Ek het haar op ‘n dag so ‘n tyd gelede langs die welig-woelige winkelsentrum saam met ‘n ‘slinky’ man sien wegstap. Altwee redelik vuil en verwese, maar sy is eintlik maar ‘n kind wat saam met ‘magsfiguur’ na iewers voortstap. En, kan mens sien, hy ‘call’ al die ‘shots’. Deur die dag en deur die vuil donkerte van die nag.

 Ek het haar voorheen gesien waar sy by die winkelsentrum se toegangsdrempel langs die pad met haar help-honger-bord gestaan het. Met vuil vingertjies. Soos haar hare. Haar gesiggie toe was nog ietwat jonger, nog ietwat meer aan die kant van mens te mag wees.

Toe al met haar probeer praat. Nee, Oom, ek gebruik nie ‘drugs’ nie, net sigarette. Broos, broos met my ‘n mooi storie probeer maak. ‘Ek verjaar vandag Oom’.

Ek het haar ogies gesien en dit het my hart gebreek. Iewers, iewers, het dinge groot verkeerd gegaan. Iewers moes daar tog ouers gewees het. Iewers moes daar tog mense gewees het. Maar mense, weet ek nou, hou hulle menslikheid vir hulle selwers.

Ek klim op my foon. Skakel ‘n ampsdraer  van ‘n kerk. Hy verwys my professioneel na die kerk se maatskaplike dienste en gaan vriendelik formeel aan met belangriker dinge. Hulle sê vir my hulle weet van haar, maar sy is nie meer ‘n kind nie, hulle, die kerk kyk net na die kinders in nood. En die ‘boyfriend’ het ‘n houvas op haar.

Ek gaan aan met my nargeklede lewe en so nou en dan sien ek haar. Ek kan haar nie in my kar inlaai nie, ek weet wat die mense van my gaan maak. En waarheen? Ek het ook nêrens ‘n plek wat haar met ‘n oop hart gaan ontvang nie. Die dominees, die maatskaplike dienste het al meer as een keer my verskeurde gewete yskoud gelei.

Soos op ‘n dag weer. Ek vra haar of sy nie wil gehelp word nie. Jy gaan jouself verwoes kind. Ja, sê sy oom. Ek vertel haar ek gaan nou vir haar probeer help. Dankie Oom, sê sy. Oom moet ‘n lekker dag hê.

Ek begin skakel. Badisa, is toe. Die staat se maatskaplike department se nommer bly net vrolik lui. Dit is ‘holiday’-tyd. Ons is op vakansie, hoop julle mense ook.

Ek klim in my fôkken kar. Die kerk se maatskaplike kantoor is toe. Die staat se een is half oop. Ek forseer my binne. Die jongman wat maatskaplike kwalifikasies agter die rug het, vertel my die meisiekind moet  haarself kom aanmeld om  hulp te ontvang. Ek ontplof amper. Ek vertel hom. As ‘n mens ver langs die pad van groot verloor afgeloop het, het jy jou middelklas rasionele beredenering van dinge reeds so verloor dat jy net ‘n stamelende, strompelende wese is en eintlik weet jy, die lewe gaan jou koelbloedig ashoop toe stuur. Gaan lees Ian McEwan se Machines Like Us, wil ek hom sê. Maar dit gaan tydmors wees. 

Ek het met my dominee studentevriend georganiseer dat ons haar daar in ‘n Tygervallei koffiewinkel te ontmoet vir ‘n ernstige gesprek. Sy het nie opgedaag nie. Ek het dit half verwag. Die angs om nie op daardie dag ‘n ‘shot’ in die arm, of die ingewande te kry nie. Die angs, die afhanklikheid was meer, is meer as enige iets anders.

Nou, vir ‘n paar weke het ek haar nie gesien nie. Vandag is sy daar en toe my kar aankom storm sy na my kant toe. Haar gesig is vol opswelsels. Sy lyk baie sleg. Miskien sal die straatmanne haar vanaand los. Ek gee haar ‘n noot. Ja. Vir wat ook al. Die ander man wat daar staan en bedel storm nader en trap haar uit omdat sy sy geleenthede vir almoese steel. Nou verstaan ek hoekom sy vir so lank nie daar was nie. Hy en hulle, is sterker as sy. Wreder ook, kan ek sien. ‘Ek slaap op die middelsypaadjie oom’. Op ‘n ander keer was sy kaalvoet. In die nag het hulle haar skoene ook gesteel.        

So, op hierdie aand is Gerda iewers waar sy weer mee gemors gaan word. En die dominees, en die maatskaplike werkers, werksters, die tender-miljoenêrs, is besig met genotvolle genoeglike dinge.

Die Here hoor my, miskien was Hitler en Stalin, en hulle slu broers, die versmoorders van die aarde se atmosfeer, en diegene in die middelklas genoeglikheidsdenke fundamenteel eerliker as ons wat een ding ‘dilly dilly’ bely en nie ‘n moer omgee dat mense soos Gerda, en Angeline, en Luwaine net smet gemaak word nie.

Ek skaam my vanaand vir die pretensie van my naam. Ek skaam my vir wat mense my met ‘n vriendelike glimlag noem en die smetveld wat tussen my en integrale menslikheid lê.

Wim van der Walt- Bellville