Moord op my stoep
Ek het netnou ‘n spinnekop doodgemaak. Hy het my niks vooraf aangedoen nie. Ek het op my balkon gesit en met ‘n beker koffie in die hand die mooi mooi herfsdag gesit en aankyk. Toe sien ek hom. Hy het ‘n spindraad vanaf die aliminiumventster na die stoel oorkant my gespan. En daar sit hy toe. ‘n Stewigerige spinnekop op sy spinnekopdraad in die skittersonnetjie. En daar sit ek. En ek hou nie van die gedagte van die spinnekop daar nie. Ek sit partykeers op daardie stoel as die dag dit van my verwag.
En so staan ek op. En ek sit my beker koffie neer. En ek stap oor en ek trap die spinnekop en die spinnedraad plat. En toe gaan sit ek weer op die anderkant se stoel. En ek sien nie meer ‘n spinnekop op ‘n spinnedraad nie. En vyf minute later voel ek nog nie beter nie. Ek voel sleg oordat ek die spinnekop doodgetrap het. Die herfsdag versterk dit seker, maar ek voel half hartseer oor die dooie spinnekop. Hy wou maar net daar in die sonnetjie sit om ook ‘n lewe bymekaar te sit. Maar so was hy in my pad. Hy het my gemaksone ingeval.
En ek het dit geregverdig dat ek belangriker as hy was. En ek het goed besef dat ek ook baie groter is. Ek sit nog so en kyk na die misdaadstoneel toe kom daar ‘n vlieg en gaan sit ook daar rond. Vir ‘n rukkie kyk ek na die vlieg en die reste van ‘n lewe en toe staan ek op en gaan waai die vlieg weg.
Gisteraand het ek ‘n dokumentêr oor die historiese gang van slawehandel gesit en kyk. Toe daardie spinnekop nog geleef het. En dit maak nie saak wat al die teoloë, die ekonomiese ideoloë en politici sê nie. Charles Darwin hulle was so reg. Die drang om te oorleef het ‘n perkelose geskiedenis. Ons het in die latere gang pragmatiste geraak deurdat ons begin besef het dat wanneer ons mag beperkend is, ons met ander soortgelykes moet saamstaan om te oorleef. Maar mag sonder moraliteit het ‘n lang gang. Die slawehandel onder andere bewys dit. Hoe mens met ander perkeloos, gewetenloos, kan mors om jouself te bevoordeel. Maar soos ‘n ander Amerikaner gesê het. Slawe? Ons besit hulle nie meer nie. Ons huur hulle net.
Maar die herfsmelankolie bly knaag. En ek gaan hom netnou weer bekyk. Nie die dooie spinnekop nie. Nie die doodstoneel nie. Oren Harman se boek, The Price of Altruism. Die tragieke storie van George Price wat die formule gaan vaslê het. Hoe die lewe op ‘n dag   miljoene jare gelede hulle se rugge begin sterk maak en saam saam ‘n brug te gevorm het sodat ander bo oor kon klim. Om ‘n lewensvatbare poel te bereik. Al het dit die brugbouers se dood beteken. Iewers lei dit na ‘n latere lewensverhaal.
En behalwe ek en my slagoffer hier, die platgetrapte spinnekop, is die wêreld daar buite nou baie mooi, maar ook so verskriklik broos van siekword en doodgaan en swaarkry, dat mens wonder wat werklike altruïsme, werklike brugbou in hierdie tyd beteken?
Kan ons moontlik aangepaste lewenswesens word wat meer as ooit te vore vir mekaar wyd gaan begin omgee? Of volstaan ons met al die doodmaak en seermaak?                                               Wim van der Walt  – Bellville