wat nie so lank gelede nog geen begrip gehad het van die grense wat vreemde mense oor koppies en vlaktes gesagvol met gewere af sou dwing, was nie ter sake nie. En toe die koëels skielik begin sing het toe jou mense op ‘n dag soos enige ander dag by ‘n rivier vir die aankoms van wild gewag het, kon daardie ou volk nie verstaan waarom nie en die immorele uitwissing van jou mense was waarskynlik pynlik bespreek langs die vure wanneer die aande begin  koud raak het.

Koos Sas, hier waar ek amper ‘n eeu na jou kort bestaan op aarde jou storie nog ‘n keer bymekaar maak, wonder mens oor die manier wat mense se grondregte aanvanklik tot stand kom.

Mag, is die klaarblyklike antwoord. Die vermoë om ander met een of ander vorm van geweld te onderwerp. Fisies, struktureel, die benutting van politiese en ekonomiese magsmiddele om hulle wat nie ewekansige verweer het nie te skuif na enige kantlyn wat jy as magshebber goed genoeg ag binne jou solipsistiese denkraamwerk. Al wat oor die eeue verander, lyk dit my Koos, is die draai van die siniese wiel van die lewe. Menslikheid kry moeilik vashouplek aan daardie wiel wat steeds opereer op kortsigtige eie belang. Die wiel bly egter draai. Met galgehumor. Jy bou vandag vir jou ‘n Nkandhla uit die weerhouding van menslikheid teenoor ander. En dan sal die wiel weer draai.

Obsternaat het jy, Koos Sas, daar in die vroeë negentien honderds bly rondtrek, goed gewerk, verskeie van jou werkgewers het dit so bevestig, maar altyd was jy weer skielik op ‘n dag oppad na ‘n ander horison. Netjies geklee in jou vertrek en in jou aankoms op plekke. Ek dink jy het met ‘n seer hart na beide die verlede en respek verlang. Ja, ek dink regtig ook so, die kultuur van die veldmens was nog baie vlak, of juis baie diep, in jou bloed. Maar die tyd het aan beweeg en daar was nuwe norme van bestaan ter sake. Soos dit altyd sal wees. Dit is swem, of sink.

Jou skaapstelery het jou egter begin inhaal. Maar nou het dit ook ‘n ander vorm begin aaneem. Jy het bv. die geweer van Oubaas Kriel van Rooikrans gesteel, nê? Geleidelik het dit maar ‘n spel geraak van vat wat jy kan vat. Ander het goud en diamante op beslag gelê. Hulle vat vandag nog steeds maar slimskelm mekaar se goed Koos. Met slim papierwerk dikwels, maar jy sal dit nie eintlik verstaan nie Koos, want jy sou nooit ‘n kans staan om gestruktureerd aan lees en skryf blootgestel te word nie. Dit was vir ander soort mense beskore.

Hulle het jou by tye gevang en in gevangeneskap geneem. En hier was dit wat die aangrypende verhaal van Koos Sas ‘n legende geraak het. Die man met die vryheid van vlaktes en klowe in sy bloed, kon deur geen tronk of gevangeneskap in bedwang gebring word nie.

Jy, Koos Sas het ‘n buitengewone vaardigheid ontwikkel om uit aanhouding te ontsnap. Konstabel Tonie Swanepoel was verontwaardig. Jy het sy nemesis geword. Hy vang jou en dan verloor hy jou wanneer jy soos ‘n hersimskim verdwyn. Hy het jou eensmaals gevang waar jy nog saam met jou vroumens gesit en eet het. Hy het julle beide aangedryf dorp toe. Jou vrou kon nie byhou nie en sy is toe daar by Oom Dawid Burger op Augsberg gelos. Veldkornet Bennie Burger het by Konstabel Tonie Swanepoel aangesluit en die twee bewaarders het daar op hulle perde klim en jy, Koos Sas, het blykbaar met ‘n skewe glimlag hulle bekyk en toe jou baadjie aan Konstabel Swanepoel oorhandig. Met geboeide hande het jy begin vooruit draf.

“Ek is reg, julle kan maar kom”, het jy oor jou skouer aan hulle gesê en met ‘n stewige pas begin aandraf. Die twee boereperde het aan die begin goed bygehou, maar die manne ter perd het met tyd begin oplet dat hulle Koos nie in die oog kon hou nie en sy voetspore moes volg om by te bly. Die perde het goed begin moeg word, maar Tobie Swanepoel en Bennie Burger het dit geluk om op Oom Barend Geldenhuys en sy wa en perde af te kom. Hulle het die wa opgekommandeer en met Koos Sas styf tussen hulle en die moeë perde agteraan het hulle die res van die tog tronk toe onderneem.

“Om hom te volg was geen maklike taak nie, want as daar iemand was wat maar bra min van ‘n afstand gedink het , dan was dit Koos Sas”, skryf Jan Luttig later in Die Landstem op 23 Semptember 1950.

