Mens kan. Mens kan jonkgat op ‘n Oosrand mat lê, en mens kan die leë stoele sien, en die leë sitbanke, en mens kan die afwesigheid van mense soos ‘n werklikheid op die hoendervleis van jou vel voel. Mens kan. En mens kan die verlange aanvoel wat oor baie dekades en eeue selfs, soos ‘n verlore hoop nie wil ophou en bloot stop nie. Mens kan hoor met ore. Hoe die ‘humming chorus’ van Puccini verby partikuliere drempels loop, dring, en wyd wil, en sal, voortvloei. Sodat die swartnag skitter sterre daar buite bo ook kan hoor wat dit is om soos regte mense baie groot en baie diepkens verby blote einders wyd, eindeloos ander kant uit, te bly verlang.
Mens kan, met groot en klein en fyn sterre vriende raak. Mense kan. Puccini praat so bitter baie fyn, dat daardie diepnag sterre ook eindeloos na ons eintlik bly verlang.
En dan kom Maria, Maria Callas, en doen verder skade.