Absolute stront. Enrico Caruso het nie hierdie in Vienna, Wene, met daardie stem so gesing nie. Absolute nonsens. Nee, dit was eens op ‘n Saterdagaand in die Groot Karoo. Die man in die radio het homself, ditself, U Eie Keuse genoem. Die Karoo daar buite het verlore stom van alles ge-bly skreeu. Wanneer dit nie bloot begin huil het nie.

Ja, ja. Die Saterdag Burger was reeds by die kleinhuisie kantoor annner kant die munisipaliteit afgehaal. Ons het reeds by Kallie Grib se stil stoephuis verby gery. Die mense daar was dieper in weggesteek. Die lang ry karre wat voor die skaamkry kantoortjie gewag het vir ‘n Saterdagaand koerant. En dan die stilstom vertrek vir ‘n eie huis.

En die pa lees Die Burger. En die ma, met haar Greta Garbo oe, weifel tussen die lewe en die dood. Gaan maak ‘n donker draai by die wingerd prieel. En dan, begin Enrico Caruso sommer sing. O sole mio. My enigste. My enigste.

En julle het gedink dat ‘n kind nie kan verstaan nie? Dit was donker. Die venster was oop sodat die swart nag, wat geweet het van stik, verstik, ook kon saam luister. Ek en die nag het saam soos baie ou maats geluister.

En Enrico, ek en hy was op voornaam terme toe reeds, het gesing assof mense nie net kan huil nie. Hy het flenters van harte en verlangens gemaak. Italianers is maar eintlik altyd bliksems. Selfs die broos mooi vrouens wat daar steeds bly loop om wasgoed te gaan ophang.

So Enrico, hierdie knoppe in my kiewe toe, en nou, is eintlik alles jou skuld. Skaam jou dooie man.

Jy en daardie Karoo, met die stil strate en stom koppies, is bloot bliksems. Bitterlik beautiful so.

Wim van der Walt