‘n By, soos ‘n mot, wat bly verlang na lig

Gisteraand, laataand gestoep, aan die einde van ‘n lang uitkyk, terugkyk, verlangende vorentoe kyk oor die veerfyn skaamte van ‘n gekantelde maan, het ek wel myself weg kon stap om blakerversekerd my kamerlig aan te sit. Toe het ek hard en plat op my breë bed gaan sit. Ek het my skoene gebevingerd ontveter en toe het ek hulle stomp een vir een bietjie dié kant toe, bietjie daardie kant toe vir die lang swart nag uit en wyd gooi. So van skoen tot skoen het ek toevallig op gekyk. Miskien het my subliminale oor dit reeds gehoor en het ek maar bloot daaraan gehoor gegee. Miskien was dit maar net dit wat leef se gewoonte om aan die einde van alles ver op en oneindig wyd te wil kyk. Wat miskien anders dan dit? Die verlangende vlug van dat?

Binne die gesentreerde glaslamp teen die plafon het ‘n blote by in ‘n angstige fladder vibrerend geskarrel.  Die adam, eva, van ‘n by was in duidelike ‘distress’. Hy, of sy, was vas.

Die wete van die einde. ‘n Woedende helder gloeilamp het lig soos ‘n atoombom ontploffing verblindend laat skater. Die by wou maar net uit, soos wat hy of sy verleid deur ‘n verlange na lewe, na lig, die draai pleks van regs en weg eerder dieper binne die vorteks van eie verlies en globale verwoesting gemaak het.

Daar sit ek eers en kyk, naderhand staan ek versigtig op om dit van nader, beter te kan bekyk. Die by, Kafka, Dosteyevski, McCarthy om te bly leef, maar die donker drang het hom, haar verbete beet.

Vlug!, skree ek stom, want ek weet dat sy, hy kan hoor. Maar die by, is reeds aan die anderkant van hoor. Die by kan nie meer na rede, na ‘n lamgeslaande straatvegverloorder se flou geskrou, verbete gepleit, solipsistiese gebede, selfs vir ‘n vrye wyle luister nie.

Die finaliteit van predestinasie het reeds alle ander verwese stemme stom geslaan. Ek staan en kyk en ek weet ek kan die by laat leef. Of miskien net, as hy, sy, nie te veel brandskade reeds opgedoen het nie. Ek kan die lig afskakel. Dan gaan daardie groot verblindende lampgod geen lig meer hê nie, dan gaan die by nie teen sy, haar instink bly baklei nie. Dan kan sy, hy weg en uit vlug. Diep in die nag in om hom, haar, daar broos te gaan vertroos. Die kwylende wonde te lek, daarteen teer te vryf en more wanneer die son uitkom en jou liggaam weer begin skree vir lig, sal jy nie vergenoeg, hoog genoeg, kan vlieg om daarin te kan verbrand nie.

Dit is miskien hoe dit moet wees. Dat ons kan droom, maar nooit naby genoeg om in die hoogste water wat wel gaan val in te kan stroom nie.

En toe dink ek, miskien moet ek die vlieënde insekdodergif gaan haal. Dan kan ek hom, haar deur daardie skram oopkante van die glaswand met genadedood bespuit. ‘n Kleingod wat pyn nie veel langer kan vat nie. Ek, moet ‘n doodmaker word.

En toe dink ek, miskien as ek net die lig afsit, kan hy, sy ontnap. In die donkerte in. Tot daar waar ek in my geswete bed lê. Agter die doodsweet aan gaan hy, sy inklineer om my kwaad aan te val. Miskien gaan ek dan nie sterf nie, maar ek is nie lus vir die grillerigheid in die donkerte en die pyn nie. Kom ons los hom, haar, om verblind in die witwarm wind van my kamerlamp te skroei en kom ons kyk hoe maak hy, sy, in hierdie gekontroleerde laboratoriumtoestande.

So fladder my denke toe. En die by verstaan.

Want hy, sy, skarrel ‘n hele paar kere weg van die witwarmte van die oond, maar hy, sy, kan homself, haarself nie help nie. Aan die einde van elke keer se wegvlug, vee die by sy, haar pynende gat af aan my toejuiging en duik weer roosdiep binne die wit lig in.

Sy, hy, kan nie anders nie. Die verlange van een na alles, is groter as om net vir ‘n wyle verder vervaard rond te kan skarrel.

Ek, hoendervleis, sien hom, haar, wat ver buite hom, haarself, op die witlig afduik en daar, heregod, so dapper bly skroei totdat die trillings traag  en toe finaal feitelik gesink in die lig, tydloos alles wat is, wat was, doodstil, amper in ‘n ooite ongesiens, ongeraak agter laat.

Behalwe vir my.

Ek en my kamerlamp was steeds daar om strak, onverstaanbaar, na mekaar te sit en staar.

Na ‘n wyle was dit ek wat gewyk het. Ek het verder op my donker stoep na die uitgelate glimlag van die geel skewe maan in die na nag geverwonderd gaan sit en kyk.

Soos ‘n brewende by.

Wim van der Walt