Eers het ek ‘n fliek gekyk. The Last Portrait. Dankbaar geraak dat ‘n fliek my kan verstaan. Bietjie wyn, bietjie kos. Toe raak ek lus vir ‘n McFlurry van Macdonalds. Ry so na 21h00 om dit te gaan koop. En so sien ek skrams ‘n skraal figuur wat op ‘n menslose huis se voorstoep homself tuismaak. Ek het hulle al gerapporteer, maar iets in die skraal figuur se manier laat my hom jammer kry.
Ek koop my McFlurry en ‘n Cheese Burger. En gaan stop by daardie donker huis. En ek stap stoep toe. Ietwat van ‘n risiko, maar my siel was reeds aan die bloei. Die jongman sit daar. Sy naam is Jason. Hy kom van Laingsburg af. As hy nog twee dae kan uithou kan hy permanente werk kry. Dit is nie net vir hom nie, se hy. Vir sy ma ook. Ek gee hom ‘n eenvoudige cheese burger. Daar kom trane vanuit sy regteroog oor sy wang. Sy ander oog en wang is in die donker.
Ek vertel hom ek gaan hom nie verklaar nie. Miskien kom ek weer moreaand. Naand Jason.
En iets baie diep in my raak kwaad anderkant die hartseer uit. Oor die verlorendheid van mense en die Have’s wat nog meer en meer aankoop. En ander wat amper banaal nog bly hoop.
Ek weet nog nie watter song ek vanaand gaan vind om my hartseer ‘n bietjie minder te maak nie. Ek het ‘n bed en ‘n badkamer. ‘n Lig en warm water.
Mens kan my seker ‘n mens noem? Of hoe?
Of hoe?
Wim van der Walt