Filosofiese besinning oor pyn

J.J. Degenaar

I have put on these masks to show you my face

Maurice English

1. Inleiding

Ek het gedink dat ek weet wat pyn is totdat ek gevra is om te sê wat die woord ‘pyn’ beteken. Toe het ek opnuut weer my onkunde besef. Maar ek glo nie dit is ’n geïsoleerde ervaring of ’n ervaring beperk tot filosowe nie. Dit is ’n algemeen menslike ervaring. Dit geld vir baie alledaagse woorde en ’n persoon wat probeer om sulke alledaagse woorde te definieer, ervaar gewoonlik sy basiese menslike onkunde op ’n soberende wyse. Dit is moeilik om alledaagse woorde soos pyn te definieer ten spyte van die feit dat die ervaringe wat deur die woorde aangedui word so intiem verweef is met ons lewe. En, soos in die geval van die pynervaring, kan dit ’n baie ingrypende ervaring wees. In die woorde van Petrie (1967:1): ‘There is nothing in human experience more central than our capacity to feel, and no aspect of this so crucial as our capacity to suffer, perhaps more particularly to suffer from extremes of physical pain’. En al sou u ander kapasiteite as ewe sentraal in die menslike ervaring beskou, sou hierdie toevoeginge nie afbreuk doen aan die ingrypende aard van lyding in die mens se lewe nie.

In ’n filosofiese benadering tot pyn is daar verskillende benaderingswyses wat onderskei kan word. ’n Mens kan, byvoorbeeld, aandag skenk aan die verskillende pynteorieë, hetsy neurologies, psigologies of filosofies en op basis van so ’n ondersoek ’n eie teorie opstel; of ’n mens kan ’n model konstrueer wat lig werp op sowel die pynervaring as op die verskillende pynteorieë; of aantoon dat daar ten grondslag van hierdie pynteorieë ’n veronderstelde opvatting van die mens lê; of die probleem van pyn eksploreer in terme van die liggaam-bewussyn-verhouding, byvoorbeeld in terme van dichotomie, interaksie en identiteit tussen liggaam en bewussyn; of aandag skenk aan die diskussies van pyn in analitiese kringe waar probleme soos die privaatheid van sensasies en die kennis van ander bewussyne bespreek word, of ’n bespreking gee van die eksistensialistiese benadering tot pyn in terme van lyding as ’n uitdrukking van die menslike toestand; of die betekenis van die term ‘pyn’ etimologies navors en besin oor die feit dat pyn afgelei is van poena (Latyn) wat straf beteken; of die morele benadering tot pyn as noodsaaklike voorwaarde vir persoonlikheidsontwikkeling beoordeel; of aandag skenk aan die probleme rondom ’n teodisee, byvoorbeeld, die logiese verband tussen konsepte soos pyn, kwaad en sonde, en die regverdiging van ’n goeie God ten aansien van kwaad in die skepping; of die verskillende wyses vergelyk waarop wêreldgodsdienste die probleme van pyn en lyding behandel het.

Ek noem hierdie groot verskeidenheid benaderings tot die probleem van pyn nie om die indruk te skep dat ek in staat is om hulle almal te volg nie, maar om die aandag te vestig op alles wat kan sorteer onder die opskrif ‘filosofiese besinning oor pyn’. My beskeie taak in hierdie opstel is om na sekere beskrywinge van pyn te kyk en om in die proses ’n model te ontwerp wat hopelik lig sal werp op die ervaring van pyn. Ten einde dit te bereik, moet ek eers aandag skenk aan die probleem van metode en aan die feit dat ’n pluraliteit van beskrywinge van pyn moontlik is. Hierdie analise sal dan opgevolg word deur ’n bespreking van die neurologiese, psigologiese en filosofiese taalspele, met die doel om in elke geval die spesifieke aard van die spele te identifiseer en vas te stel hoe waardevol hulle is in terme van die beskrywinge van pyn waartoe hulle in staat is. Ten slotte wil ek kyk na sommige implikasies van hierdie meer omvattende siening vir ons benadering van pyn wat betref teorie en praktyk.

2. Pluraliteit van beskrywinge

Een van die eerste sake wat ’n mens opval in jou navorsing oor pyn, is die feit dat verskillende groepe mense verskillende terme in verskillende kontekste gebruik. Neoroloë praat van senuwee-impulse, psigoloë van emosionele kwaliteite, filosowe van sensasies, gevoel, lyding en betekenis, en teoloë in terme van skuld en straf. Dit sou foutief wees indien een van hierdie groepe sou dink dat hulle gebruik van die woord in hulle bepaalde konteks, hulle taalspel, die enigste geldige spreekwyse is. Hier het ons te doen met ’n belangrike filosofiese punt naamlik, dat woorde nie net gebruik word om na sake te verwys in ’n een-tot-een korrespondensie nie, maar dat mense veelvuldiglik met woorde opereer en dat ’n mens gevolglik moet aandag skenk aan die verskillende kontekste waarbinne die woorde hulle gedra volgens kontekstuele reëls. Dit is wat bedoel word met die taalspel waarbinne ’n woord optree. Hierdie kontekstualisering van stellinge ten einde die betekenis van woorde te weeg, moet geensins gesien word as ’n verskraling van ons begrip nie. Inteendeel, dit is juis ’n verruimende aktiwiteit. En ek hoop om dit in my analise van die konsep van pyn te illustreer. Immers, hoe meer geldige beskrywinge van pyn ’n mens kan akkommodeer, hoe beter verstaan ’n mens die konsep van pyn.

Hierdie punt omtrent die pluralisme van beskrywinge word ook deur Sternbach (1970) gemaak. Hy beweer dat ons gevange geneem word deur die woorde wat ons gebruik om pyn te beskrywe met die gevolg dat ons nie in staat is om ons te bevry en met ’n nuwe beskrywing vorendag te kom nie. Hy toon ook aan dat ons keuse van ’n definisie afhang van die beroep waarin ons staan. Die volgende nege beskrywinge word aangedui: pyn is ’n elementêre sensasie, ’n komplekse persepsie, ’n emosie, ’n neurofisiologiese aktiwiteit, ’n neurochemiese spanningsreaksie, refleks-adaptiewe gedrag, die resultaat van interne psigiese konflikte, van interpersoonlike manipulasie, en van die menslike kondisie. Melzack (1973:46) is ook getref deur die verskeidenheid verskynsels wat in aanmerking geneem moet word in die proses waarin ’n mens probeer om die betekenis van die woord ‘pyn’ te verstaan. Volgens hom ‘the word “pain” represents a category of experiences, signifying a multitude of different, unique events having different causes, and characterized by different qualities varying along a number of sensory and affective dimensions’. In plaas daarvan dat hy beweer dat die woord ‘pyn’ ’n kategorie van ervarings verteenwoordig of dat dit ‘a linguistic label for a rich variety of experiences and responses’ (Melzack and Wall, 1968:30) is, verkies Sternbach om te beweer dat pyn ’n abstrakte term is wat na verskillende fenomene verwys waaruit ’n mens ’n seleksie maak, afhangende van die feit of ’n mens, byvoorbeeld, ’n neurologiese, fisiologiese, gedragsgeoriënteerde, subjektiewe of psigiatriese beskrywing gee.

Sternbach se benadering is filosofies belangrik omdat hy hom met ’n basiese epistemologiese probleem besig hou. Die term ‘linguïstiese parallelisme’ word deur hom geïntroduseer om sy benadering te beskrywe waarvolgens een woord gebruik word om na verskillende fenomene te verwys. Sternbach (1970:180) stel sy standpunt soos volg: ‘None of these events has any inherent relationship to one another. It is we who have arbitrarily imposed on all of them the concept “pain”. If we can remember that there is no single real thing that is pain, but rather that “pain” is an abstract, unifying concept that we ourselves have arbitrarily imposed on a great many different kind of things, then perhaps we can free ourselves to think and deal more effectively with problems when they arrive. There need not be any arguments about which is the “right” approach, because all these parallel approaches are “right”. That is each describes some different things in different ways, and each approach is internally consistent and follows the rules of its won game of investigation’.

Op die basis van sy linguïstiese parallelisme konstrueer hy ’n skema wat die verskeidenheid metodes om kroniese pyn te behandel goed illustreer. Terselfdertyd gee dit ons ’n goeie idee van die verskeidenheid fenomene wat deur die konsep van pyn gedek word.

