Hoe dit moontlik is weet ek nou werklik nie. Maar daar was ek in die skor Karoo in die vroegge 1960’s. Jim Reeves het oor die eter, die stram houtradio klank gevange binne, na ons binnekant buitentoe, en uit, by die stom vensters uit, in die Karoo lig stilwyd uitgesing. Die koppies moes ook hoor. Ek, met kaalvoete, met stoepid kniekoppe, en my Griekwa sielsmaat, Aia Mieta, het na hom in die sitkamer gestaan en luister. Op verskillende maniere. Nee, dit was veral in die eetkamer. Nader aan die radio. Sy met ‘n besem, ‘n Grobbelaar besem, in haar hand het van die gang af stil stil skrams vloer, radio se kant toe gevee. Om saam te kan luister. Ek met ‘n boek. ‘n Biblioteek boek. In die plek waar ‘n mens se hart moes pas. Soms het ek die radio harder gedraai as sy in die kombuis vasgevang was en ‘n mooi song vir haar naam gevra het.

Jim het van liefde wat gesterf het gesing. Stadig. Ek en Aia Mieta het hartseer saam, hartseer verby, saam geluister. Skoon bewoebe. Sy met haar pragtige kreukel gesig. ‘n Blanke Griekwa ons twee. Ek het die ‘song’ myne gemaak. Sy ook seker. Ne, my Aia Mieta? Glo so. 60 jaar later het dit te veel sin gemaak. Wat het jy van my toe geweet Jim? Haar naam aan die aankom? Nee. Maar ek ken haar naam. Soos die alfabet, A B C D E Z. Ek kon vroeg in die klas voorlees. Die juffrou was half verbysterd. Dit werklik nie verwag nie. Die kind het aanvanklik so gesukkel. Hy was vlippin fyv, ek bedoel vyf, flippin my juffrou. Juffrou Van Aarde. ‘n Mooier van is daar nie op aarde nie. Miskien ABCDEZ as mens nou nie wil filosofies wees oor dinge nie.

Jim, ons, ek en Aia Mieta, sou jou kon sleg aankla. Sies man, om so met onse harte in die simpel Karoo lig te gaan staan en mors het. Sies man Reeves. Jy het mens pynlik pyn aangedoen.

Sies man Reeves. Ons moes jou kombuis toe gestuur het. Om die koolstoof te gaan skoonskrop het.

Die Wilger in die voortuin het altyd na jou songs swaarder gehang. En nou is ek te bang om in Landboustraat af te gaan ry. Bang vir ‘n boom. En ‘n Stoep. Sonder Aia Mieta. En die sidderpunt van die alfabet. En daardie Karoo Wilger bly skreeu soos ‘n verlore. ‘n verlate droom. Probeer seker steeds nog maar die prag van ‘n Karoo volmaan met takke nader hark. Maar, maar, die maan, die bewe bewe maan, seil steeds stom soos die Titanic na einders, iewers elders, wat sprakeloos, vir ‘n mens wag. Met verlange, en drif, wat wyd wyd buitentoe nie kan stop nie, wat dwarsdeur, deurentyd, elders bly krul, soos in ‘n diep nagwag. Die volmaan hang, swaar geel gestraf, oor Victoria Wes se krimp, se steier koppies. Eindeloos.

Maar Aia Mieta, daardie muskiete wat jou in die stoepkas uitgedaag het, het voor jou doodsvonnis strak stem, stomstrak vlerkeloos gevou. Jy was hulle alpha, hulle se omega. Ek klap hande vir jou. My Aia Mieta. Ek hoor nou nog hoe jy hardop, kraak stem, met hulle ernstiglik bly raas. Hulle het voor jou gevou. En klaphande vir jou ook, ABCDEZ My finale alfabet.

Jim Reeves. Jou bogger. Trane, is nie water nie. Dit is soort van bitter sout.

En Aia Mieta, het op ‘n dag net verdwyn. Anner mense ook. Soos die alfabet – ABCDEZ.