So, het ek hulle die eerste keer gesien. In die besige harwar van Tygervalleisentrum veelvoetig van mense in volle weeklikse swang, was daar hierdie twee stil figure in ‘n eie vreemde persoonlike tydskapsule vasgevang. ‘n Middeljarige man wat stadig agteruit stap en stip op ‘n figuurtjie voor hom fokus. Sy was miskien nege, tien jaar oud. Sy ook. Gefokus. ‘n Gekonsentreerde kyk reg voor haar uit.

Toe sien ek die witstokstaf. ‘n Blinde kind wat geleer word om deur die gange van ‘n winkelsentrum op eie durf te kan stap. Deur haar koue kanale van blindheid. Agter ‘n man aan wat sy duidelik totaal vertrou. Haar liggaamstaal sê so. Hy praat nie baie met haar nie. Sy loop net met haar voete effe na buite vir beter balans en tik tik met die witkierie om ruimte en voorwerpe voor haar, langs haar, te kan onderskei. Te kan plaas. Sy luister stil intens met ore wat moet hoor sodat ‘n mens daarmee kan loop. Ooptes se klank huiwer langer. Voorwerpe gooi vir jou hulle klank vinniger terug. Dan moet jy slimmer tik tik om te weet waarvoor om te keer, hoe om jou lyf en jou loop te beskerm teen dinge se kantigheid.

Frans Moolman is ‘n Mobiliteit spesialis. Hy leer blinde kinders om iets van ‘n menslike wêreld te ervaar. Weg van die eentonigheid van ‘n strakstil huis, ‘n klaskamer wat net ‘n beperkte hoeveelheid oorbekende klanke aanbied. Hy bring hulle een vir een om vir veertig minute lank te kom stap, maar eintlik om te ruik. Die reuk van vars koffie wanneer jy by die kuierplekke verby kapkap tiktik. Die leerwinkel. Die biltongwinkel. Parfuum in Woollies. Stap stap deur PicknPay na die ‘doughnut counter’. Die ontvangs van ‘n stukkie gratis vreugde.

So ‘n magdom reuke om saam terug skool toe en huis toe te kan vat.

Die kinders van die Athlone Skool vir Blindes wil almal graag hierdie winkel-ekskursies doen. ‘n Geleentheid om te kan weet en ervaar dat daar is mense daarbuite wat met genot lewe. Maar Frans veg alleen om hulle bewegingskunde te leer. Mobiliteit. Hy kan net 19 blinde kinders per week help. By die ander 67 kom hy nie uit nie. En glad nie by al die swaksiende kinders nie. Hulle kry glad nie ‘n kans  om  na buite en uit te kom nie.

Hy moet intens op elke kind wat hy die sentrum inneem konsentreer. Elkeen van hulle het eie angsdrempels. Hy het al hulle harte gemonitor. Dit gaan op na so hoog soos 167 angskloppe per minuut. Die kinders se angsvlakke verskil van area tot area in die winkelsentrum en party raak banger as ander in sekere gegewe areas. Hy moet daarvoor gereed wees. ‘n Bietjie meer vertroostend intree, dan weer terugtree sodat hulle met eie wankelende dapperheid weer verder voortgaan. Tiktik met die witkierie.

Die kinders raak onseker wanneer daar te veel inligting verdiskonteer moet word. Hulle tiktik met die kierie raak dan vinniger. Angstiger. ‘n Oop deur tiktik soos ‘n verligting. Maar dan weer, wanneer hulle ‘n loopgeveg deur daardie donker veldslag baas raak, is die vreugde baie groot. Of as ‘n blinde kind skielik ‘n onverwagte bekende stem hoor. Ek sien hoe spring ‘n strak figuurtjie skielik in ‘n pratende man wat nadergestap kom se arms in. Met arms en bene en haar hele hart.

Vreemde mense kom soms ook met húlle harte nader gestap. ‘n Kaalvoet seuntjie is al met kierie en al in ‘n skoenwinkel ingevat vir nuwe skoene. Sokkies net daarna. ‘n Ander vrou en haar man het lank na ‘n onmiddelike oop hand voortgegaan om vir ‘n hele klas nog lewensgeleenthede te help skep.

Maar dan is daar ook die swaar kante van die blindes se wêreld. Behalwe dat baie van hulle uit baie arm huise kom, was daar ook naïewe brutaliteit hulle aangedoen. Een dogtertjie, vertel Frans, moes hy met ‘n tolk se hulp evalueer. Hy het haar laat vra hoe sy blind geword het. Skielik het die kind begin gil. Aanhoudend. Vir tien minute lank. Hy en die tolk was verbluf en hulle het gesukkel om haar tot bedaring te bring. Toe kom die storie uit. Op ‘n Sondagmiddag het sy gekla oor hoofpyn. Haar pa het gesê dit is omdat sy nog nie die tradisionele snytjies van hulle stamgebruik op haar wange gehad het nie. Op die volgende dag, Maandag was daar weer ‘n tradisionele bokvel vir haar geslag, op Dinsdag het hulle haar na ‘n tradisionele heler toe geneem. Hy het haar met kruie gesmeer, die bokvel oor haar gehang en vir ure lank oor ‘n rookvuur haar oë laat sper. Teen Woensdag was Amelia blind.