Die skema word deur Sternbach (1970:83) soos volg opgestel:

neurologicalsurgery analgesia increased sensory input
physiologicaltranquilizers muscle relaxants anti-depressants
behavioraldesensitization aversive conditioning cognitive dissonance
subjectivehypnosis religion existentialism
psychiatricdynamic operant family (‘games’)

Common concepts

Input: reducing ‘pain-like’ stimuli

Output: enhancing incompatible responses

Principle: breaking associative links between old stimuli and pain responses

Die skema is waardevol nie net omdat dit die gevarieerdheid van fenomene illustreer wat deur die konsep van pyn gedek word nie, maar ook omdat dit die gemeenskaplike beginsel ten grondslag van die verskillende metodes van pynbehandeling beklemtoon. Dit is die beginsel van die disassosiasie van stimulus en reaksie. Geïmpliseer deur hierdie beginsel is die idee dat pyn ’n assosiasie van stimuli en reaksies is wat resulteer in ’n onaangename ervaring wat ’n persoon seermaak en waarvan hy bevry wil word. Sternbach gebruik nie in sy opstel hierdie definisie van pyn waarvolgens dit ’n onaangename ervaring is wat ’n persoon seermaak nie, maar ek vind dit nodig om hierdie algemene beskrywing te gebruik ten einde lig te werp op dit wat die vyf soorte wetenskaplikes bedoel wanneer hulle die term pyn gebruik binne die verskillende areas van navorsing. Hierdie definisie laat ruimte vir die verskeidenheid pynfenomene wat deur Sternbach aangedui word, maar terselfdertyd word die punt gemaak dat in elke benaderingswyse daar ’n bemoeienis met pyn is. Hierdie bemoeienis met pyn vind ons, byvoorbeeld, by die neuroloog wat ’n senuwee deursny om ’n prikkel te blokkeer op die veronderstelling dat hy juis op hierdie manier ’n persoon behandel vir ’n onaangename ervaring wat hom seermaak.

Ek verskil van Sternbach in hierdie opsig omdat ek by die daaglikse ervaring begin waarin die ervaring van pyn ’n realiteit is waarvan ’n verskeidenheid beskrywinge gegee kan word. Volgens my is die woord ‘pyn’ nie net ’n abstrakte konsep wat toepasbaar is op ’n gevarieerdheid fenomene nie, maar die gevarieerdheid van benaderings van ’n pynwerklikheid soos dit voor-wetenskaplik ervaar word. Deur middel van hierdie benaderings word die pynwerklikheid geobjektiveer tot ’n gevarieerdheid fenomene elkeen met sy eie struktuur en status. Dit is met behulp van die verskeidenheid benaderings waarmee ’n verskeidenheid fenomene korrespondeer dat die ryk tekstuur van die pynwerklikheid uitgedruk kan word. Elke benadering het sy eie reëls, en stellinge kan as reg of verkeerd beoordeel word op grond van hierdie reëls en in terme van die konsekwentheid waarmee hulle toegepas word. Elke benaderingswyse is ’n taalspel in eie reg, maar nie een metode behoort aanspraak daarop te maak dat dit die enigste taalspel of strategie is waarvolgens die pynwerklikheid benader kan word nie. Die neurologiese fenomeen, byvoorbeeld, doen nie dieselfde werk as die psigologiese fenomeen nie en die psigologiese fenomeen kan nie die plek neem van die neurologiese fenomeen nie. Beide is noodsaaklik vir ’n verstaan van die pynwerklikheid.

Ek het reeds aangetoon dat ’n gevarieerdheid van pynbeskrywinge moontlik is, maar in plaas daarvan dat ek aan al die moontlike beskrywinge aandag skenk, stel ek voor dat ons hulle reduseer tot drie tipes beskrywinge. Deur dit te doen, is ek eintlik besig om ’n filosofiese model van die mens te ontwerp. Syne ’n filosoof, sien ek geen ander uitweg uit die kompleksiteit van beskrywinge wat beskikbaar is nie. Indien ’n mens as uitgangspunt neem dat die mens in pyn is, dan behoort ons ten minste drie soorte beskrywinge van die mens toe te laat waarmee drie soorte beskrywinge van pyn sal korrespondeer. Hierdie drie soorte beskrywinge is gebaseer op die tradisionele onderskeiding tussen liggaam, bewussyn en persoon. Ek stel voor dat ons die mens beskou as ’n werklikheid ten opsigte waarvan dit moontlik is om beskrywinge te gee in terme van liggaamstaal, bewussynstaal en persoonstaal. Met die woord ‘liggaam’ bedoel ek die fisiese en fisiologiese dimensie van die mens. Die woord ‘bewussyn’ dui op die ervarings- en bewussyns-dimensie, terwyl die woord ‘persoon’  die betekenisgewende en sosiale dimensie aandui. Baie beskrywinge is moontlik binne elke dimensie, maar ek kies die volgende drie metodes as verteenwoordigend van elkeen van die drie soorte beskrywings, naamlik: neurologie, psigologie en filosofie. Volgens my kan ’n mens drie ewe basiese beskrywings van die mens gee in of neurologiese of psigologiese of filosofiese taal. Korresponderend aan hierdie drie taalspele toegepas op die mens is daar drie objektiverings van die mens moontlik, naamlik, die fenomeen van die liggaam, die fenomeen van die bewussyn en die fenomeen van die persoon. Hierdie drie objektiveringe van die mens was as doel het drie soorte navorsing oor dieselfde werklikheid, kan ook gesien word as abstraksies, dit wil sê, as strukture geabstraheer uit die konkrete werklikheid van die daaglikse ervaring vir die doel van navorsing en insig (Merleau-Ponty, 1962).

Hierdie opmerkinge oor die mens kan ook toegepas word op die pyn in die mens. Pyn kan ook benader word op drie verskillende wyses afhangende van die feit of ’n mens pyn beskryf in terme van liggaam, bewussyn en persoon. Die mens pyn kan beskryf word in neurologiese, psigologiese of filosofiese taal. En indien ons al drie taalspele beheer, sal ons nie net ’n beter insig kry van wat dit betekn om ’n mens in pyn te wees nie, maar dit sal ook ons beter in staat stel om hom te help.

Ten einde nou meer inhoud te gee aan hierdie teorie van die drievoudige beskrywing van die mens in pyn bespreek ek sistematies die neurologiese, die psigologiese en die filosofiese taalspele in sover as wat dit lig werp op die werklikheid van die pyn.

3. Neurologiese taalspel

Binne die neurologiese taalspel kan daar drie pynteorieë onderskei word. Al drie teorieë is goeie voorbeelde van die metode wat in die neurologie gebruik word en dienooreenkomstig van die soort objek wat die neurologiese fenomeen is.

3.1 Spesifisiteitsteorie

Vir ’n lang tydperk was die neurologie van die pyn beoefen met behulp van ’n teorie van sensasie waarvolgens verskillende sensasies verskillende senuwees stimuleer. Die gedagte was dat ‘specific tracts in the nervous system had specific functions and projected to specific cortical regions’ (De Villiers, 1977:1). Hierdie teorie veronderstel ’n kommunikasie-sisteem met vaste en direkte bane wat loop van die vel tot die brein wat ’n spesifieke een-tot-een verhouding tussen ’n sekere stimulus-dimensie en ’n korresponderende psigologiese dimensie moontlik maak. Volgens Von Frey, wat vier sensoriese modaliteite van die huis, naamlik: tas, warmte, koue en pyn onderskei, word informasie vanaf vier soorte stimuli-draers in die vel langs vier bane tot by vier spesifieke ontvangers in die brein gedra.

Die spesifisiteitsteorie word verwerp op grond van psigologiese getuienis (baie psigologiese veranderlikes naas die sensoriese toevoer kwalifiseer pyn), kliniese getuienis (die fenomeen van die pyn in die fantoom-liggaamsdeel) en die fisiologiese getuienis (daar is geen getuienis dat daar vier modaliteite is soos deur Von Frey veronderstel ni; daar is spesifieke reseptors maar hulle is meer plasties as wat hy gemeen het). Eksperimente het aangetoon dat daar differensiasie van sensoriese reseptors is ‘which show an infinite degree of variability in their sensitivity to stimuli from the environment’ (De Villiers, 1977:2). Noordenbos beweer: ‘Pain may arise from virtually any type of stimulus or may be the result of afferent patterns which may travel via any available pathway’ (Bakan, 1968:63).

3.2 Patroon-teorie

Volgens hierdie teorie is die basiese determinante van pyn stimulusintensiteit en sentrale ophoping. In hierdie teorie hoort tuis uitsprake soos ‘pain is summation’ (Sherrington) en ‘pain is too much’ (Noordenbos). In reaksie teenoor die een-tot-een verhouding tussen stimulus en pyn introduseer die patroon-teorie die idee van die patroon-ombouing van die toevoer. Dit interpreteer sensasie gevolglik nie in terme van spesifieke informasie wat ontvang word nie, maar in terme van ruimtelike en tydelike patrone van senuwee-impulse wat deur die sentrale senuwee-stelsel ontvang word. Hierdie tot-patroon-gevormde informasie word aan die sentrale senuweestelsel beskikbaar gestel deur ’n netwerk van gespesialiseerde reseptors wat dit wat op die periferie gebeur, vertaal namens die sentrum.

