Juffrou Daisy

Nee, hierdie gaan nie oor Daisy de Melker nie. Nee, hierdie gaan oor Juffrou Daisy, Latynse juffrou in Kempton Park se Hoërskool in die 1960’s, 70’ van lank gelede.

Ja, sy het ons laat begin met Amo, amas, amat. Ek het lief, jy het lief, hy (miskien sy ook), die jurie is uit, het lief. En, van dag een af was ons vir jou, Juffrou Daisy, blerrie bang. Oujongnooi, omgekrap, presies, amper onmoontlik om tevrede te stel. Om dit ligkens te stel. Om dit ligkens te stel.

Standerd ses, standerd sewe, standerd agt, standerd nege, matriek. Hel op die Liewe Here se aarde. Quintus, ek het nie toe geweet hoekom jy my nie Duits laat neem het nie? Mens kon dan baie makliker vir ‘n meisiekind kon sê, Ich liebe dich. Dit het darem eens later gehelp om jou Standerd Ses Duits  te onthou toe die Duitse meisiekind daar in Suidwes Afrika, nou Namibië, my toenadering in Duits, komende van ‘n studente-akademiese treinkelner, onverwags aantreklik gevind het. Nie dat ek nie toe later met die terugtog vanuit die Namib woestyn in die koelkamer van die trein gaan wegkruip het om haar stuwende liefde te ontglip nie.  

Maar Latyn nie Duits nie, Quintus, jy het my tot 5 jaar van pure hel so vroeg gevonnis.  

‘n Paar dinge wat mens nooit kan vergeet om diep te onthou nie.

Ons, was nooit laat vir haar klas nie. Die Latynse kinders het oor die skoolgronde van ‘n vorige klas na haar periode gestorm, geskarrel, om goddelike, ek bedoel, godinnne wraak vry te spring. Ons het opgedaag en in beleefde drif regop gaan sit en wag vir Juffrou Daisy se oë wat knipmesskerp op sou begin kyk vir ongerymdhede in die banke voor haar.

Soos toe Renier met iets droog gemaak het. Oja, hy was stadig om sy pencildoos oop te maak om pen of potlood betyds vir die les gereed gekry. Sy was aan verstik aan woede en het van vooraf sy skoolbank bestorm en sy het Renier se pennedoos bloot op die vloer van die klaskamer uitgestort. Ons was een en elk bleekwit doodstil. Net daardie lankgelede se vriend van my wat fisioterapeut later geword het, het gereageer. Van waar hy daardie dapper proteswoede gekry het weet ek tot vandag toe nie. Hy het opgestaan in sy skoolbank, wit van woede op sy gesig, en hy het geweier om weer te gaan sit. Hy het wel baie later. Op die enigste dag wat Juffrou Daisy geretireer het. Behalwe daardie ander dag.

Een oggend sit ek in my skoolbank langs die klaskamervenster en luister na die huilende wind buite. En ek sit en kyk na wat ‘n Augustuswind aan die verlate binnehof-gronde van die toe grootste Afrikaanse skool in die land met wind-verlore-woede gedoen het. Ek het op daardie oomblik vergeet ek is ‘n mynveld van ‘n klas. Dat ek in Hitlerina, ek bedoel Juffrou Daisy se klas was. Droom flippin verlore. En toe vra sy my met klem-in-die-kaak presisie in haar stem, ‘Wilhelmus, wat doen jy…?’. Sy het die knak van ‘n skoolkind se beangste siel verwag. Maar ek was nog so opgeneem oor die verlate skoolterrein buite die Augustus klaskamervenster dat ek nie soos ‘n instinktiewe wese in evolusionêre oorlewingsdrang gereageer het nie. Nee. Verbatim, hierdie. ‘Niks nie Juffrou’, het ek beleefd geantwoord. Ek het van wind na die klas oorgeskakel en bloot nie oor dinge gedink nie. Ek het gedag dat sy my iewers heen wou stuur. Maar, sy was so verbysterd oor my reaksie, dat sy vir eenkeer nie groot skade aangerig het nie…

Ja, maar op die blerrie dag wat ek as onderhoofseun vir die skool verkies was, het sy rede gevind om my uit te k…apittel. ‘Jy kan as jy wil’, het sy geaksentueerd gesê. Bedoelende, jy wil net nie. En toe het sy die hoogs belowende onderhoofseun van die GROOTSTE Afrikaanse skool in die hele blerrie wêreld bloot in die hoek teen die skryfbord laat staan. Soos voor ‘n vuurpeleton. Ek dink sy net nie besef hoeveel Oosrand munisipale fondse Quintus onderduims moes bewimpel het om vir my daardie ere-posisie te bekom nie…

En toe daardie ander dag.

Dit was standerd nege, en die kinders wat swak in ‘n vorige toets gevaar het, moes kom oorskryf voor skool. Toe het ons wat darem deurgekom het eerste periode daardie oggend betyds vir haar klas opdaag het, hierdie gehoor. Die klein, fyn brose rooikopdogter van die kerkorreliste het daardie oggend haar ma angstig gevra om haar betyds by die skool te kry. Sy het blykbaar geweier. Annetjie het met haar fiets skool toe gestorm. Beangs, voor ‘n plaaslike apteker se motor ingery. Reg voor die skool. Sy was dood. Hy het ook later elders naby ‘n treinspoor met sy kar verongeluk.

Toe die hoof oor die interkom dit aankondig, het Juffrou Daisy uit die klaskamer gestorm.

Met Annetjie se begrafnis het ek gehuil. Op my krukke weens ‘n voetbreek rugby-besering.

Nog ‘n skoolmaat het daardie jaar gesterf. Hy het dit gewaag om van tyd tot tyd by my Wiskunde af te skryf. Alhoewel dit reeds ‘n fatale fout was, was dit nie die oorsaak van sy dood nie. Op sy begrafnis het sy ma gesê ons moet aan hom vat om te weet hy is nou dood. Sy wang was yskoud.  

Maar tog dan dit. Daardie self-verwese Quintus met sy verlange na iets groot en goed, het sy oudste kind Latyn op skool laat neem. En Latyn het vasgesteek. Nou nog, nou nog, kom frases deur. Amare simul et sapere ipsi Iovi non datur. Quid pro quo. At spes non fracta. Dum spiro spero.

Die gravitas van taal.

Dankie demmit Juffrou Daisy.

Wim van der Walt