Ek weet baie dinge nie, maar ek weet dat wanneer Meatloaf met sy doods-Harley aan die onderkant van die trappe tussen hulle wat altyd daar bedaard wag, inry, inbrul, gaan hy gevra word om weer daai song te sing. Bat out of Hell. Links van die trappe en regs gaan hulle luister. Hulle sal nie anders kan nie. Nee, mens kan nie anders nie. Witvlerk deinsfigure ook nie.
Mens het vandag skielik weer onthou hoe jy gevoel het toe daardie blikskottel teen die trappe van Rocky Horror Picture Show af gestoom het. Met daai stem. ‘n Sweepslag vir ‘n stem. Wat ore kon laat kraak. En dit ook gedoen het. En daarom ook die siel wat onder die skedel bloot begin tril het. Na Meatloaf en Bat out of Hell, het jy nie meer jou broek tydens Sondagskool nat begin piepie nie.
Hel, hy het ordentlike mense aan die dans gesit. Mens het nie geweet dat jy knieë het wat kon staccato knetter voordat Meatloaf dit ge’up-start’ het nie. Okay, Elvis hulle, sorry bra, het ook ‘n rol gespeel. Wonder nogals of Elvis met sy skewe glimlag vir Meatloaf gaan dagsê? Buddy, Chuck, Chuck Berry, Dolores, wag julle beurt af.
Eerbare Dames en Geagte Here, op hierdie vroeg aand gaan ek dit nou doen. Ek verklaar dit formeel. Ek gaan die Rocky Horror Show op Loud sit, ou ‘rebel’ of te not, en wanneer daai bike met daai donner afstorm, gaan ek sy stem doodgewoon ‘match’. Sorry vir die bure.
Meatloaf is dood vandag. Ek skree vir jou. Meatloaf. Ek skree vir jou.
Wim van der Walt