Die psigologiese en kliniese getuienis wat as kritiek teen die spesifisiteitsteorie ingebring is, geld ook ten opsigte van die patroon-teorie. Melzack (1973:150) noem ook nog die volgende (fisiologiese) punte van kritiek: ‘The (peripheral) pattern theory fails to provide an adequate account of pain mechanisms. It does not recognize the facts of physiological specialization. It does not specify the kinds of patterns that might be related to pain. It provides no hypothesis to account for the detection of patterns by central cells.’ Die patroon-teorie het nogtans die waarde dat daarvolgens tydruimtelike patrone wat voorheen ervaar is, geleer, onthou en herken kan word.

3.3 Her-kontrole teorie

Die derde teorie, wat as die her-kontrole teorie bekend staan, kombineer elemente van beide spesifisiteits- en patroon-teorieë. Dit laat ruimte vir spesialisasie en patroonvorming. Hierby word nog gevoeg die invloed van psigologiese prosesse. In die woorde van Melzack (1973:153): ‘Basically, the theory proposes that a neutral mechanism in the dorsal horns of the spinal cord acts like a gate which can increase or decrease the flow of nerve impulses from peripheral fibres to the central nervous system. Somatic input is therefore subjected to the modulating influence of the gate before it evokes pain perception and response. The degree to which the gate increases or decreases sensory transmission is determined by the relative activity in large-diameter (a-beta) and small-diameter (A-delta and C) fibres and by descending influences from the brain. When the amount of information that passes through the gate exceeds a critical level, it activates the neural areas responsible for pain experience and response.’

Een van die assumpsies wat deur hierdie teorie gemaak word, is die introduksie van ‘filters’ wat die aankomende impulse modifieer. Dit erken ook dat psigologiese prosesse die pynwaarneming kan beïnvloed deur in te werk op die hekkontrole sisteem. Die introduksie van die psigologiese dimensie impliseer egter nie dat alle probleme nou opgelos is nie. Vrae wat beantwoord moet word, is, onder andere, wat is die aard van die psigologiese faktore? Wat is hulle neuro-fisiologiese komponente? Hoe kan ’n psigologiese invloed vertaal word in neuro-fisiologiese taal?

Ek hoop dat hierdie kort samevatting van die drie pynteorieë voldoende is as illustrasie van die neurologie van pyn en van die neurologiese taalspel. Wat ’n filosoof veral opval, is die volgende: die metodes wat gebruik word, die onvermydelikheid van hipoteses, die introduksie van metafore (soos baan, patroon, hek en filter) en die erkenning dat naas neurologiese konsepte ook psigologiese konsepte nodig is vir ’n adekwate beskrywing van pyn.

In sy bespreking van hierdie drie teorieë konkludeer De Villiers (1977:11): ‘We do not experience pain at one site of the nervous system but throughout its entire structure from the simplest sensory receptor to its “highest centres” in a complex interaction of intensity of stimulus and psychological reaction’. Hy waarsku teen eensydige benaderings en tiperinge soos ‘fisiese pyn’ en ‘emosionele pyn’. Volgens hom is pyn ‘’n totale ervaring van ’n bepaalde persoonlikheid’.

4. Psigologiese taalspel

Die psigologiese taalspel kan geïllustreer word aan die hand van drie temas: eerstens, die psigo-somatiese aspek van pyn; tweedens, die dimensie van lyding; en derdens, die invloed van die bewussyn op die liggaam. Die probleem wat onder die psigo-somatiese aspek van pyn aan die orde gestel word, is die vraag na die emosionele dimensie van pyn. In die tweede plek word gekyk na lyding as die toestand van pyn-te-ondergaan as ’n totale ervaring. Die derde tema ondersoek die wyses waarop die bewussyn pyn kan veroorsaak en ook die kwaliteit van die pyn-ervaring kan beïnvloed.

4.1 Psigo-somatiese aspek van pyn

In die vorige afdeling het ons reeds gesien dat neurologiese konsepte nie as voldoende beskou is in die beskrywing van pyn nie. Psigologiese konsepte is bygebring om ’n vollediger beskrywing te gee. In plaas daarvan dat ons isolerend praat van fisiese pyn of emosionele pyn, het ons besluit om van die totale pynervaring te praat waarvan beide neurologiese en psigologiese beskrywinge moontlik is. Volgens Sternbach (1968:148): ‘It is not pain which is mental or physical, functional or organic, psychic or somatic, but our ways of thinking about pain and the systems of terms we use to describe pain which may be so dichotomized. All pain can be described in both languages, the psychological and the physiological. Pain itself is not one or the other. But because pain can be described in both mental and physical terms, pain is truly a psychosomatic concept. From this point of view all pain is real; and all pain is also psychosomatic since both mental and physical descriptions are possible.’

Trigg (1970:35-36) bespreek ook hierdie ‘paradoks’ van pyn en formuleer dit soos volg: ‘It is a sensation in so far as it can be localized and has its origin in a stimulus, and it is an emotion in so far as it disturbs one and makes one think of it as bad in some way. The paradox is immediately removed if the two strands are seperated, and it is realized that the usual experience of pain involves both a sensation and an emotion directed at it.’ Pyn verwys na die totale pynervaring wat ’n gekombineerde sensasie- en emosie-ervaring is.

4.2 Lyding

Lyding kan beskryf word in terme van die dra of die ondergaan van pyn, kwelling of besering. Lyding is ’n menslike reaksie op baie soorte verskynsels waarvan pyn maar een is. In die konteks van hierdie opstel val die nadruk op die ondergaan van pyn as die onaangename ervaring wat ’n persoon seermaak.

Die psigologiese taalspel beklemtoon die rol van die bewussyn in die ervaring van pyn. Dit het ons reeds gesien in die vorige afdeling oor die psigo-somatiese aspek van pyn waarin sensasie en emosie verbind is as twee aspekte van dieselfde pynervaring. In hierdie afdeling moet gekyk word na die feit dat pyn die hele bewussyn kan infiltreer en okkupeer en sodoende lyding veroorsaak. Tichener maak hierdie punt ten opsigte van tandpyn: ‘The pain of a toothache is localized at a particular place, “in the tooth”; but the unpleasantness of it suffuses the whole of present experience, is as wide as consciousness. The word “pain”…often means the whole toothache experience (Melzack, 1973:148-149).

Metz (1975) stel voor dat ons omrede hierdie aspek van pyn, naamlik, dat dit die hele bewussyn infiltreer, die ontwrigting van die menslike bestaan as verwysingsraamwerk vir ’n pynanalise moet neem. As ons na pynbeskrywinge luister, dan vind ons dat dit soms die intensiteit van hierdie ontwrigtende ervaring weerspieël. Byvoorbeeld: ‘die pyn is so afgryslik, was ek maar liewer dood’; ‘die pyn maak my mal’; ‘die pyn is ’n onsterflike wurm wat in my binneste knaag’; ‘die pyn verbitter my lewe’; ‘die pyn verswelg my’; ‘ek vrees die moment dat die pyn terugkeer’. Hierdie laaste voorbeeld dui op ’n aspek van pyn wat ook ons aandag verdien, naamlik, die mate waarin die angswekkende antisipasie van pyn as sy nadeligste aspek gesien kan word. Daar is inderdaad gevalle waarin die geantisipeerde pyn meer lyding veroorsaak as die eventuele pynervaring. In sulke gevalle sal vorige ervaring en angs ’n belangrike rol speel.

Sternbach (1968:82-83) onderskei tussen kort en kroniese pyne. In die geval van ’n kort pyn is die stimulus ekstern, die persoon probeer om dit te vermy en ’n psigologiese distansie is moontlik. In die geval van kroniese pyn is dit nie moontlik nie. Hy stel dit soos volg: ‘With chronic or inner pains there is no object to regard, or to avoid. The pain overwhelms us. We cannot place a psychological distance between ourselves and the hurt, and we are not merely threatened, but invaded and occupied. It is not any longer a matter of having a body that has a hurt member, but we are a body that is almost entirely pain.’

In hierdie toestand ervaar die persoon gewoonlik eensaamheid, of ’n gevoel van verlatenheid en van in-die-steek-gelaat-te-wees. Soms ook die gevoel van gestraf te word. Sternbach (1968:84) bring hierdie ervarings in verband met die pyn-as-straf fantasie. Wat ookal die aard van hierdie ervarings, ons kan nie ontken dat hulle die ondergaan van intense pyn begelei nie. Maar dit hoef nie die geval te wees nie. Die lydende persoon kan verskillende strategieë vind om lyding die hoof te bied. Hierdie aspek sal bespreek word in die afdeling oor die filosofiese taalspel.