En verder vir die rekord, op een polisieverslag word dit gemeld dat jy enkele donkies besit het. Nie skape nie. Met donkies en dalk ‘n waentjie kon jy droom om daai vrou op te laai en te vertrek na daardie plekke wat die KhoiSan nooit van ophou droom het nie.

In en uit. Kort voor lank weer ‘n skaap gevang in die Keisie. Op Boontjiesrivier het Tobie Swanepoel hom weer gevang. By hierdie geleentheid het Koos saam met ander bandiete buite gewerk een oggend onder die toesig van Robert Rowe. Hy het ‘n bos tussen hulle gekry en verdwyn. Bo op die randjie het hy gaan staan met sy hande in die lug en luidkeels uitgeroep, “ Kyk vir oulaas hoe lyk ek, ek groet jou ha ha ha”. En toe was hy weer weg.

Met tyd het hy hom weer terug in Montagu omgewing bevind en op die plaas Hoek van den Berg van Boetatjie Botha, ‘n klein mannetjie en ongetroud, uitgekom. Hy was die seun van ‘n gesiene predikant in Stellenbosch, maar op een of ander wyse het hy ver van die gekultiveerde Kaapse lewe op ‘n plaas in Montagu distrik beland.

Dit was daar, in 1917,  wat die die dinge finaal vir Koos Sas verkeerd gedraai het.

Blykbaar het Boetatjie Botha ‘n aanmerking gemaak dat Touwsrivier se Boesmans nie veel beteken nie, maar tog vir Koos daardie dag by sy plaaswinkeltjie werk gegee. Die middag toe Botha terugkom op die plaas was hy nie gelukkig met Koos se werk nie, so het hy gesê, hom kort betaal en in die pad gesteek. Koos was baie ongelukkig. Hy het eenkant gaan sit. Nog altyd het hy bogemiddelde werk gelewer wanneer hy gewerk het, hy was trots daarop, en hierdie aanklag het hy waarskynlik as uitbuiting ervaar. En hierdie keer, by hierdie geleentheid, op daardie middag het dit te veel vir hom geraak. Koos Sas het later terug gekeer, vir Botha vir meel gevra en toe dié die winkel oopsluit om meel aan Koos te verkoop, het Koos vir Boetatjie Botha van agteraf met ‘n stuk stomp geslaan en daarna sy keel afgesny. Die gespatte bloed was tot teen die dak sigbaar. Met sulke geweld verloor ons mense maklik empatiese ewewig. Nou was die man maar net eenduidige boosheid. Die vraag na versagtende omstandighede had nie dan meer plek nie. Toe het Koos Sas verdwyn.

Hulle het hom weer opgespoor. In Worcester het ‘n boer hom herken vanaf ‘n foto wat versprei was en is hy vasgekeer. Konstabel Tobie Swanepoel het hom gaan haal en gesweer dat Koos nooit weer sou ontsnap nie. Hy het selfs met Koos in die selle geslaap om seker te maak dat hy nie weer ‘n manier vind om weg te kom nie.

Landdros JC van Alphen het Koos Sas in Worcester verhoor. Dit het soos ‘n veldbrand versprei. Koos Sas het egter in die nag ontsnap. En nou was hy nêrens.  

Hy sou alleen in die veld bly. Die son en die maan sien kom en gaan. Die konstante droeë winde teen sy gesig voel, ook die een wat ver af die reen sou bring. Die doodse stilte van grotte. Omdat hy die berge soos sy eie lyf geken het, het hy soos ‘n speld daarin weggeraak.

Honderde kilometers verder, ‘n paar jaar later slaan hy as Barend van Rooy op die plaas Droodaap in Namakwaland uit en begin vir Oupa Willie Dixon werk. Getrou en deeglik. Vir die rekord, Koos Sas het niemand wat hy op verlate Karoo plase gekry het dood gemaak nie. Net vir Boetatjie Botha op Hoek van den Berg.

Op 6 Februarie 1922 kom Konstabel Jurie Dreyer, Karel Esterhuys en die agterryer Jan Jurie op die plaas aan. Oupa Willie Dixon was besig om saam met Koos, alias Barend van Rooy en nog ‘n werker met die blaasbalk te werk. Koos het ‘n emmer gegryp en af rivier toe gedraf om water te gaan haal. Dreyer is vir tee genooi en later het Dreyer ‘n foto van Koos aan Willie Dixon gewys en gesê dat hy opsoek is na hierdie man.

Dixon se woorde was, “Maar die man werk mos daarbuite by die blaasbalk”. Koos het verdwyn, maar Jurie Dreyer het geweet dat Koos nie maklik sy netjiese klere sou agterlaat nie. Hy het die profiel van sy misdadiger geken. Sekere mense kan nie van hulle vergeefse trots wegvlug nie. Hy het vir hom gewag.

