Hierdie seuntjie is doodgemaak deur ‘n familielid wat in die tronk was omdat hy ‘n ander kind verkrag het. En die pa van hierdie seuntjie het gesien hoe sy seuntjie met die familielid na iewers gestap het. Hierdie pa het nie daaraan gedink wie stap saam met sy seuntjie nie.

Nou is hy, hierdie kind, dood. En voor hy dood was, moes dit hel anderkant hel, vir hom gewees het. Maar hy is maar net ‘n kind van die vlaktes. Sy pyn is nie ons middelklasmense se groot bekommernis nie. Ons maak meestal nie so met ons kinders nie. Ons distansiëer ons met redelike rasionele gemak van hierdie brutaliteite.

Ons mense, as ons nou regtig ons self mense kan noem, het ‘n lukrake modaliteit van wat moraliteit in essensie beteken. Ja, ons kan hierdie hoor, hierdie sien, en more gaan ons voort en gaan koop ‘n stroomlyn kar, kry ‘n ‘face lift’ om mooi vir ‘n winkelsentrum te kan glimlag, ons koop vir al die manne by die klub se kroegtoonbank ‘n rondte. Of ons klap goedopgevoed hande vir die voorstelling van wat onderwysers, onderwyseresses, met ons middelklasstrontgatte reggekry het.

Ons kan so maar aangaan. Maar wees net beginselvas. Sê onomwonde jy is in jou diepste wese ‘n een-dimensionele kapitalis, iets wat regtig belangriker as spriritualiteit is, wat materialistiese en middelklaswaardes bo alles ag. Sê eerlik jy gee nie werklik ‘n fôk om hoe daardie ander mense met mekaar mors nie. Sê eerlik jou historiese verwysingsraamwerk het nie ruimte gelaat vir integrale insig hoe struktureeel geïmplimenteerde verval-modelle jou verkose minderwaardiges struktureel, dimensioneel, sou begin verwoes nie.

Pleit onskuldig. Daar is baie wat jou gaan glo, jou gaan ondersteun. Vir dié egter wat nie langer met hierdie smet kan leef nie, wat gaan ons, wat kan ons doen, om die brutale donker strominge na ‘n brose menslikheid te begin begelei?  Dit gaan meer dan mooi gekose woorde beteken. Dit gaan beteken dat jou dae en jou weke, en jou maande, en jou jare na iets wat been eerlik menslik en moreel sal wees, begin lyk. Maar nes die hoofstroom politiek, gaan die kerke ook met sielklampe fundamentalistiese denkdinge bly doen. Mag die ewigheid ons vergewe. Die Here weet. Maar ons, ons bly breingekondisioneerde mense, ons bly hulle, die ander, skaamteloos, vlakwaters, seerkry, verskriklike pyn, toe lei.

Lukraak. 

Wim van der Walt – Bellville