In hierdie konteks kan daar wel vermeld word dat lyding nie net op verskillende wyses geïnterpreteer word nie, maar dat die verhouding tussen pyn en lyding selfs nie presies eweredig is nie. Dit hang van baie psigologiese faktore af watter pyn en watter hoeveelheid pyn lyding veroorsaak. Hick (1968:331) stel dit soos volg: ‘The extent to which a given quantity of the pain sensation causes us to suffer, and comes to determine the quality of our consciousness, varies enormously both from person to person and from time to time for the same person.’ Hierdie probleem word in die volgende afdeling bespreek.

4.3 Die invloed van die bewussyn op die liggaam

Die derde psigologiese tema het te doen met die wyse waarop die bewussyn die kwaliteit van die pynervaring beïnvloed. Hierdie probleem is op verskillende maniere deur baie skrywers behandel. Ek beperk myself tot ’n paar voorbeelde waaruit dít hopelik duidelik sal word wat reeds implisiet was in die vorige twee afdelings, naamlik, dat pyn nie net daarin bestaan om sekere sensasies te hê nie, maar dit is ook ’n reaksie op hierdie sensasies. Daar word ’n sekere houding ingeneem teenoor hulle. In hierdie sin is pyn ’n relationele konsep. Die soort relasies wat hier ter sake is, word in die res van die opstel behandel.

Die psigologie van pyn kan deur ’n verskeidenheid voorbeelde uit ’n verskeidenheid areas geïllustreer word: etniese en kultuur-patrone en hulle invloed op pynervaring, self-martelingseremonies, die dood van martelare, die rol van vorige ervarings, aandag, angs, depressie, suggestie (placebos), audio anelgesia, hipnose, motivering, en die bewuste interpretasie van die sin van pyn.

Die eerste vraag wat ’n mens kan vra na aanleiding van al hierdie voorbeelde is: Hoe beïnvloed die bewussyn en alles wat daarmee saamhang die liggaam? Anders gestel: Hoe beïnvloed psigologiese faktore pyn? Een manier om dié vraag te beantwoord, is om die prosesse in terme van die neurologiese taalspel te beskrywe wat gebruik maak van die metafoor van die neurologiese hek wat of gesluit of oopgemaak word deur die proses wat deur die bewussyn aan die gang gesit word. Hierdie proses het as resultaat óf dat die oordraging van skadelike impulse in positiewe houdings soos motivering verhoed word, óf dat die oordraging in negatiewe houdings soos angs versterk word. Bonica (1978b:13) stel dit soos volg: ‘In view of the recent data, it is not taking an unreasonable degree of scientific license to suggest that various emotional, motivational, and affective factors can stimulate parts of the brain which, through corticofugal impulses, have the capability to prevent transmission of noxious impulses to the brain with consequent greater pain experience.’ Hierdie formulering beantwoord nie die moeilike vraag na die aard van die aanvanklike mentale stimulering van die neurologiese dele van die brein nie. Nogtans slaag dit daarin om die filosofiese probleem [?????????????????????????????????????????????????????????????????] liggaam aan te dui.

Watter interpretasies ons ook al aan hierdie verskynsels gee, dit lyk asof die probleem van die bewussyn se invloed op die liggaam bly staan. Ek noem ’n paar voorbeelde van sodanige beïnvloeding.

Die eerste voorbeeld is ’n geval van psigogenetiese pyn, dit wil sê ’n pyn wat sy oorsprong in die bewussyn het. Bakan (1968:74) rapporteer ’n eksperiment waarin die ondersoeker pyn veroorsaak in die fantoom-lit van die pasiënt ‘by referring to some cause of anxiety in the patient’s interpersonal life…the possible reaction of his wife to the disfigurement, his fear that she might leave him and, less noticeably, his mother’s illness. When these topics were introduced into the discussion, the patient grasped the amputation stump, jerked his head toward the right shoulder and then complained of having pain. This psychologic equivocation of pain occurred repeatedly; the introduction of these topics, psychologically painful to him, led him to behave in this manner.’

Die tweede voorbeeld kom uit die praktyk van hipnotisme. Spiegel, ’n eksponent van mediese hipnotisme, praat van ‘die kuns van pynbeheer’ wat aan pasiënte, byvoorbeeld kanker- en migraine-pasiënte, geleer word om die ‘tirannie van pyn’ te verwyder. Dié kuns word beskrywe in terme van ’n betrokkenheid by ’n taak wat in staat is om die pyn te versag. ‘The patient learns to superimpose a feeling of numbness over the pain area, and to filter the hurt out of it. He does this through a focused awareness, like being absorbed in a task’ (Time, 1969:57). Daar word duidelik gestel dat in hierdie gevalle die sinjale wat ontvang en deurgestuur word deur die senuwee-vesels nie verander word nie. Wat wel verander, is die ‘mentale waarneming en prosessering van pyn’.

Die derde voorbeeld illustreer hoe die interpretasie van die betekenis van pyn die pyn kan beïnvloed, en dit antisipeer die volgende hoof-afdeling oor die rol van die singewende handeling van die persoon wat betrokke is by die pynervaring. Hierdie voorbeeld is die bekende voorbeeld van Beecher wat meedeel dat by die slag van Anzio die wond blykbaar soms deur die soldaat as ’n goeie ding gesien is aangesien dit ’n bevryding uit ’n ondraaglike situasie beteken het. Die oorlog het vir hom as individu ten einde geloop. Daar word geskat dat slegs ’n kwart van die soldate wat ernstig gewond was, pyn van so ’n intensiteit gehad het dat hulle om verdowing van die pyn gevra het (Hick, 1968:332). Sauerbruch en Wenke (1963:19) formuleer hierdie aspek soos volg: ‘The sufferer’s inner attitude can exercise a powerful formative and transformative effect. How a sufferer supports the pain, how he copes with the pain experience, often depends on his inner attitude.’ Die rol van houdinge in die ervaring van pyn is die tema van die volgende afdeling oor die filosofiese taalspel.

5. Filosofiese taalspel

Die filosofiese taalspel was reeds teenwoordig in die vorige analises. In die neurologiese analise het dit na vore gekkom in die diskussie van die epistemologiese probleem wat met die teorie van linguistiese parallelisme geïntroduseer is. Die psigologiese analise het die volgende filosofiese probleme aan die orde gestel: die verhouding tussen emosie en sensasie, die invloed van die bewussyn op die liggaam, en die houding van die persoon tot lyding. In hierdie afdeling sal ander filosofiese probleme bespreek word sonder om die hooflyne van die argument uit die oog te verloor. Die sentrale tema in hierdie seksie kan geformuleer word as die morele dimensie van ’n-persoon-te-wees wat die probleem van verantwoordelikheid en die taak om sin te gee aan verskillende soorte pyn, insluit.

Ek sal hoofsaaklik konsentreer op die taak van singewing aan pyn en ander probleme sal bespreek word soos dit logies uit hierdie analise voortvloei. Daar is hoofsaaklik drie areas wat in aanmerking geneem moet word. Eerstens, die eksplorering van betekenis in terme van die biologiese funksie van pyn. In hierdie konteks word pyn geïnterpreteer as ’n teken wat as ’n sinjaal funsioneer om die mens te waarsku omtrent ’n disharmonie in die liggaam. Tweedens, die eksplorering van betekenis in terme van die psigologiese funksie van pyn. Hier word pyn geïnterpreteer as ’n teken wat funksioneer as ’n simbool wat die mens waarsku omtrent ’n disharmonie in die bewussyn. Derdens, die eksplorering van betekenis in terme van die filosofiese funksie van pyn. In hierdie derde taalspel word pyn geïnterpreteer as ’n teken wat funksioneer as ’n beduidenis wat die mens waarsku omtrent ’n disharmonie in die morele sfeer. Die derde geval kan op sy beurt verskillende vorme aanneem, byvoorbeeld, disharmonieë in persoonike integriteit, tussenpersoonlike verhoudinge, sosiale strukture, en in die manier waarop ’n persoon die vraag na die sin van lewe en dood aan die orde stel.

5.1 Biologiese funksie van pyn

Binne neurologiese verband word gesê dat pyn veroorsaak word deur ’n sterk stimulus wat dreig om vesels te vernietig. Dit is tipies van die pynstimuli dat hulle sterk moet wees om hulle boodskap oor te dra. Hick (1968:33) stel dit soos volg: ‘It has long been observed that the pain-receptor system is markedly less sensitive that the other sensory systems, with the result that pain is caused only by stimuli powerful enough to damage, or to threaten to damage, the body. Pain, says J.D. Hardy, “results from noxious stimulation which indicates the beginning of damage to the painfibre ending”’.

In die lig hiervan kan ons sê dat pyn die biologiese funksie het van ’n waarskuwing-sinjaal. Dit is omrede hierdie belangrike funksie van pyn beskrywe is as ‘die weldoener van alle lewende wesens’. Balme noem die volgende drie beskermende funksies: dit waarsku dat daar ’n letsel of siekte is; dit weerhou van nadelige eksperimente; en dit bevorder die immobilisering van die geaffekteerde liggaamsdeel (Hick, 1968:334).

