My effe effe potsierlike kunsgaleryperdjie

Ek en my gesellin daag op ‘n Dinsdagaand op by ‘n besonder karaktervolle ou geboutjie in Durbanville wat ook aan ‘n kunsgallery daarbinne besondere atmosfeer verleen.

Dit is die opening van ‘n verskeidenheid kunstenaars se kreatiewe repertoire. Daar is nogals baie mense vir ‘n Kaapse winteraand. Hulle staan oral en gesels. Hulle drink wyn meestal. Meer rooiwyn as witwyn. Maar dit is koulik winter in die Kaap van onmeetlike storms. Die kunsliefhebbers groet mekaar meestal vriendelik.

‘n Mens begin na die kunswerke kyk. Daar is baie. ‘n Hele paar vertrekke vol. Dit is lekker. Daardie soort lekkerkry wat net kuns vir ‘n mens kan gee. Stilweg ‘toast’ mens die kunstenaars wat een vir een in hulle sakrale ‘studios’ werk werk werk om die droom, die verbeelding, die verlange om die volle spektrum van wonder en pyn in die omvang van lewe met fyn vorm aan gestalte te gee.

Die rooi kolletjies wat verkoop aandui, word deur die toegewyde kuratrise se ‘side kicks’ aangebring soos mense hulle haastige voorsprongkeuses vir hulle wonings en hulle siele kleim.

Ek loop en ek kyk. En ek geniet. En ek ‘sip’ my witwyn. Daar is nogals ‘n paar werkies wat aan my geslote en beperkte beursievermoë krapkrap. Maar soos ‘n volwasse wese, geroskam deur die lewe, knyp ek die wordende begeerte dodelik en smoorvas teen my beursiebors.

Maar dan, toe, gebeur die onvermydelike. Ek kom tot stilstand voor ‘n klein kunswerkie. Dit is net ‘n effe effe potsierlike perdjie wat volbors vir my vanuit die raampie kyk. Blouerig. Die kop kom eintlik in twee dele. Dit lyk half aan en by mekaar geplak. Die voorbene en pote lyk ook effe naïef saamgestel. Dit laat my dink aan daardie halfperd/halfmens goete in die menslike mitologie. Ek kan nie ophou kyk nie. Die perdjie se lyf laat my dink aan ou kinderspeelgoed waar mens twee vorme aan mekaar kon plak en dat het dit ‘n eie verwonderde vorm gehad. Ek vind my siel staan in ‘n vreemde ootmoed stadig aan hande en ‘n verstomde hart te klap.

Ek kyk rondom my. Die mense kyk nie hier nie. Gelukkig. Hulle kyk elders. Hulle kyk altyd elders. Die rooi verkoopkolletjies bly opgaan. Nou skrik ek. ‘n Opgewonde vrou staan langs my en kyk na die werkies voor ons op die muur. Sy roep die blonde verkoopsdame nader. Ek sidder in my koue bloed. Daar gaan ‘n rooi kolletjie op. Dank vader, dit is vir die klein kunslandskappie reg langs die perdjie. Dit is ook mooi, maar dit praat glad nie met my nie.

My perdjie het ‘n vissestert. Nie ‘n regte perdestert nie. Daai kunstenaar wat hom geteken het, het die see vir hierdie perdjie ingedagte gehad. ‘n Perd wat die see sou inswem om angstige mense van ‘n sinkende skip te gaan red. Saam met ‘n ander dapper man.

My perdjie is van ‘n ander kleur as anner perde. Blouerig. Soos die see. Soos die hemele op ‘n wolkelose dag. Soos die lewe. My perdjie is in ‘n ander klas as al die ander kunswerke. Die ander wil dit met tegniese vaardighede en gewigtige kunstenaarsname oorweldig. My perdjie spook met my siel. Bly kyk of ek een het. Bly wonder of ek iets van die lewe verstaan.

Dan knak ek. Ek roep die plakker van rooi verkoopskolletjies nader. “Ek vat die perdjie. Plak daai rooi ‘sticker’.” Ek gee my kontakbesonderhede. Die dag van finansiële afrekening wag. Mag my bankbestuurder net asseblief nie hiervan uitvind nie, bid ek deur die ou venster die donker nag in.

Later is my metgesel diplomaties inskiklik met my aankoop. Sy sou nie daardie een gekoop het nie, sê sy. Ek krimp bietjie want ek weet sy weet ’n wye oseaan van kuns af. Maar die perdjie loer vanaf die anderkant van die vertrek en kyk wat ek gaan sê? Ek glimlag effe verleë, maar sê dat ek gaan volstaan met my keuse. Ek voel my nederlandige obsternaatgeid ook van iewers inskop.

Het ek reg gekyk? Het daai perdjie se vreemde gekliefde kop ‘n effe vir my geknik? Dit is glas een van wyn. Ek het nog nie die euforiese fase van liefdemaak bereik nie.

Die volgende dag besoek ek vir ‘n ander rede weer die gallery. Dit is toe wat ek die vorige aand se bewing aan my mondhoeke herken. Die kuratrise herhaal onbeïnvloed die refrein van kennerswoorde, “Ja…ek sou nou nie dit gekoop het nie”. Met ‘n mate van vriendelike ongemaklikheid. Dit was toe dat ek die bewing aan my mondhoeke naam gegee het. Die stil geboorte van die vorige aand se eksistensiële gebeurtenis raak verstaanbaar.

Met al die kunsliefhebbers rondom wat een na die ander die keur van benaamde werke rooikol, het my blou perdjie bly retireer. Tot amper in die see. Anderkant uit diepwater toe. Ek was hy wat verby Wolraad Woltemade ingeswem het. Ek het my perdjie uit die see gaan red. Ek het toe al besef hierdie onvolmaakte perdjie se daarstelling deur ‘n onbekende kunstenaar het na die verlore metafoor van kuns verlang. Na daardie duister ruimte waar die vreemde donker drang van lewe na meer lewe, nie onder demokratiese en puristiese kunskundigheid in die slag gaan bly nie. Na daardie eerlike ruimte waar die lewe weer kan begin sweet. Waar mens weer soos ‘n kind in ongekende genot die kleure en geure van die lewe geniet. Waar die regte toepaslikheid van dinge nie ‘n hel saak maak nie.

My perdjie, wat nou nog daar in die gallery hang, kyk na die lewe op ‘n manier wat sê, “Moenie dat niks ooit geyk raak nie. Moenie dat die hiperstilistiese vorm die essensie van ‘n fermenterende lewe kaap nie. Moenie dat kuns deur subtiele ‘cliches’ naderhand nie meer lewenskuns is nie.

Ek wag nou nog net op die einde van die kunsuitstalling daar in Durbanville. Dan gaan ek my ‘odd’ blou perdjie gaan haal. En as ek kan, dan gaan ek op sy rug wegry, langs Wellingtonweg af, Durbanweg af. Huis toe.

Of miskien hou ek sommer net aan. Blou see toe. Met my blou perdjie. Met my ‘odd’ blou perdjie.

Op gallop. Diep waters toe.

Wim van der Walt