Kraakvars Koeksisters te koop!
Die eerste keer wat ek haar gesien het, het daar net ‘n paar jong ogies bo oor die kartonbord sigbaar gewees. Toe was dinge nog nuut en haar skaamkry vir langs die pad staan ook. Nie heeltemal ‘n koeksistermens nie, het ek maar gekoop want ‘n mens se hart het so bly praat. Ek kyk terug terwyl ek wegry. Die meisiekind hou die plakkaat hierdie kant toe vir karre wat aankom. Dan weer daardie kant toe. Heen en weer. Soos die karre kom en gaan. Nie een stop voor ek wegdraai en my gewete begin afstomp nie. Maar die figuurtjie bly karring aan my kop. Dan kry ek tog reg om weer hulle wat swaarkry na iewers in my onderbewussyn te laat wegsink.
‘n Maand of wat later ry ek toe weer op mooi herfsoggend daardie pad. Daar staan sy toe weer. Die gesiggie het van die vorige keer al heelwat meer son gevat en sy hou die koeksisterverkoopbord baie meer loshandig voor haar.
Ek stop. Hoe gaan dit?
“Sleg oom…die mense koop nie koeksisters nie”.
Hoekom nie?
“Die mense het nie nou voor ‘paydag’ geld nie”.
Wie koop by jou Chenel?
“Die ‘regulars’…party van hulle as hulle geld gekry het, koop sommer ‘n paar pakke”.
Hoe oud is jy kinta?
“17 Jaar oud oom”.
Dit is wat my die vorige keer getref het. Hierdie jong tienermeisie wat nie saam met die jong klomp in die winkelsentrums uithang nie. ‘n Mensie wat haar trots diep in haar sak moes wegsteek om op ‘n straathoek met ‘n kartonadvertensiebord kraakvars koeksisters te staan en verkoop.
Dit is ook nie of die lewe al vir haar baie kanse gebied het nie. Van negejarige ouderdom het sy tot sestienjarige ouderdom in ‘n kinderhuis gebly. Pa mag haar nie langer versorg het nie. Ma kon haar nie versorg nie. So het die kinderhof besluit.
Die kinderhuis was nie vir haar lekker nie. “Die kinders steel mens se goed oom…en hulle baklei met ‘n mens”.
Die seuns en die dogters, vertel sy. En toe op sestien kom sy uit die kinderhuis om haar ma te help. Haar ma was voorheen vasgevang in ‘n destruktiewe huwelik waarop drankafhanklikheid ook gevolg het. Chenel se halfsuster het lank lank gelede geleer koeksisters bak en verkoop om aan die lewe te bly. ‘Op 17 het ek ‘n groot pak klere gepak en ek gooi!’. Die jongvrou het ‘n reguit kyk in die oë wat daarvan vertel dat sy skoolgeld betaal het en die afwaartse kolk geklop het. Met ‘n swaar babadra lyf het sy dapper strate afgestap vir inkomste. So is ‘n koeksisterbesigheid teen hopeloosheid begin. Nou is dit haar ma se beurt om dae lank koeksisters te bak en Chenel se beurt om die strate en die verbygaande mense met die kraakvas koeksisters te probeer interesseer. Sê Chenel se sus, “Leer ‘n mens om vis te vang en hy kan na homself kyk”. Die ma van die twee meisiekinders, daar is nog ‘n seuntjie ook wat elke dag skool toe gaan op sterkte van koeksisterverkope, bak drie dae week van die oggend tot in die middag koeksisters. Dan moet daar ook nog gestap word PicknPay toe om bestanddele aan te kan koop. Daar is nie ‘n kar daarvoor nie.
“Ek kry R 5 per pakkie wat ek verkoop”, het Chenel my reeds voorheen vertel. Daarvoor staan sy tot vier uur in die middag. Party dae verkoop sy tien pakkies. Soms selfs meer, maar ook minder. Ek maak somme, op ‘n goeie dag maak sy R50 na R 80. Vir ure se staan langs die pad met karre wat verby stroom. Uur na uur wat tyd verbygaan in die mensie se dans met hoop en hopeloosheid.
