Die man leef nog en ek is al lankal dood. So het ons ontmoet. Hy wou ‘n woonstel in ‘n aftree-oord verkoop en toe stap hy en die inhuis-agent in. My kinders het al reeds al die meubels en so verwyder na my dood, maar my geraamde foto in die kaal vertrek gelos. Hy het gekyk hoe om te wat, maar vasgesteek voor my geraamde foto wat gelate teen die leefvertrek-muur gestaan het. Vra hy toe. Vir die vrou daar saam met hom. Hoekom is ek hier? Sy sê hulle wou nie die foto gehad het nie. Hy sê toe, nee, hy vra toe, kan hy die foto van my huis toe kry?
Hy is ‘n vreemde man. Dit kon ek sien. Wat van dooie mense hou. Sy, die inhuis-agent, sê ja wat. En hy weifel nie. Hy vat my sommer so onder sy arm in, in sy kar in, en vat my na sy huis toe.
Dan sit hy my hier neer. Dan sit hy my daar neer. Elke keer op ‘n plek waar ek vir nog dinge kan kyk. En waar hy my kan sien. Daar is ander dooie mense op fotos ook hier rond. Party van hulle is baie langer as ek al dood. Hy kyk vir hulle ook, en hulle kyk vir hom. Verder speel musiek op sy rekenaar, You Tube, kliek hy, en drink goedkoop-wyn. En spandeer ure op sy rekenaar. Maar as hy nog wyn gaan haal, of koffie begin drink, kyk hy my elke keer in die oë. Hy weet ek is dood, maar ek weet hy weet dat ek met my dooie hand op my dooie ken met hom praat. Oor te baie dinge. Ons kyk maar net na mekaar met vêr kyk oë. Waar verlorendheid vlaktes vol lê.
Ek glimlag vir hom soos maria magdalena, joanna van ark, maria falconetti, maar nooit soos sarie marais nie. Hy kyk my soos hy verby stap. Ek is bekommerd oor die man. Hy lyk soos ‘n tromp-op botsing in ‘n wagkamer.
Maar ek bly glimlag. Met my dooie arm en my hand onder my dooie ken. En my oë wat nie meer kan lieg nie. En hy gooi my nie huis-uit nie. Ek is vir hom nie oppad vullisdrom toe nie. Al is ek dood. Ek is sy dooie muse. Ek is sy dooie droom. Hy dink dit is net dooie drome wat kan hou. Soms weet ek dink hy aan daardie ander vrou. Ek knik flikkeroog vir hom van agter die foto-raam glas af. Hy is reg, glimlag ek. Al is hy dalk dood, ek bedoel, lewendig verkeerd.
Maar dooie vrouens mors nie met nou nog lewende mans nie. Jy glimlag maar net vir hulle en wens hulle ‘n woensdagmiddag met reën en mooi musiek toe. Dalk ‘n boek wat lê en wag dat ‘n skaapagtige man dalk onverwags ‘n raar sin mag raakvat.
Die man leef nog. Ek is die dooie een. Die vrou wat hy nie eers weet wat my naam as mens was nie. Okay, hy het probeer uitvind. Twee keer. Maar hy het nie geredelike hulp gekry nie.
My naam dan is naamloos. Maar ek was op ‘n dagbreek-oggend, ‘n rasper-son middag ook daar. Ook toe die middernag die maan kaal gemaak het. Ek was mens. Nou glimlag ek net skalks van agter ‘n glasraam.
Maar hy sien my. En sy oë bly praat met my lang lang sinne.
Gestorwe vrou, ek, agter die stilte van ‘n finale raam.