Op 8 Februarie 1922 is Koos daar gewaar, maar voor Jurie Dreyer kon toeslaan het Koos deur doringdrade gekruip en laat spat. Op ‘n klipplaat het hy gaan staan en vir Jurie Dreyer gewaai. Triomfantlik. Julle kon my weer nie keer nie, het dit beteken. Hy het egter nie geweet dat hy lewendig of dood gesoek word nie en toe hy omdraai was Jurie Dreyer reg vir  hom. Hy het  Koos agter die blad geskiet. Soos wat jy geleer word om ‘n Springbok te skiet.

 Koos Sas het geval, weer vir omtrent dertig tree voortgesukkel en toe naby ‘n kokerboom het hy gesterf. Die geweer was ‘n Martini Henri, 303 kaliber met ‘n Lee Metfordloop. So is later vir volledigheid berig.

Hoe hard moes daardie kolskoot nie geklap het in die stilte van die Namakwaland plaas nie. Plaasmense weet hoe ‘n doodskoot klap. In die hoofhuis en ook in die arbeidershuise. Daardie dubbele staccato klapgeluid.

Kort daarna het Dominee Willem Steenkamp met sy twaalfjarige seun Willempie vanaf die dorp op die plaas aangekom. Met sy nuwe kamera het Willempie ‘n foto van die dooie Koos Sas geneem. Jurie Dreyer en Jan Juries het hom orent gehou vir die foto. Met sy fedora op hou Jurie Dreyer Koos Sas se kop op sodat Willempie die foto kan neem. Ek laat dit aan die leser se verbeelding toe om ‘n naam te gee aan die drie lewende manne op die foto se uitdrukkings. Soms neem ons waar wat ons sien, soms neem ons net waar wat ons wil sien.

Op die foto lyk dit amper assof Koos Sas net slaap. Hy lyk rustig, alhoewel sy broek bloedbevlek is. Hulle hou hom amper so op asof hy gekruisig is. Of as ‘n gesogte trofee.

Hierdie foto sou later gedruk word en poskaarte met Koos Sas se dooie liggaam daarop is namens die ACVV verkoop om fondse te bekom na die groot griep vir blanke kinders in weeshuise.

Koos Sas was naby sy doodsbed begrawe. Maar die wrange humor van die lewe was nog nie met die dooie Koos Sas klaar nie. 

 ‘n Tyd later het Dominee Steenkamp teruggekom en Koos Sas se ontbinde lyk laat opgrawe wat toe in ‘n pot skoongekook was sodat Dominee Steenkamp Koos se skelet saam oorsee kon vat vir mediese navorsing. Dit is wat die Europese wetenskap met hulle gedoen het wat as minder as mense bekend was. Boesmantrofeë. Met sy terugkoms na Suid Afrika was Koos Sas se beendere lank op Stellenbosch in ‘n huis aangehou, maar sy kopbeen was met tyd aan die museum in Montagu geskenk.

Toe ek laas daar was, was sy skedel steeds ‘veilig bewaar’ in ‘n houer, maar nou darem in ‘n sykamer toegesluit.

Wat sê mens van dit alles?

Koos Sas was ‘n man wat skaap, meestal, gesteel het, op ‘n dag het ‘n man hom so kwaad gemaak dat hy moord gepleeg het en hy moes gestraf word. Maar soos David Kramer sing, as die wind deur die klowe huil, wonder ek oor die tragiese gang van veldmense wat hulle in ‘n oorwinnaarskultuur vasgehardloop het. Ek wonder oor versagtende omstandighede vir  iemand wat moontlik/waarskynlik mee gemors was. Ek wonder hoe die dominee sy jong seun ‘n foto kon laat neem van ‘n dooie mens en hoe mens later daarmee kon geld maak. Ek wonder ook hoe jy ‘n menselyk met regerings instemming kon laat opgrawe, skoon kook en vir persoonlike (wetenskaplike) gratifikasie kon aanwend. Nog later skelet en skedel skei, die skedel vir sensasie laat ten toonstel sodat hierdie skrywer en baie ander mense met verloop daarby kon verby loop om op een of wyse provokatief daardeur geboei te kon raak. Die legendariese storie van ‘n man wat deur niemand, behalwe ‘n koeël, gevang kon word nie en wat steeds net as sy skedel in ‘n tronk, ver van Montagu se oop vlaktes, geketting lê.  

“Mag Ds. en Mevrou Botha die voldoening smaak dat die verbryselaar van hulle ouerharte se bloed gestroom het op Namakwaland se berge, want so ver as wat hy gehardloop het was dit net een bloedstreep”. So skryf die Worcester Advertiser ‘ewewigtig’op 24 Februarie 1922.

En dit is die storie van Koos Sas. Dit is al. Daar is niks meer om te sê nie.

Behalwe vir ‘n vreemde hartseer oor wat ons mense aan mekaar bly doen. Veral hulle wat geldloos en dus magloosmensloos hulle op geen regverdigheid kan beroep nie en bloot weerloos moet toekyk wat eendimensionele magshebbers hierdie kant toe en daardie kant toe altoos met hulle bly vermag.   

https://www.youtube.com/watch?v=mykHpVmQcTA

Wim van der Walt – Bellville