Dit het begin met ‘n oproep van Abdul. Die jong nagwag met die skoon gesig wat ek as eiendomsagent begin inspan het. Hy deel my formeel mee dat daar ‘n kliënt by die skouhuis wag.

Ek ry na die nuwe eiendomsontwikkeling in Blue Downs en vind David daar. Hy is 67 jaar oud en wil ‘n huis koop. Ek sidder. ‘n Mens se drome is so dikwels  groter as die harde werklikheid. Maar Abdul kyk my diep in die oë en sê dat oom David kontant gaan betaal. En, sê Abdul, oom David het reeds ‘n huis.

Ons doen die papierwerk, David se vrou kom teken ook. Ek het nog nooit oor ‘n koopkontrak gehuil nie. Maar saam met die stadige kruisies oor die bladsye heen raak dit gevaarlik amper.

Een wolkerige Saterdagoggend, ‘n week of wat later, besluit ek om by David in Blue Downs te gaan kuier. ’n falanks kinders bestorm die “uncle” met mening. Een kleintjie steek sy hand met ‘n groot glimlag uit om my te groet. Hy onthou ons formele kennismaking vantevore.

Nou wil sy maatjies ook formeel met my raak. Ek groet elkeen plegtig met die hand en die gesiggies straal van die vreemde genotvolle ervaring op ’n Saterdag. Die lewe stoot soms kosbare momente onverdiend na ‘n mens se kant toe oor.

Ek en David gaan sit binnekant om te gesels. Hy is in 1945 op ‘n Bonnievale-plaas gebore. Op sewe het hy begin werk.

Watse werk kan ‘n sewejarige kind op ‘n plaas doen? “Ek het eers die perde in die lande gelei,” sê hy. “Later het ek ‘n wingerdsnoeier geraak. Toe ‘n  aartappelplanter”.

Maar saans, vertel David verder, het hy aandskool toe gegaan. ‘n Duitse vrou het vir hulle kom skoolhou. Op 12 was skool verby en het hy plaaswerk gedoen tot hy 30 jaar oud was. Weekliks het hy van sy loon gespaar.

“Ek spaar eers vir die toekoms”, het hy vir sy pa gesê. “Voor ek ‘n antie gaan vat”.

Op 30 het David die plaas verlaat en hier en dan daar gaan werk. Karige salarisse het hom oral ingewag. Jare later het hy by Chrisjan Hammitse,  die bou “trade” aangeleer. Toe het dit ’n bietjie begin beter gaan.

Maar voor dit het David baie swaar gekry. “Ek het baie buite geslaap”, vertel hy.“Ek het in die bos, slote en onder plastiektente geslaap”, sê  hy, sonder enige bitterheid. “Dit het baie tragies gegaan met my”.

Die kinders kom loer elke nou en dan in om te sien hoe vorder die gesprek tussen Oupa en die vreemde man doer van anderkant die heelal.

Waar het die dinge vir hom gedraai? By Hammitse?

Nee, skud David sy kop. By die kerk waar die mense vir hom gebid het. En eintlik by daai baas, Ken Macintosh. Die man wat gesê het hy sal eendag terug Duitsland toe gaan.

“Maar”, het Macintosh vir David vertel, “jy moenie worry nie, ek sal na jou omsien. Jy sal sien.” ‘n Man met ‘n Skotse van wat  terug Duitsland toe wou gaan? Daar dryf nog ‘n storie.

“Nou sterf hy. In 1959”, vertel David op sy manier. “Hy het altyd in ‘n hees stem gepraat. Asma.”

Macintosh se weduwee het vir David ingeroep. Op ‘n tafel het geld gelê. ‘Dit is joune”, het Ounooi gesê, ‘Oubaas het dit vir jou gelos”, en toe het sy dit oorgeskuif.

“Jy moenie ‘worry’ nie, jy sal sien”, herhaal David Ken Macintosh se woorde. Hy kyk anderkant my uit na iewers. Twee honderd pond se spaargeld.

Ons praat oor die lewe. David bring sy eie dinge. “Wat die waarheid is, is die waarheid, wat die leuen is, is die swye”, sê hy. Hy verklaar die swye as die duiwel en sy dinge.

En hy vertel verder. “Ek was ‘n rowwe Jan…het baie baklei. Jy kan nie ‘n ander man jou in die gesig kom krap nie. Dit is joune. Dit is jou ma se gesig. Die lyf is jou pa s’n”.

Hy vat aan sy eie gesig. “Die gesig is jou ma se gesig”, herhaal hy.  Daar is iets sags in sy stem as hy dit sê. “Maar”, sê hy toe, “Ek het in 1969 ‘n moeilikheidmaker met dié vuis platgeslaan. Een hou. Hulle het hom probeer lawe”.

