Goeienaand my Khoi-San vriend,
Oor jou wonder, maar eintlik verlang ek vanaand. Ek sit nagwag met drie druppelende kerse wat flikker en vlam. In geilgeel en verganklike pitwitgeit. Die elektriese lig staan nie ‘n kans nie. Dit pis, maar dit is nie vlam en dit is nie vuur nie.
Daardie magiese klip. Ja, jy het moeite gemaak dat jou in eietydse kinders dit nie sou vind nie. Ek by verstek ook nie. Daai plat klippie met jou oerverf reeds goed gemeng vir jou volgende dag se rotswandtekeninge. Maar jy het jou minstens met my misgis my veraf vriend. Met my eeue ou verlange.
My tydse broer was besig om forelle vir vis te wou vang en ek het die rou aardige rotswande van Barkley Oos tydsverwyld gesit en bekyk. Aan die anderkant van die rivier was daar ‘n rotswand wat modderbruin teen die potloodblou lug ingehang het. Ek het julle gesit en droom. Die Sanmense. Die Khoi mense. Boesmanmense van baie lank gelede. En toe het ek geVasco da Gama, geDavidLivingstone dwarsdeur die rivier teen die bergwand op. Eers het die verheugdheid ingeskop toe ek die Boesmantekeninge teen die grot se wand sien, maar toe kon ek ook sien dat mense julle skuilplek al tot Grashopperstof vertrap het. My teleurstelling was groot. Ek wou so graag eerstehands met jou en julle kon praat.
Maar toe begin ek obsternaat my dinke oordink. Wat kon jy eeue gelede hier gelaat het, wat niemand, maar niemand nog kon vind nie. Dit was waarskynlik daardie stukkie Evabloed in my Krugervoorsate wat my soos jy laat dink het. My deelname so aan daardie oerdroom.
Die kinders het dit nie gevind nie. Maar ek het. Gesinkte eeue later. Ek wat wou veg vir toegang tot jou vergange siel. Die sonlig buite het diffuus die grot in geskyn. Daar het ek begin grafkrap. Daar neffens die skuins rots in die stuifmeelgetrapte grot wat eers gefluister en toe hard met my begin praat het. In die halfoggend het ek intuitief gegrawe en my hand het jou gekreukelde geelhand diep aan die kant van daardie stom rots raakgevat. Bewend het ek jou protes vir iets van die behoud van ‘n siel uit die stof na die vars winterslig van Barkley Oos na bowe gebring.
Jou ‘artist’s palate’. Jou gemengde verf vir daai groot sielsverlange. In my hand het ek jou verganklikheid fynvas gehou. Na jou stukkie klip met aardsvermengde verf verwonderd gestaan en kyk. Toe het ek verheugd die plaashuis gestorm en my mede luikuiervennote van ek en jy se ontmoeting ingelig. Ligte feesvieringe het gevolg, maar daardie aand spook jy toe weer in die nag met my. Stil en aanhoudend. Ek het opnuut jou donker boek probeer lees met jou hart in my hand. Gesinkte tyd probeer verstaan.
Vroeg die volgende oggend het ek hulle wat wou slaap agtergelaat en die koue blou oggendlig van die Oos Kaap weggeskouer. Ek het na jou grot gestap en met my voetegestamp die die eeue afgetel wat voor my voete aan die wegval was. Minstens twee, drie, drie. Tussen jou, my vriend, en my. Nee, se die Museum deskundige later, 1000 na 1500 jaar gelede!
By die grot was daar ‘n ou stilte. Daardie een wat self ‘n asem kan ophou. ‘n Ander een kan stop. Veraf kon ek die lam rivier van iets of iemand aanhoudend hoor skinder. Praat.
Ek loop toe ‘ n bietjie soos ‘n koorsige ylling daar rond. Vind ‘n plek waar ou stukkies spiespuntklippies lê. Die punte wat dit nie gemaak het nie. Selfs ‘n stukkie mes wat vir ‘n bok se pensvelle bedoel was. In my gedagtes kon ek die ou manne aan werk gesien het. Want dit sou die werk van ou manne wees. Hulle wat nie meer vir ‘n bok kon hardloop of die koppies kon op of af nie. Ek kon amper hulle Boesmangevloek weer hoor toe ‘n spiesklippunt op die laaste moment skeef geklief het. Die eenkant toe gooi en weer begin. Min wetende van ‘n man uit die toekoms wat dit met heilige deernis weer ter hande sou neem. Daar was ook klein stukkies pylstele en klein ronde klippe. Oor hulle het ek gewonder? Sou die ou manne dit gebruik het om die wildediere ‘n bietjie van hul werksplek weg te hou? Of het hulle die blerrie stout kinders daarmee beslinger? Sou hulle al ‘n ekwivalent vir ‘fôkôf’ gehad het?