Soms raak sy moedeloos en dan gaan sy sommer huistoe. Dan is haar ma vir haar kwaad.
Die vorige keer wat ek by haar verby gery het was daar sakke koeksisters daar naby. Nou is dit net sy met haar verkoopkarton. Waar is die koeksisters? Nou lyk dit of sy net bedel?
‘Oom, ek steek dit daar anderkant in die bosse weg, want ‘Law Enforcement’ kom verby en dan vat hulle alles. Ons sukkel omtrent met Law Enforcement’.
Ek stoom in my binneste. Hierdie half hopelose mense wat geen weg oopsien om geldelik aan die gang te bly nie en dan terugval op basiese dinge soos kraakvars koeksisters te verkoop om aan die lewe te bly. En om dan ook nog toe moet wegkruip vir die gesagstrukture van die staat wat nie ruimte laat vir mense wat nie meer weet hoe om anders te oorleef nie.
Gaan hulle soms darem fliek of so iets?
“Nee oom, dit is net PicknPay toe en terug’.
Wanneer sy wel ‘n kans kry koop sy DVD’s wat sy oor en oor kyk. Hoekom so?
“Sodat ek al die woorde kan leer ken”, is haar antwoord terwyl sy vir iets wat net sy weet voor glimlag. Wonder ek, is dit dalk dat die flieks namens haar moet praat. Vir wat sy nie woorde voor vind nie? Ek dink aan Hennie Auccamp se storie oor die hartseerwals. Oor hartseer wat deur niks werklik beskryf kan word nie. Omdat dit erger as alles is.
Wat sal sy graag met haar lewe wou maak as sy ‘n kans kry?
“Ek hou van diere oom”. Haar suster bevestig dit ook so later. Oor die sussie wat hase met skewe pote verbande omdraai vir moontlike regmaak. Oor sy so huil as ‘n dier in pyn is. Miskien gee iemand haar dalk eendag werk om met diere te werk . Iets soos wat hulle by die kinderhuis gedoen het. “Animal therapy”, beskryf Chenel dit. Op ‘n latere besoek by hulle aan huise is dit omtrent die eerste ding wat sy doen. Sy kom wys haar hasie wat sy vir beter dokter. En ook ‘n foto van haar ma. Jonk, mooi, droomoog, voor die lewe se klappe begin het.
Wanneer ek weg van die dapper kind langs die pad ry, koop ek ‘n pakkie kraakvars koeksisters. Dit is amper 12h00 en dit is haar derde pakkie koeksisters vanaf nege uur die oggend.
Ek ry voort na die gegoede dele van die voorstede en ek wonder soos soveel kere te vore. Waar is die gemeenskap om ‘n kind soos dié op te vang? En haar ma? En haar boetie?
Maar ek weet wat die antwoord daarop is. Apatie, of blote simplistiese denke en antwoorde oor wie die verantwoordelikheid hiervoor moet aanvaar.
Maar miskien verswelg ons net oor die omvang van swaarkry in ons midde en het ons finaal besluit om in ‘n eie genotswêreld op te gaan en van die res van die mensdom wat swaarkry te distansiëer.
Miskien werk dit vir ons so. Miskien vang dit alles weer met ons op iewers langs die lang lang pad van die lewe.
Wie weet wat.
Chenel se ma vertel my hoe sy in die aand dankbaar bid. “Dankie vir die dak oor ons koppe. Dankie vir die tandepasta”.
En waarvan droom daardie jong koeksisterverkoper? Waarvoor hoop sy? Sy is nog maar net sewentien jaar oud. En die lewe wil vir niemand wag nie.
Maar daar is kraakvars koeksisters langs die teerpaaie te koop vir dié wat mag belangstel.
Wim van der Walt – Tygervallei