‘n Ander 16 jarige seun het eens uit die klas gestorm. Hoekom, het Frans hom gaan vra? Sodat julle my nie kan sien huil nie, het hy gesê. Sy ma het kruie in sy verswakte oë laat gooi. Toe sy oë ‘n paar dae later spierwit van finale blindheid word, het sy weggevlug. Die tienerjarige meisiekinders is die mees sensitief oor hulle witkieries. Een het wanneer sy mense hoor aankom, haar kierie neergegooi en dan styf teen die muur gaan staan en wag dat hulle wat stap verby kon stap.

Die blinde kinders se trauma word nie aangespreek nie. Volwassenes kan hulle kinderwêreld moeilik verstaan. Hulle kwaadgeit omdat volwassenes nie vir hulle ingetree het nie. Frans herstel hulle vertroue.

Wat ‘n mens se hart ook breek, vertel Frans, is wanneer swaksiende kinders op ‘n dag hulle witkierie kry. Dan weet hulle. Die mediese hulp het nie gehelp nie. Hulle blindheid is oppad. ‘n Mens kan die hoop in sulke oë sien dof word, sê Frans.

Wat hou die toekoms normaalweg vir blinde kinders in?, vra ek hom. ‘n Klein minderheid maak dit. Word selfs onderwysers om weer vir ander blinde kinders later skool te gee. Die meeste verdwyn in die niet. Hy vertel my dat terwyl hy so met ‘n blinde kind deur die sentrum oefenstap beweeg hy en die kieriekind verby een van sy oudleerlinge wat eenkant sit en fondse vir blindes insamel. Maar dit is eintlik maar net bedel, sê Frans.

Daar was al pogings om vir die blindes klasse in ‘Sound Engineering’ aan te bied. Die Japanese en die Britte het al geriewe daarvoor geskep, maar die deurvoer het bly taan. Wat nodig is, is konstante bestuur om die blinde kinders wat juis geskik is vir hierdie tipe werk, met besigheidsbeginsels op te lei. Maar die onderwysdepartement het nie nog daarvoor ook personeel en fondse nie. Die sakesektor behoort hier te help, maar ook hulle het ander beter dinge vir hulleself om mee geld te maak. Skole met kinders wat met gesonde oë geseën is, sou ook met fondsinsameling ‘n verskil kon maak.

Daar is ‘n tipe bril wat met klank afstande kan monitor, maar dit kos derduisende rande. ‘n Witkierie kos net R 175 en ‘reading glasses’ net R 50. Maar dit pas ook nie in die staat se begroting mooi in nie.

Daar is nog ‘n groot probleem vertel Frans. Hy tree af oor vier of vyf jaar. Dan het die skool niemand wat die blinde kinders kan leer oor mobiliteit nie. Dan gaan dit stop vir die kinders wat nou nog ‘n winkelsentrum kan verken. Niemand gaan studeer beweegkunde nie want die salaris na ‘n twee jaar diploma is te swak. ‘n Onderwyser kan ook nie verlof met betaling kry om dit te gaan studeer nie. Dit raak ‘n doodloopstraat. En die blindes word nie minder nie. In Namibië raak hulle selfs beduidend meer. Niemand weet nog hoekom nie, maar kinders met swak sig se gesigveld verklein merkbaar. Iemand behoort daaroor ‘n wetenskaplike studie te doen. Maar daardie iemand bestaan nie.

Frans vertel my ook hoe hy in die 1980’s met ‘n blinde Kleurlingseuntjie treinwerk gedoen het. Vanaf Bellville is hulle per trein Kaapstadstasie toe. Hulle het bakens saam geëien op Kaapstadstasie, koeldrank gedrink, totdat ‘n kondukteur aangestap gekom het om hom te waarsku dat hy nie ‘n Kleurlingkind weer in die Blanke wa moet inneem nie. Gelukkig, glimlag Frans vir my, het FW net die volgende dag aparte treine en ‘n paar ander dinge ook afgeskaf. Anders sou hulle weer van vooraf met nuwe bakens moes begin kieriewerk doen het.

Hy vertel my ook hoe vreemd dit vir hom gevoel het om my vir koffie te ontmoet. Die ruimtes waardeur hy met intense aandag op elke kind en hulle eiesoortige behoeftes stap, lyk so vreemd anders as jy bloot aanstap om by ‘n tafel te gaan sit en sien hoe mense agteroor sit en kuier. Sy vrou Suretha praat van sosiale opvoeding wat nodig is sodat mense hulle ook in ander se leefwêreld kan indink. En meeleef, sou ek wou byvoeg.

Later staan Frans Moolman op en vertrek. Ek kyk die man met sy doktorsgraad in Mobiliteitsgedrag van blinde kinders agterna. Dit is ‘n leeftyd van empatiese diens wat so wegstap terug na sy blinde kinders toe. Niemand klap vir hierdie held hande nie. Hulle sien of hoor hom nie eers wegstap nie.

Wim van der Walt