Geleidelik, my ou vriend, het jou leefwêreld my twintigste eeu begin verdrink. Ek kon julle dink. Die jagters wat uit sou wees om vleis vir vanaand te vang. ‘n Bok, ‘n vlakvark. Die klein vroutjies wat die kloof in sou vaar vir uitjies en so. Die ou manne aan die werk. Die kinders wat Boesmans sou skater en ook sou nael vir die rivier se water. Almal besig met vandag om reg te maak vir vanaand se grothang onthaal. Dit was die oumanne wat pylpunte daarnaas geklipkap het, wat my toe verder laat dink het. Hulle daar skuins onder die grot met hulle oë op die rivier. En jy daar agter in die grot.
Jy, my ou vriend, sou nie so hard soos die ander gejag het nie. Jy het daglig nodig gehad om reg aan daardie hunkering van julle te kon verf. Miskien het hulle jou so lig van die jag laat afkom. Miskien nie. Miskien het jy maar van die vuurvlamme se knetterlig gebruik moes maak om julle lewensstorie teen daardie rotswande op te stel.
Ek het jou gesien staan by daardie tekeninge en toe begin ek wonder oor daardie rotsriwwe bo jou werksplek. As jy onder ‘n klip dinge kon versteek, kon jy ook daarbo iewers na rotse met sakke wou soek.
Ek begin toe halfhoog klim en agter die rotswande voel. Niks, niks en toe dit. My hand vat ‘n klipvoorwerp vas. Ek haal dit uit, en half dronk van oerekstase sien ek jou en jou mense, man, vrou, oupa, ouma en elke halflyfkind daar staan en op na my en my gevonde skat kyk.
‘n Gladde swartbruin klip. Waarvoor was dit gebruik? Om voedsel fyn mee te stamp? Dinge te kners? Of was dit dalk ‘n voorwerp van heilige verwondering? En hoekom was dit so hoog bo julle geriefsvlakke weggesteek? Minstens moes dit van besondere betekenis gewees het. Maar wat? Maar vir wie?
Ek het stadig terug plaashuis toe gestap met die stukke pylpunte, snyklippe, gooi klippe en die besondere talisman in my PicknPay plastiese sak. My gewete het met my gepraat. Moes ek dit wat julle s’n was daar agtergelaat het? Maar wie sou deur daardie doringtakke agter julle aan weer gaan soek? Wie sou so diep onder daardie klip gaan krap? Wie sou weer teen daardie rotswande in die krake gaan soek?
Wie sou vir julle wou onthou?
Weereens het ek verheug my oerbuit oor en oor aan die mense tot laat by die skitternag braaivleisvuur getoon.Ek het in ‘n vreemde ekstase laataand alleen ‘n bosmensriel vir die filosowe teenwoordig gedans. Ek vermoed dit het meer soos ‘n Indiane dans gelyk, maar wat de hel, ons kom mos almal vanuit een klip. Julle, julle, my boesmanbroers en susters, julle, kon ek in die stil nag aanvoel. Julle het saamgedans. Hulle, hulle, my tydgenote het my net vreemd, selfs halfverkreukel aangekyk.
Nou hier vanaand in kerslig onthou ek weer vir julle en die verlate grot. Juis dit. Waarom het jy daardie verfgoed agtergelaat toe julle weer vir wat sou vertrek? En die swartbruin klip? Julle sou dit nie sommer so net vergeet het nie. Nie dit nie. Nie sommer net so nie.
Het julle, wonder my onsteltenis, dalk nie eers kans gehad om te vlug nie? Het julle bloed dalk daar die bruin aarde bloedrooi geverf?
Die nag vertel my net niks nie. En jy, jy my ou vriend, is ook doodstil. Vir twee eeue, drie of selfs vier.
Maar jou geklipte verf, julle talisman, hulle staar na my. En ek na hulle. En die nag daarbuite na ons almal.
Maar daar het ‘n dag gekom dat ek daardie kunstenaarsverwersklip, en die mitologiese klip, aan die Museum in Kaapstad gaan skenk het. Ek was nog nie weer terug daar nie, miskien moet ek oormore gaan kyk.
Wat ek wel nog hier het, is daardie twee ronde klippe. Dit het naby die plek gele waar die oumanne, waarskynlik, pylpunte gekap het. Waarvoor was dit gebruik? Waarskynlik om stout kinders, of gediertes te verjaag.
Die klippe le rond in ‘n mens se vingers. Ou vingers het daaraan gevat. En ek ook. Ek ook.
Wim van der Walt