Daar is egter ander skrywers wat nie die opvatting onderskryf dat pyn ’n weldoener is nie. Leriche praat van ‘this false conception of beneficent pain’ (Hick, 1968:335). Daar word aangetoon dat die kwaliteit van die pyn nie altyd proporsioneel is tot die belangrikheid van die gevaar waarteen dit waarsku nie, soos in die geval van tandpyn byvoorbeeld. ’n Tweede argument is gebaseer op die feit dat die yn wat veroorsaak word deur ongeneeslike siektes, byvoorbeeld kanker, te laat op die toneel verskyn. Volgens ’n derde argument is daar geen sin in ’n waarskuwing indien dit nie moontlik is om voordeel te trek uit die waarskuwing buite die beskikbaarheid van die moderne mediese wetenskap nie.

Hierdie argumente is egter nie voldoende om die standpunt dat pyn ’n weldadige funksie het as waarskuwingsteken, ongeldig te verklaar nie. Daar bestaan geen twyfel dat dit die mens help om hom aan te pas in sy omgewing en om die sinjale van hewige simptomatiese pyn as waarskuwings te interpreteer nie. Wanneer ons egter met kroniese pyn te doen het, dan is die interpretasie van pyn in terme van ’n positiewe biologiese waarde onvoldoende. Die opvatting van die biologiese funksie van pyn moet plek maak vir die probleem van pyn as menslike lyding in terme van psigologiese en filosfiese betekenis.

5.2 Psigologiese funksie van pyn

In die geval van die biologiese benadering is pyn geïnterpreteer as ’n sinjaal wat die organisme waarsku omtrent ’n somatiese disharmonie. Binne die konteks van die psigologiese taalspel kan pyn gesien word as ’n simbool wat die persoon waarsku omtrent ’n psigiese disharmonie. In vergelyking met pyn as ’n sinjaal wat somatiese disharmonie openbaarverberg pyn as ’n simbool ’n psigiese disharmonie en die taak is om dit agter die pyn te ontdek. Hierdie pyn het die kwaliteit van ’n masker wat op ’n indirekte manier geïnterpretter moet word.

Buytendijk (1962) bespreek voorbeelde van pynervarings wat as maskers optree vir ervarings van angs, onvervulde verlangens, verkragting van ’n individu se sin vir regverdigheid, skuldgevoel, ens. Hy interpreteer hierdie pynervarings in terme van die mens se ontdekking dat hy in hierdie situasies op homself aangewese is. Indien hy nie die mas opkom nie, oorweldig ’n gevoel van onmag hom en hierdie gevoel openbaar hom in pyn. In hierdie gevalle is die pyn duidelik ’n uitdrukking van die toestand van onmag veroorsaak deur die genoemde ervarings. Dit is egter duidelik vir die die psigiater maar nie vir die pasiënt nie. Die taak van die psigiater is juis om dit aan die pasiënt bekend te stel dat die psigiese disharmonie die oorsaak van die pyn is. Om die pasiënt hiervan te oortuig, is soms baie moeilik omdat die pasiënt hom kan identifiseer met die pynvolle rol wat vir hom geword het tot die enigste antwoord op die probleem van sy lewe. Spiro (1976:829) praat van ‘a painful role which becomes the only answer to a life too painful in other ways.’ ’n Mens kan dit ook so stel dat die pasiënt juis wegvlug van die lewe in die pyn in.

In sy bespreking van hierdie simboliese betekenis van die pyn wys Szasz (1957) op die probleme waarmee die psigiater te doen het wanneer hy die simbool moet ondersoek om informasie te verkry omtrent die psigiese toestand van die pasiënt. In baie gevalle simboliseer dieselfde soort pyn verskillende disharmoniese toestande. Hy gee voorbeelde van psigiese disharmonieë wat ook ’n sosiale dimensie impliseer. ’n Meisie se pyn word geïnterpreteer as ’n teken van haar ervaring van eensaamheid na die dood van haar ouers en van haar gevoel van verwerping deur die lede van haar familie wat dan as gevolg het hierdie vermomde skree om hulp. ’n Man se pyn word weer ’n teken van sy onvermoë om die situasie te hanteer van die oorgang van vlootdiens tot burgerlike lewe. Onbewus word beide sy frustrasie en sy aggressie teen die outoriteite wat hom in die steek sou gelaat het, in die pyn geprojekteer. Szasz (1957:100) stel dit soos volg: ‘The functional value of the symptom for the patient was readily apparent. Indeed, it seemed as if all significant issues in his life were translated, so to speak, into the language of pain and were then expressed in such a manner that neither the patient nor those to whom he addressed himself really knew what he was saying.’ Die wyse waarop Szasz oor hierdie gevalle skrywe, stel ons in staat om te beweer dat die pyn self ’n simboliese taal is wat ontsyfer moet word deur die dokter. Die tweede voorbeeld waarvolgens die pasiënt nie in staat is om die oorgang van vlootdiens na burgerlike lewe te verwerk nie, word deur Szasz (1957:102-103) soos volg ontsyfer: ‘The symbolic transformations which the concept “pain” has undergone in this case may be summarized as follows: (i) The pain experience is an expression of a need for help (thus, also an intrapsychic defense against anxiety). (ii) The communication of pain is a request for help. (iii) When the request is frustrated, the persistence of the pain becomes a symbol of being rejected: “It still hurts…”. (iv) The repeated complaint of pain is also a disguised form of aggression (retribution) against the frustrating, rejecting authority (physician, Navy, parent, etc.).’

In die analise van die biologiese funksie van pyn het ek dit beskrywe as ’n sinjaal wat die pasiënt waarsku teen ’n bedreiging van die liggaam. In hierdie analise van die simboliese betekenis van pyn is pyn gesien as ’n taal waarin ’n persoon op simboliese wyse ’n hele paar feite bekendstel, naamlik, sy versoek om hulp, sy beswaar omtrent onregverdige behandeling, sy aanval op outoriteit, sy frustrasies, sy angste, sy onvervulde verlangens, ens. In hiedie sin het pyn ’n kommunikatiewe aspek. Dit is in hierdie konteks dat ons pyn kan sien as ’n masker wat op simboliese wyse die mens-in-pyn aan ons bekend stel. Hierdie insig werp lig op die motto van hierdie opstel: ‘I have put on these masks to show you my face.’ Indien ons in gebreke bly om die maskers te interpreteer, sal ons nie in staat wees om die persoon wat op hierdie wyse hulp vra, te verstaan en te help nie.

5.3 Filosofiese funksie van pyn

In die biologiese konteks is pyn gesien as ’n teken van disharmonie in die liggaam. In die psigologiese konteks funsioneer dit as ’n simbool van disharmonie in die bewussyn. In die filosofiese konteks kan dit geïnterpreteer word as ’n beduidenis wat ’n waarskuwing is van ’n disharmonie in die morele orde wat die persoon oproep tot ’n intensionele handeling van persoonlike betrokkenheid. Hierdie disharmonie kan sig uitdruk in terme van disharmonieë in persoonlike integriteit, tussenpersoonlike verhoudinge en in sosiale strukture. In sommige gevalle word pyn die geleentheid vir wat genoem word ‘ultimate concern’, ’n besorgdheid oor vrae omtrent die finale sin van die lewe. In al vier gevalle is die bevrydende handeling van persoonlike betrokkenheid van beslissende betekenis. In ’n sekere sin kan gesê word die filosofiese funksie van pyn is die uitdaging gerig aan die persoon om persoonlik betrokke te raak by wat besig is om met hom te gebeur en om op ’n kreatiewe wyse daarop te antwoord deur singewende handeling. Soms kan pynervaringe gesien word as spitservaring wat selfidentiteit betref. Dit is in sulke situasies dat mense hulp nodig het in die proses van singewing aan hulle lewe. Die pasiënt het die moeilike taak om sy lewe te herstruktureer in terme van nuwe ervarings en nuwe informasie. Daar is inderdaad geen maklike weg uit só ’n pynsituasie nie.

Bakan (1968) introduseer ’n interessante model ten einde die verantwoordelikheid van die individu ten opsigte van pyn te illustreer. Hy stel voor dat ons die bewuste ego sien as die belangrikste [????????????????????????] organisme. Die woord ‘telies’ is afgelei van telos wat doel beteken. Die menslike organisme word gesien as ’n organiese geheel met ’n hiërargie van teliese sentra onder leiding van die bewuste ego as die leidende teliese sentrum. In die konteks van hierdie model word pyn dan beskrywe as ’n ‘manifestasie van teliese desentralisasie’ waarin ’n laer teols aanspraak maak op groter belangrikheid as waarop dit geregtig is en gevolglik word die balans versteur. Pyn word dan deur hom beskrywe as ‘the demand on the conscious ego to work to bring the decentralized part back into the unity of the organism. Pain is the imperative to the ego to assume the responsibility of telic centralization…’ (Bakan, 1968:72). Bakan gebruik hier ’n tipiese model maar dit is ’n waardevolle model in sover dit die kreatiewe rol van die bewuste ego beklemtoon. Dit is juis hierdie verantwoordelikheid van die persoon ten opsigte van sy pyn wat die tema is van die volgende vier onderafdelings.

