Laetitia Riëtte van der Walt

Ek het ‘n sussie gehad. Sy was gebore met ‘n doodsvonnis – Down Sindroom. Mongooltjie in gewone spraak, allemanstaal geformuleerd. Behalwe die sindroom, was sy half verlam vanaf kort na geboorte. Sy sou nooit kon loop nie. Inteendeel, sy was aangewese om op haar boude vorentoe te skuiwe na waar sy ookal wou gaan.

Maar sy het in ons harte ingekruip. Mongooltjie oë, mongooltjie trekke, maar sy was onse kosbare Rettie.

En sy het sommer ook nog boonop ‘n lekhartjie gehad. Die gode het haar hard geseën.

Sy het siek geraak. En ‘n vliegtuig het in die Karoo gestop om haar Kaap toe te vat na sterker hospitale toe. En sy het weer teruggekom. Beter in basiese gesondheid. Maar so verskriklik skraal.

Ek weet nie wie se voorstel dit was nie. Maar hy, of sy, was ‘n stukkie gods. Hulle het vir haar ‘n houtkarretjie gemaak waarop sy kon sit en waarmee sy haar half lamlyfie van hier na daar na anderkant kon soort van voortstuur.

Maar voor dit. Gaan kuier ons in Kimberley. By my Oom hulle. En daar gebeur dit. Ek hoor ‘n geskreeu. Rettie het in ‘n houtsplinter in die houtvloer ingeskuif. Sy sit vas in die vloer. Haar seerkry en angs knetter deur lywe. Later bedaar dinge toe die pyn ingespuit word.

Toe kry sy die karretjie.

So het sy gedoen. Dikwels na die bure se grensdraad geskuifel. Daar was sy bewus van ander soort mense as haar eie. Nuuskierig oor hulle. Sleepbeen haar karretjie daarheen getrek. Maar daar was ook ‘n pluimplant op die grenslyn tussen ons en hulle. Daarvan het sy vere gepluk. Daardie pluimvere het sy in haar hand geneem en dan geblaas. Sodat dit kon vlieg. Soos wat sy nie kon doen nie. Ek dink ek weet wat in haar kop was. Ek het die huil-van foto.

Met tyd was sy in ‘n spesiale versorgingsoord vir ‘vertraagde’ kinders geplaas. Ons ander het soort van met ons lewens aangegaan.

Toe kry ek die oproep. Rettie is baie siek. En my ma-hulle is op vakansie. En my suster wat haar so getrou versorg het, is getroud en ver van daar. Net ek. Ek gaan tel haar op. Haar een been kan nie meer werk nie. Daar is ‘n bloedklont.

Ek vat haar Edenvale hospitaal toe. Daar waar ek al ‘n ‘nurse’ voorheen gewees het. Die dokter kyk na haar. Slaan my teen die voorkop. Rettie se been moet ge-amputeer word, sê sy. Ek weier en vat haar na ‘n ander hospitaal in Johannesburg. Hulle neem haar op. Ek sit by haar dag na dag. My ma-hulle is oppad terug vanaf hulle vakansie.

Ek sien haar lippe is droog. Ek pleit by haar om die water deur die verkorte strooitjie op te suig. Sy kan nie. Ek maak haar dor lippe nat. Of dit ietwat help weet God dalk alleen.

Op ‘n moment wat ek probeer help sê sy vir my iets. Dit, as ek my trane kan beheer, is tussen my sussie en my.

En so sit ek, so lê sy en sukkel vir ‘n lewe. Ek was besig om uit  Hebreeus iets vanuit die Ou Testament te vertaal toe dit gebeur het. So ietwat na agtuur in die aand kyk ek op. Hoekom, waarom, weet ek nie. Die moment wat ek op gekyk het, was daar net Rettie en haar bleek gesiggie. En in die volgende oomblik het bloed by haar regtermondhoek begin uitsypel.

Ek het uitgestorm vir hulp. Die verpleegsters het ingestorm. Maar ek het ‘n dooie sussie gehad.

Toe ons haar begrawe het, het ek haar graf self op my eie, halfpad toegegooi. Met baadjie en das en al. Voor die munisipaliteit se arbeiders oor gevat het.

Ons het almal ons alfa-figure. Hierdie sussie is myne. My storm vir ‘n eerlike lewe. Moenie dit probeer minder maak, of vertaal nie. Dit gaan nie werk nie.

Wim van der Walt of soos sy swaar sou sê, Wilhelmus en nog iets op daardie laaste lewens aand.