Goeienaand Veronica,
Veronica, dit was net ‘n blote R 20 noot. Ek het werklik nie jou reaksie daarop verdien nie.
Dit was ‘n laaste dag net voor Kersfees, nou ietwat meer dan ‘n paar jaar gelede wat ek haastig oppad na Tygervallei winkelsentrum was vir laaste aankope sodat die feesdag my nie met skaamtelose materiële leemtes en siellose verleentheid sou betrap nie. Ek het geweet wat op my wag. Boney M sou my met Little Drummer Boy laat krimp tot tye toe my verwondering nog groter dan my ongemak was. Mense sou dwangdringend langs my in verdrinkende winkelgange verbyskuur met uitdrukkings wat sou wissel tussen angs en ‘n reedse wete van groot verloor. Vasgevang in daardie sentiment, sou die geskenke net al hoe groter word. Maar ons sou mekaar voortstamp om daardie groot gat in die bors, soos Doc Holliday in Tombstone dit beskryf het, te probeer toestop voordat mens dalk bloot die see in sou hardloop.
So was ek dan besig om langs die grootpad af te ry terwyl die dag reeds aan hardloop was na oorlaaide tafels en oorgroot presente wat mens met pretensieuse blyke van blye verrassing in ontvangs sou neem. Brian Fallon het Bruce Springsteen kliphard aangevat oor my motor se luidsprekerstelsel en dit het soort van die temerige triestigheid in my siel besweer.
En toe, was jy daar voor by die verkeerslig waar jy altyd daaglikse aalmoese van motoriste afgesmeek het. Van ver af het ek jou reeds gesien. Daardie ronde figuurtjie wat ‘n waggel gestap het wanneer jy tussen die motors deur vir twee rande en ‘n somtydse vyf rande gepleit het. Ja, ek het jou gebleikte blommerok vroeg geëien en ook daardie nederige ‘body language’ wat by bedelaarstatus moes aanpas om bloot van dag tot dag te oorleef. Ek het nog altyd gewonder of jy anders sou lyk wanneer jy laat middag in ‘n gehug sou tuiskom of wat mens jou tuiste ook sou kon noem.
In die verlede het ek ‘n paar kere langs jou gestop en ‘n paar verswakkende rande uit my beursie gehaal. So het ek jou naam leer ken. Veronica. En jy myne. Maar vir jou was ek net altyd Oom. So kan ek ook onthou dat jy my eenkeer met groot hoop en angstigheid uitgevra het oor ‘n wasmasjien wat een of ander verbygaande vrou jou beloof het.
“Oom”, het jy gesê, “dink Oom daardie wasmasjien sal nog werk?”.
Wetende dat selfs goeie mense slegs groot huislike artikels soos dit mee wegdoen as dit sekere beperkinge begin ontwikkel, het ek jou na die beste van my ‘con man’ vermoë probeer gerusstel.
“Ja Veronica, ek is seker dit sal nog werk”, maar ek het jou nooit weer daarna gevra of jy dit ontvang het nie. En of dit darem dan gewerk het nie. Ek het dit nie gewaag nie. Ek dink nie ek sou jou waarskynlike antwoord mooi kon hanteer nie.
“Dankie oom”, het jy gesê en behalwe dat jy my werklik geglo het, het jy ‘n momentele kinderlike vreugde in jou normale bekommerde bruin oë gehad.
So, op Oukersdag ry ek toe my vas in jou by daardie verleë verkeerslig. Ek het Brian Fallon hulle vir ‘n wyle stil gedraai, my motorvenster oopgedraai en jou ‘n blote flippin twintig rand noot aangegee.
Mag die gode die moment kon verduur het. Jy was in ekstase.
“Dankie Oom”, het jy gesê en skielik het jy swaar vooroor gebuk en my ‘n ‘bear hug’ deur die oop venster gegee.
Wat ‘n moment. Die bedelaar en die bedeesde middelklasman wat mekaar in volle aanskoue van die stadig verby bewegende 4 by 4 voertuie ter harte druk.
Ons het nog vir ‘n moment gepraat. Ek het jou bietjie beter tye vanuit Die Burger se finansiële bladsye vir die volgende jaar voorgehou. Jy het aandagtig na die tyding van hoop geluister en toe het ek weggery. Fallon en Springsteen was nie meer alleen verantwoordelik dat my oë ‘n pre-Kersfees tranerigheid gehad het nie.