(a) Disharmonie in persoonlike integriteit

Pyn kan ’n belangrike filosofiese rol speel as ’n oproep tot ’n persoon om betrokke te raak by die morele kwaliteit van sy lewe deur verantwoordelikheid te dra vir sy verdiende pyn en deur sy lewe moedig te aanvaar in gevalle van onverdiende pyn.

Illich (1975:92) beskrywe pyn in positiewe terme deurdat hy die belangrike morele rol wat dit kan speel, beklemtoon. Hy praat van die helende mag van pyn en van die morele kwaliteit van geduld in lyding. Hy kan dit doen omdat hy pyn sien as ’n uitnodiging aan die lydende persoon om vrae te begin vra oor die kwaliteit van sy lewe. Volgens hom ‘medical civilization tends to turn pain into a technical problem and thereby to deprive suffering of its inherent personal meaning. People unlearn to accept suffering as an inevitable part of their conscious coping with reality and come to interpret every ache as an indicator of their need for the intervention of applied science.’ (Illich, 1975:93). Hy definieer lyding as ‘an autonomous performance under the impact of pain’. Die term ‘outonome optrede’ verwys na die persoon se verantwoordelike verhouding tot sy pyn en sy gewilligheid om die uitdaging van die pyn te aanvaar.

Ten einde die uitdaging van die pyn te aanvaar, het die pasiënt ’n kultuur, ’n konteks van waardes, nodig om hom te help in sy interpretasie van pyn. Illich formuleer dit soos volg: om pyn te ly, is om ’n vraag te stel – ek sou selfs sê: om tot vraag gestel te word – en die konteks van gedeelde waardes help die individu om sy pyn op ’n sinvolle wyse te artikuleer. In sy eie woorde: ‘The act of suffering is shaped by culture into a question which can be stated and shared.’ (Illich, 1975:101). Om los te staan van gedeelde waardes is om inderdaad verlore te wees en om ’n slagoffer van jou pyn te word.

Boeyink (1974:90) staan ook positief teenoor pyn en praat selfs van ‘verlossende pyn’ in sover dit die morele aard van die lewe aan die orde stel en morele deugde kweek, soos byvoorbeeld, moed, vryheid en die vervulling van morele verpligtinge teenoor ons medemense. In die geval van verdiende pyn kan ’n mens ’n verantwoordelikheidsin vir die pyn ontwikkel en gevolglik jou lewenstyl dienooreenkomstig wysig. In sy eie woorde: ‘A sense of justice requires the recognition of responsibility for the pain of one’s making. Such pain is the summons to fidelity to one’s self and physical well-being, calling one to re-order one’s life’ (Boeyink, 1974:92). In hierdie konteks kan pynstillende verdowingsmiddels, anestesie en antisuurtablette ’n negatiewe effek hê deurdat dit die pasiënt oortuig dat dit nog nie nodig is om sy ongesonde leefwyse te verander nie. In die geval van die moedige aanvaarding van onverdiende pyn kan lyding ook ’n verlossende funksie hê, veral in sover dit ander betref. Die moedige daad van aanvaarding verryk die persoon self en stel ’n voorbeeld vir ander. dit illustreer dat ’n mens kontrole oor sy lewe kan behou. Dit kan ook lei tot ’n gemeenskapsgevoel tussen die lydende pasiënte in die konteks van ’n hospitaal. Aanvaarding van onverdiende pyn kan verder ook lyding verminder omdat dit die plek inneem van skuld, droefheid of swaarmoedigheid wat elkeen op sigself ook weer lyding veroorsaak (Boeyink, 1974:91).

(b) Disharmonie in tussenpersoonlike verhoudinge

In die bespreking van die psigologiese funksie van pyn het ek verwys na die voorbeeld wat Szasz (1957:53-58) aangehaal het van die meisie wie se pyn veroorsaak is deur haar ervaring van eensaamheid na die dood van haar ouers en deur haar versteurde tussenpersoonlike verhoudings. Indien ons aanvaar dat die menslike lewe ’n rasionele struktuur het, kan maklik verstaan word hoe ’n versteuring in verhoudinge ’n ingrypende aangeleentheid is in die lewe van die individu. Hy is nie volledige mens in isolasie en staan dan ook nog in verhoudinge tot ander nie, maar om mens te wees is struktureel bepaal deur medemenslikheid. Versteuring in interpersoonlike verhoudinge is so ingrypend dat dit onbegryplik sou wees as die liggaam nie daarop sou reageer nie. Pyn kan in sommige gevalle inderdaad beskou word as ’n simptoom van versteurde dialoog. Metz (1964; 1975) het belangrike navorsing gedoen waarin hy duidelik aangetoon het hoe pyn plaasvind in ’n intersubjektiewe wêreld en dat ’n mens aandag moet skenk aan die rol van versteurde dialoog in ons begrip van pyn. die dialoog met die dokter en psigiater kan behulpsaam wees om die dialoog met die wêreld rondom die pasiënt te herstel deur hom die situasie te leer verstaan waarvan hy onvermydelik ’n deel is. Hierdie dialoog met die psigiater beklemtoon die belangrikheid van dialoog in die algemeen en dit dui op die feit dat die mens geen direkte toegang tot homself het nie maar slegs deur die wêreld en veral deur die oë en reaksies van ander mense. In ’n sekere sin is die mens ’n geskenk aan homself deur die handelinge van ander persone. Die mens word mens deurdat hy as sodanig herken word.

Metz (1975:57-59) bespreek die gevalle-studie van ’n pasiënt wat aan ’n ekstreme vorm van trigeminale neuralgie (drielinggesigspyn) ly. Dit was sy tweede ernstige aanval. Die eerste aanval van pyn is beëindig deur die betrokke senuwee deur te sny. Die pyn was so intens die tweede keer dat hy nie kon praat nie. Die neurochirurg het besluit om weer te opereer, maar voordat dit kon gebeur, het Metz die geleentheid gehad om die pasiënt te behandel. Die behandeling het duidelik getoon dat dit eers was toe die geskiedenis van die pyn gekontekstualiseer was in die geskiedenis van die pasiënt dat die oorsake van die pyn ontdek is. Die pasiënt het homself om verskillende redes sosiaal afgesonder. Sy verhouding tot sy vrou was gereduseer tot swye. Toe Metz besef dat die aanvalle van neuralgie plaasvind gedurende die periodes van sosiale isolasie, het hy besluit dat die oorsaak van die pyn versteurde dialoog is. Die pasiënt en sy vrou is toe beide gekonfronteer met hierdie interpretasie. Hulle het ingestem om saam die terapeutiese sessies by te woon. Die pasiënt was gewillig om te kommunikeer deur vrae en antwoorde op ’n lei te skrywe. Geleidelik het man en vrou met mekaar begin praat en geleidelik het die pyn verdwyn. In die eerste geval is die pasiënt gehelp deur chirurgie; in die tweede geval deurdat hy deur sy sosiale isolasie gebreek en sy versteurde dialoog herstel het. Nie die dokter nie, maar die vrou as die hoofspeler in die dialoog het die beslissende rol gespeel in die pasiënt se herstel, ’n feit wat duidelik illustreer hoe ’n disharmonie in tussenpersoonlike verhouding pyn kan veroorsaak en hoe ’n herstelde dialoog weer kan veroorsaak dat die pyn kan verdwyn.

(c) Disharmonie in sosiale struktuur

Ons het gesien dat pyn nie ’n abstraksie is buite die persoon nie. Maar so ook is ’n persoon nie ’n abstraksie buite menslike verhoudinge en sosiale strukture nie. Dit werp lig op die feit dat in ons bespreking van die psigologiese taalspel persoonlike voorbeelde genoem is waarin tussenpersoonlike verhoudinge en sosiale strukture reeds opgetree het.