Sy vrou? “ Die eerste twee het onder my uitgeloop. ‘n Mens werk, en dan kom jy huis toe en dan het daar dinge gebeur”. Hy kyk of ek verstaan. Ek knik my kop.

In die laat 1960’s het hy by Stellenbosch ‘Winery’ gewerk. Een middag het hy met sy fiets by ‘n meisie verby gery wat op haar eie gesit het. Hy’t ’n entjie verder gery. Toe omgedraai. Terug gery. Daardie moment wat die geskiedenis vir ‘n mens kantel.

“Hoekom sit jy so alleen?”, het hy haar gevra. “Ek voel nie om huistoe te gaan nie”, het sy geantwoord.

Nie een van die ouerpare was gelukkig daarmee dat David en Sylvia trou nie. Dit sou hulle ‘n broodwinner kos. Maar, daar was klaar ’n meisiekind aan die aankom. Toe skrik hulle ‘n bietjie.

David het die gebooie vir trou aanhangig gemaak. Op ’n Sondag in 1969 het hulle in die ‘Bishop’ se huis getrou. Na die tyd het hulle in Chrisjan Haag se huis met enkele gaste saam tee gedrink, koeksisters geëet. Net dié wat wou kom.

Sylvia het vir hom by die troue gesê: “Ek sal jou oppas totdat die Vader jou gaan wegvat.”

“Ek het vir haar dieselfde gesê,” bevestig David. En tot nou toe, het dit gehou.

“Ons leef baie gelukkig, daar is nie probleme by ons nie”.

David het gewerk, midde swaarkry geld bly spaar.

“Eenkeer het my pa my na sy blyplek laat kom.

“‘Ons gaan gesels oor jou toekoms’, het die ouman gesê. Skuif daardie tafel uit, dat ons kan gesels.’

“Toe sit hy ‘n groot boks op die tafel. En toe haal hy geld uit. ‘Dit is joune…wat gaan jy daarmee maak?,’ het my pa gevra.

“Spaar”, het David geantwoord. Hy het dit in ’n nabye bos begrawe, want daar was baie skollies in die rondte. Later het hy dit gaan opgrawe  en sy eerste huis in Kraaifontein gekoop. Nog later kon hy opgradeer na sy huidige huis in Blue Downs. Hier is hulle tot nou toe nog.

“Tot 1999 het ek bly spaar”, vertel David, maar nou kan ek nie meer nie. Dinge het te duur geraak”. Hy glimlag half verleë. Dit is altyd half hartseer wanneer die leitmotif van jou lewe weggekalwe word.

Nou wil hulle vir oulaas darem ‘n nuwe huis koop. Op die erf waar hulle tans nog  woon, is daar vyf gehuggies. In een bly sy broer Cobus saam met sy dogter, skoonseun en seuntjie.

Die hoenderhok langsaan? “Daai nou is my broertjie se hoenders”. In die tweede een woon die 66-jarige Willem. In die derde hokkie woon Christine met haar twee kinders.

“Sy het darem so af en toe werk”, verduidelik David. In die vierde hokkie woon Karin en Julian. Hy sny soms gras en doen ook tuinwerk. Karin werk nie. Hulle het 4 kinders. In die vyfde hokkie woon Japie en Marie met hulle kinders. Ook Japie kry darem soms werk.

Later poseer David en twee van sy broers met ‘n foto van hul 103 jarige-ma vir my kamera. Ouma Bettie se kleinkinders sit in ‘n korps aan hulle voete. Die gesiggies skree stil daarna dat aandag hul naam sal vra.

“Hulle is almal aangeknoop aan my”, verduidelik David oor die konsentraat van mense op die klein lappie grond. “Niemand ly honger nie”, sê hy. Soms staan hy sy kos af aan ‘n kind. “Ek hoef nie baie te eet nie”, sê hy op sy stil manier.

Saans kyk almal saam TV. Tot laat en weerhou so vir die 23 jarige Jonathan van sý slaapplek. Partykere raak dit so laat dat die mense nie die volgende dag wil gaan werk nie. “Ons maak liewer ‘n bulletjie”, sê hulle dan. Ek en David grinnik saam oor hierdie stoutigheid.

Buite skud David my hand voor ek vertrek. Hy verras my. Hy skud hierdie keer hand soos die swartmense doen. Ek snap gelukkig vinnig genoeg. Dit is nie ‘n poeierhandskoengroet nie.

Dan vertrek ek terug na geteerde strate, na huise waar die vuilgoedblikke meer kos verteer as wat hierdie familie saam te ete kry.

Ek bly wonder oor “… die waarheid, die leuen en die swye’. Maar ek ry net aan.

Wim van der Walt