Nou Veronica, so het ek jou weer eenkeer in die Strand by ‘n verkeerslig aangetref. Ek het weer ‘n bly druk gekry voordat ek jou twintig rand se bloedgeld gegee het. Waarom jy daar gestaan het, weet ek nie. Al wat ek hoop is dat daardie verskuiwing in jou lewensomstandighede ‘n opwaartse aanpassing in die lewe se ongenaakbare hiërargiese sosiale orde beteken het.
Nou staan daar ander manne daar rondom Tygervallei se verkeersligte. Ons stroom by hulle verby en hulle staar strak by ons verby terwyl hulle ook maar hoop vir geld wat swaarkry minder moet maak.
Ek kan nie pa staan vir my mede padverbruikers nie, maar ek weet wat ek van tyd tot tyd dink. Dit is vir drankgeld dié, tik moontlik, mens kan nie almal help nie, die staat moet vir mense soos hulle sorg, die kerk se welsynsorganisasie behoort hierna te kyk en so gaan ons aan om ons eie solipsistiese lewenswyses te verskans teen hierdie ‘skaamtelose’ mense.
Totdat mens weer stop en begin vrae vra.
“ ‘n Ander man het verlede week gesê hy gaan my werk gee, maar hy het nog nie teruggekom nie”.
“Die mense vloek op mens…veral jongmanne”.
“Ek voel om voor ‘n lorrie in te stap…dan kan my vrou en kinders maar self sien om klaar te kom”.
“Ek bly enige plek waar ek kan, maar my vrou het darem plek by mense gekry”.
“Ek is terug hier Meneer, want die seisoenwerk wat ek gekry het, is nou verby”.
En op ‘n volgende dag weer.
“Ek kry baie swaar meneer”.
Ek ry maar weer aan. Maar ek dink.
Niemand neem wesentlike aandag van bedelaars en straatkinders nie. Op ‘n simpatieke dag, wanneer ons goed oor ons selwers voel, gee ons ‘n paar rand. Ander kere, is ons lus om hulle te vloek.
Ander kere vind ons maar net vrede in die gedagte dat ons belasting betaal sodat die staat vir hulle moet sorg, dat die kerk maatskaplike dienste het, dat ‘charity begins at home’ en so aan.
Vanaand Veronica, onthou ek jou. Deels omdat ‘n ander vrou by ‘n verkeerslig gestaan en bedel het. Sy het glad nie soos ‘n bedelaar gelyk nie. Ook nie soos ‘n ‘druggie’ of drinker nie. Beslis ook nie soos ‘n kansvatter nie. Niemand het vir haar geld gegee nie en toe oorweldig haar stil figuur my. Ek draai die venster oop en roep haar nader vir n geldnoot. Sy sê beleef dankie. Beskaafd. Dan gaan staan sy weer op haar bedelplek in die middel van die pad. Die lig raak groen en die motors begin ry. Toe ek by haar verby ry knik sy haar kop net so effe effe. Sonder om na my te kyk. “n Stukkie stil dankbaarheid vir momentele begrip. ‘n Grasieuse gebaar van een wat haar nooit ooit daar sou kon visualiseer nie. Met ‘n steierende siel het ek op die pad voort bly ry.
Nou wonder ek opnuut waarom ons nie empaties jou, Veronica en al die ander hopelose mense kan omarm nie. Waarom ons nie ‘n studie daarvan maak hoe om mense wat eers hulle hoop en dan ook hulle selfrespek, selfbeeld verloor, weer op kan help nie.
En ek is so bly dat jy my nie moeilike vrae kan vra nie. Soos, hoeveel bier mens werklik kan sink, hoeveel ‘steaks’ verorber, hoeveel BMW’s omruil, hoeveel nuwe glanshuise aanskaf, hoeveel ‘sitcoms’ mens giggelend kan verduur, hoeveel kerkdienste mens vir jou eie sieleheil kan klok, voordat daardie vraag opkom.
Waaroor gaan die lewe werklik Alfie?
En daardie sagte bruin oë van jou, Veronica, wat dinge so onverstaanbaar vind, het nog nie ons mense geleer dat empatie met die lot van verlore mense belangriker is as enige van ons tydsgebonde en kultuurgebonde ideologiese of teologiese konstrukte nie.
Waaroor gaan dit werklik?
Ek weet nie van alles wat nie. Maar dit lyk my, terwyl ons in winkels met ons siele bly onderhandel, Russiese Roulette daarmee speel, sal julle wat deur die samelewing se sif geval het daar in die middel van die lewenspad bly staan vir wat, helpeloos, hulpeloos, dalk van ons na julle mag deurval.
Wim van der Walt – Tygervallei