Man op die maan

Daar kom ‘n punt in enige mens se lewe dat jy jouself in die reine moet bring. ‘Come clean’ soos die Ingelsman sê.

Nou, op hierdie rype ouderdom weet ek die volgende: alhoewel my kinders hulle gatte aflag wanneer ek kwaad word omdat hulle die Illuminati, Afrikaanse koerante, Vrye Moedersbond ens. glo, weet ek steeds dat jy, vir eeue lank al, alleen die maan bewoon. Ek het by myselwers menigte nagte na jou doen en late op die maan gesit en kyk. ‘n Mens moet erken, jy maak dit nie maklik vir ons realiste nie. Dit is nou nie as of jy daar op ‘n volmaanaand staan en hophop en vir ons waai nie. Nee, slegs as ek my duursame Hypermarket verkyker meedoënloos en verbluf op die geelglans gefokus hou, solank so dat ek soms skeelhoofpyn kry, flinker jy in visie. Dan is alles die moeite werd.

Hierdie boggers wat dink dat hulle iets van my gaan erf, kan maar lag. Maar wanneer ek jou gewaar en sien hoe jy met fladderende vlae, morsekode boodskappe na landsleiers eers aan die Suide, dan die Noordekant stuur, besef ek hoe baie jy al opgeoffer het om so alleen te bly leef net om die mensdom op spoor te hou.

Ek kon nie regtig sien wat jy vir Harry Trumann beduie het nie, en ek glo hy het jou verkeerd verstaan, want geen morele mens kan bevel gee dat twee bomme soveel mense mag doodmaak nie. En Hitler was besig om aan sy haat te skryf. Hy het jou glad nie raak gesien nie. Ek kan ook nie my oë belowe dat jy aan al die leiers  van die wêreld tekens probeer gee het, en steeds gee, en dat hulle steeds agter mekaar se rue aan mekaar soveel skade toe dien vir eie provinsialistiese voordeel nie. Spel mens provinsialisme, solipsisme en barbarisme dieselfde man op die maan?

Dit is eintlik te veel alles vir my om te bedink wanneer ek die verkyker weg van die vol swangermaan na wie ons almal se harte so bitterlik verlang, draai.

Dankie vir een duidelike teken darem, man op die maan. Soos wat jy met volmaan jouself baai in goedheid, ‘n volswang moraliteit, deel van ‘n grootgroot droom, kon ek darem ook al agterkom soos wat die maan van helderte geskil word en jy op al hoe kleiner skywe van goedheid rond moet skuif soos wat die boosheid jou mooi droom weg bly kou, jy dit dapper bly doen sodat ons goedheid dalk mag begin raaksien. Goed kan begin sien hoe goedheid, en mooiheid, en menslikheid, saam wegkrimp wanneer ons nie die volheid van lig met ons lewens, en in ons eie lewens beskerm nie.

Dankie, maanman, uiteindelik verstaan ek. Die boosheid is maar net goedheid wat gradueel, wetende en onwetende, kankerselle van verval toelaat. Gierigheid lê in provinsialistiese harte, halfblinde gewetens en dan storm die skelm wette, polities en ook die persoonlikes, dwarsdeur ‘n verstomde volmaan.

Totdat net die donkermaan oorbly. En wat gebeur dan, man op die maan?

Wim van der Walt – Tygervallei