Szasz (1957:99-103) bespreek die geval van ’n man wat oor ’n lang tydperk vir maagpyn behandel is sonder dat enige verbetering ingetree het. Psigiatriese ondersoek het getoon dat die pyn verbind moet word aan die feit dat die einde van sy vlootdiens aangebreek het. Die oorgang tot die burgerlike lewe het ’n vernadering in sy hele lewenswyse geïmpliseer. Hy het ’n werk gevind soortgelyk aan sy werk in die vloot en op geen stadium was hy bewus van die feit dat hy by ’n probleem betrokke was nie. Maar in werklikheid het hy ’n probleem gehad en het hy inderdaad leiding gesoek. In die afwesigheid van hulp het hy ’n verwerping van outoriteit ervaar wat in sy geval die organisasie was wat hom, so het hy gemeen, ‘verwerp’ het nadat hy soveel jare getroue diens gelewer het. In hierdie geval het die pyn ’n teken geword van sy onvermoë om die oorgang van vlootdiens na burgerlike lewe te verwerk. Sy frustrasie en sy aggressie ten opsigte van die outoriteit wat hom in die steek sou gelaat het, is onbewus geprojekteer in sy pyn. Hierdie geval sou bloot geïnterpreteer kan word as ’n voorbeeld van ’n persoon wie se pyn sy onvermoë weerspieël om hom aan te pas in ’n nuwe situasie. Ek meen egter dat daar ook ’n sosiale dimensie tot hierdie probleem is, naamlik, hoe om te staan tot ’n mens se werk wat ’n betrokkenheid is by ’n organisatoriese en sosiale struktuur.

Moderne sosiale filosofie gee prioriteit aan die feit dat die mens ’n sosiale wese is en dat sosiale strukture menslike gedrag beslissend kwalifiseer. Hierin volg dit die insig van Marx dat die mens ’n netwerk van sosiale verhoudinge is wat medebepaal is deur sosiale strukture. Hierdie strukture beïnvloed ook di wyse waarop ’n persoon homself verstaan sowel as wat met hom gebeur. Indien hierdie strukture nie bevorderlik is vir gesonde lewensomstandighede nie en as hulle nie voorsien in die basiese menslike behoeftes van alle burgers en vir die volle ontwikkeling van hulle moontlikhede nie, en indien hierdie strukture ’n outoritêre karakter dra wat menslike verhoudinge inperk en verskillende vorme van vervreemding veroorsaak, dan sal die individu homself negatief ervaar en ook negatief definieer. In sulke gevalle sal die ervaring van pyn en lyding onvermydelik die negatiewe sosiale strukture weerspieël.

Manganyi, ’n swart psigoloog, beskrywe die wyse waarop die sosiale strukture in Suid-Afrika weerspieël word in die liggaamsbeeld van die swart man. Die liggaamsbeeld is die geïnternaliseerde konsepsie wat ’n individu van sy liggaam het, en omrede die negatiewe sosiale strukture wat op kleurdiskriminasie berus, het die swartman ’n negatiewe konsepsie van sy swart liggaam. Dit lei tot die psigologiese pyn van verontregting wat ook die siekte van die swartman kwalifiseer. En dit kan alleen gedoen word as die swartman hom bevry van die wit opvatting van die swart liggaam soos dit in sosiale strukture geïnstitusionaliseer en onvermydelik deur die swartman geïnterioriseer is. In sy eie woorde: ‘We have to eradicate the negative sociological schema of the black body as prescribed by whites’ (Manganyi, 1973:52).

(d) Die probleem van ‘ultimate concern’

In al die gevalle wat bespreek is, is dit ook moontlik dat die pynsituasie die raamwerk word waarbinne die vraag gestel word na die finale sin van die lewe. Dit gebeur gewoonlik in gevalle van terminale siekte. ’n Goeie voorbeeld van hierdie soort besinning word gevind in Tolstoy se kortverhaal Die dood van Ivan Illytsh waarin die besef van die onvermydelikheid van die eie dood ’n fundamentele vraagstelling omtrent die kwaliteit van die sterwende se lewe aan die gang sit. Indien ’n mens sou toegee dat pyn ’n herinnering is aan die feit dat dood eventueel sal plaasvind en dat pyn dus aanleiding kan gee tot die vraag of dit beteken dat ek sal doodgaan, dan kan ons ons baie pynsituasies voorstel waarin pyn die konteks van fundamentele besinning word. In die woorde van Bakan (1968:80): ‘Pain becomes the touchstone of ultimate concern’.

Indien ons die finale sin van die lewe met die werklikheid van die liefde verbind, het dit nie net implikasies vir die lewe van die pasiënt nie, maar werp dit ook lig op die kwaliteit van sorg en diens aan mense in ’n vriendelike omgewing. Die pasiënt moet gehelp word om sy eensaamheid te oorwin, om nie afgesny te voel van menslike omgang nie, en om te ervaar dat lyding nie net ’n individuele probleem is wat isoleer nie – en dit is inderdaad ’n ontstellende werklikheid – maar ook ’n menslike probleem wat liefde oproep. Sternbach (1968:146) beklemtoon ’n feit waarvan ons nie die belangrikheid moet onderskat nie. Hy beweer: ‘The relief of pain is typically associated with comfort, love, and expressions of caring, and with the reduction of anxieties related to the withdrawal of love.’ Hierdie verskil tussen angs as afwesigheid van liefde en sorg as die teenwoordigheid van liefde kan geïllustreer word aan die hand van die wyse waarop Ingmar Bergman die vraag na hel en hemel beantwoord het. Hy het dit gedoen met ’n handgebaar: hel is ’n geslote hand wat in sy kramp nie oop kan gaan om te gee, te ontvang en te dien nie. Hemel is ’n oop hand wat kan gee, ontvang en dien. Die finale sin van die lewe lê in ’n oop hand as simbool van liefde.

Dit is in die konteks van die probleem van die finale sin van die lewe dat dit sin maak om na die verskeidenheid van antwoorde te kyk wat die wêreldgodsdienste gee op die vrae rondom pyn en lyding (Bowker, 1970) en om die probleem van ’n teodisee (Hick, 1968) aan te durf waarin probeer word om ’n goeie God te regverdig in die teenwoordigheid van so veel kwaad in Sy skepping.

6. Implikasies van hierdie opvatting

Hierdie filosofiese besinning oor pyn het verskillende implikasies wat ons aandag verdien. Ek bespreek net die drie implikasies vir ’n pynteorie, vir ’n metode van navorsing en vir terapie. My opmerkinge oor hierdie temas word onder die volgende hoofde ingedeel: die belangrikheid van ’n adekwate pynteorie, die behoefte aan ’n interdissiplinêre benadering, en die noodsaaklikheid van ’n meervoudige terapeutiese strategie.

6.1 Belang van ’n adekwate pynteorie

Ons filosofiese besinning het die belang van ’n adekwate pynteorie aangetoon, nie net vir die mediese wetenskaplike en beoefenaar nie, maar ook vir die pasiënt, sy familie en vriende. Al hierdie groepe moet besef dat die totale mens betrokke is by pyn en dat in gevalle waar pyn duidelik ’n menslike roep om hulp is, geen bevryding van pyn moontlik is sonder ’n besef van hierdie feit nie. In Engels gestel: ‘If we take the whole man into account, there is a close link between curing and caring.’

In beide sy werke oor pyn beklemtoon Metz (1964; 1975) die belangrikheid van ’n adekwate pynteorie. In baie gevalle ly die pasiënt onder pyn wat die resultaat is van die toepassing van ’n foutiewe pynteorie. Metz bespreek voorbeelde van pasiënte wat verskeie operasies ondergaan het vir dieselfde klagte sonder enige sukses. In plaas daarvan dat aandag geskenk word aan die goeie advies van die dokter om die pynervaring in ooreenstemming te bring met die mediese beoordeling van die geval het een pasiënt aangedring op ’n derde operasie. Weer sonder sukses. Volgens Metz (1975:55) was hierdie pasiënt ’n slagoffer van ’n fisiologiese pynteorie wat nie ruimte laat vir die moontlikheid van ’n pyn sonder ’n fisiologiese oorsaak nie. So ’n pyn stel hoër eise aan die pasiënt, want hierdie pyn word bloot verklaar as ’n defek in die liggaam in plaas daarvan om dit direk te verbind met die situasie van die pasiënt waarvoor hy medeverantwoordelik is. Metz vind hierdie neiging by die pasiënt verstaanbaar omdat hy ’n slagoffer is van ’n ‘wetenskaplike’ instelling tot sake. Dit skryf aan hom voor hoe hy dinge sal ervaar en verstaan. Die fisiologiese pynteorie is vir Metz ’n voorbeeld van hoe ’n ‘wetenskaplike’ instelling aan ’n pasiënt voorskrywe hoe hy pyn moet ervaar en artikuleer. Daarom doen Metz ’n oproep om ’n ruimer benadering wat die probleem van pyn meer menslik sal aanpak. Dit is slegs as ons met ’n oop gemoed luister, dat ons die persoon in die pyn sal ontdek en hom sal kan help om homself as totale mens te laat geld.

6.2 Die behoefte aan ’n interdissiplinêre benadering

’n Ernstige soeke na ’n adekwate pynteorie sal onvermydelik lei tot ’n besef van die beperktheid van spesialisasie en gevolglik van die behoefte aan ’n interdissiplinêre benadering van die probleem (Graham, 1967:65). Bonica (1978a:4-7) noem drie redes vir die onvoldoende beheer van kroniese pyn: gebrek aan kennis, onvoldoende toepassing van die huidige stand van kennis en die probleem van kommunikasie. In sy bespreking van die onvoldoende toepassing van die huidige kennis en van die belang van ’n wetenskap van pyn, het Bonica ook die probleem van spesialisasie en die gevolglike gebrek aan ’n interdissiplinêre benadering beklemtoon. Hy praat van ‘collaborative multidisciplinary research’ wat nodig is om die ‘buisvormige’ visie van die spesialis teen te werk. In sy eie woorde: ‘The current progressive trend toward specialization is conducive to each specialist viewing pain in a narrow, “tubular” fashion. Thus, the anesthesiologist attempts to treat all patients with nerve blocks, the neurosurgeon by cutting the so-called pain pathways, the psychiatrist by traditional psychotherapy, etc. This type of “tubular” vision is particularly likely to occur when a specialist practices alone and sees these patients in isolation. The factors preclude viewing the pain problem with the perspective of the many diagnostic and therapeutic stategies which my be applicable to the particular problem in choosing which are best for the particular patient’ (Bonica, 1978a:6).

Dit sou ’n groot tragedie wees indien die belangrikheid van ’n meer omvattende benadering veld wen terwyl navorsing nog altyd op die basis van apartheid tussen dissiplines gedoen word. Ek weet nie wat die huidige beleid en praktyk is met betrekking tot ’n interdissiplinêre benadering nie. Graham (1967:65) praat van die skadelike praktyk van apartheid wat betreur word deur die betrokke groepe maar wat nogtans voortbestaan. Bonica het baanbrekerswerk verrig en het verskillende pynklinieke gestig waar die multidissiplinêre benadering gevolg word. Wat ookal die toedrag van sake is, my benadering toon ook aan hoe belangrik ’n adekwate pynteorie is wat vertaal moet word in ’n interdissiplinêre program van pynnavorsing wat kan resulteer in ’n meervoudige terapeutiese strategie.

6.3 Die noodsaaklikheid van ’n meervoudige terapeutiese strategie

Die opmerkinge van Bonica oor die belangrikheid van ’n interdissiplinêre benadering behoort teen hierdie tyd bekend te klink. In die vorige afdelings van hierdie opstel het ek aandag geskenk aan die voordeel van ’n pluraliteit van pynbeskrywinge in vergelyking met ’n een-baan-benadering. Ons het gesien dat ’n pluralistiese benadering ’n ryk gevarieerdheid van feite na vore bring wat andersins verborge sou gebly het. Dit maak ons meer soepel in ons benadering van die verskynsel van pyn. Maar dit help nie net om ons insig te verruim nie. Dit gee ons ook ’n beter terapeutiese strategie. Indien ons meer taalspele speel en meer soorte beskrywinge van pyn gee, behoort ons des te beter in staat te wees om ’n pynsituasie die hoof te bied.

’n Meervoudigheid van beskrywings dui alreeds die weg aan na ’n meervoudige strategie in terapeutiese situasies. Sternbach (1968:164) noem die neurologiese, fisiologiese, gedragsgeoriënteerde en affektiewe benaderings as vier verklaringsisteme wat elkeen implikasies het vir die mediese praktyk. Ek het die pluraliteit van beskrywinge tot drie taalspele gereduseer en in terme van hierdie analise sal ’n mens jou terapie moet struktureer volgens die kontekste wat gegee is met die drie fenomene van liggaam, bewussyn en persoon. Ek het beweer dat ’n mens ’n werklikheid is wat beskryf kan word in neurologiese, psigologiese en filosofiese taal. Hierdie stelling kan ook gemaak word ten opsigte van pyn. Pyn is ook ’n werklikheid waarop neurologiese, psigologiese en filosofiese benaderings van toepassing is. Die implikasie hiervan vir terapie is dat ons in elke situasie sal moet vasstel watter strategie voorrang moet kry; wanneer moet chirurgie toegepas word, wanneer psigo-analise en wanneer dialoog.

In die beklemtoning van die belang van ’n pluraliteit van beskrywinge en die noodsaaklikheid van ’n meervoudige terapeutiese strategie moet ons egter nie die sentrale rol van ’n geïntegreerde benadering tot ’n persoon-in-sy-pyn uit die oog verloor nie. Daarom wil ek afsluit deur terapie met integrasie te verbind. Indien integrasie ons sleutelbegrip is, dan is die taak van terapie, nie om die werklikheid van pyn te beperk tot die konteks van die liggaam en die konteks van die bewussyn nie, maar om dit te plaas in die paslike konteks van die volheid van die menslike bestaan. Anders gestel: die pyn moet geplaas word in die wêreld van persone wie se lewens bedreig word en wat hulp nodig het. Terapie behoort daarom geïntegreer te word in die houding van sorg vir persone. En die doel van hierdie sorg is nie primêr om in diens te staan van die preservering van die menslike liggaam nie maar eerder in diens van die bestemming van die menslike lewe. dit is in die raamwerk van hierdie filosofiese taalspel dat besef word dat pyn meer is as bloot iets waarvan ’n mens ontslae moet raak. Want mense is meer as pasiënte wat behandel moet word. Hulle is persone wat bedreig word in hulle bestaan en hulle roep om hulp. Daarom beskou die filosofie van pyn die terapie van pyn as ’n sorg vir die persoon in terme van die bestemming van die menslike lewe. En indien ons die woorde van Camus in aanmerking neem dat ‘there must be a destiny that does not have to wait on death’, dan kan ons beweer dat hierdie vraag na menslike bestemming die finale uitdaging aan pasi:ent en dokter en vriend bly. As ’n pasiënt daarin slaag om sy pyn te sien in terme van singewing, en as sy dokter en vriende werklik daarin slaag om vir hom te sorg, dan kan ons sê dat die pynervaring die betekenis van die Latynse woord poena, naamlik straf, transendeer tot by die betekenis van die Sanskrit-wortel pu, naamlik purifikasie.

Bibliografie

Bakan, D. 1968. Disease, pain, and sacrifice. Toward a psychology of suffering. Chicago: The University of Chicago Press.

Boeyink, D.E. 1974. Pain and suffering. Journal of religious ethics, vol. 2, p. 85-98.

Bonica, J.J. 1978a. Chronic pain: A disease state of major national importance. Ongepubliseerde voordrag.

Bonica, J.J. 1978b. New information on pain mechanisms. Ongepubliseerde voordrag.

Bowker, J. 1970. Problems of suffering in religions of the world. Cambridge: Cambridge University Press.

Buytendijk, F.J.J. 1962. Pain: Its modes and functions. Chicago: University of Chicago Press.

De Villiers, J.C. 1977. The physiology of pain. Ongepubliseerde voordrag.

Graham, D.T. 1967. Health, disease and the mind-body problem: Linguistic parallelism. Psychosomatic medicine, vol. 29 p. 52-71.

Hick, J. 1968. Evil and the God of love. London: Collings.

Illich, I. 1975. Medical nemesis. The expropriation of health. London: Calder and Boyars.

Manganyi, N.C. 1973. Being-back-in-the-world. Johannesburg: Ravan.

Melzack, R. & Wall, P.D. 1968. Gate control theory of pain, in A. Soulairac, et al., Pain. London: Academic Press, 1968, p. 11-31.

Melzack, R. 1973. The puzzle of pain. New York: Basic Books.

Merleau-Ponty, M. 1962. Phenomenology of perception. London: Kegan Paul.

Metz, W. 1964. Methode en mensbeeld der geneeskunde. Het verschijnsel pijn. Haarlem: De Erven F. Bohn.

Metz, W. 1975. Pijn, een teer punt. Een fundamenteel geneeskundig onderzoek. Nijkerk: Callenbach.

Noordenbos, W. 1959. Pain. Problems pertaining to the transmission of nerve impulses which give rise to pain. Amsterdam: Elsevier.

Petrie, A. 1967. Individuality in pain and suffering. Chicago: University of Chicago Press.

Sauerbach, F. & Wenke, H. 1963. Pain: Its meaning and significance. London: Aleln and Unwin.

Spiro, H.M. 1976. Pain and perfectionism – the physician and the ‘pain patient’. Medical intelligence, vol. 294, no. 15, p. 829-830.

Sternbach, R.A. 1968. Pain. A psychophysiological analysis. New York: Academic Press.

Sternbach, R.A. 1970. Strategies and tactics in the treatment of patients with pain, in B.L. Crue, Pain and suffering. Springfield: C.C. Thomas, 1970, p. 176-185.

Szasz, T.S. 1957. Pain and pleasure. A study of bodily feelings. London: Tavistock.

Time, 1969. Pain: Search for understanding and relief. Time, June 13, 1969, p. 56-57.

Trigg, R. 1970. Pain and emotion. Oxford: Clarendon Press.