Ek en Newton
Ek kan nie presies onthou nie, maar ek vermoed dit was min of meer op die ouderdom van veertien wat ek op Newton se appelteorieë en so verbeter het. Dit het gebeur in die maand van Februarie van wat mense ‘n momentele deel van ‘n jaar noem. Ek het in die skaamtelose hitte van ‘n Hoëveldse middag gesit en werklik diep gedink oor dinge. Diep dinge. Soos meisiekinders en hoe om die Springbokspan te haal.
En toe gebeur dit. ‘n Mens is of briljant, of jy is briljant. Daar sit ek op die ellendige medium-middelklas tuinstoel en ek hoor ‘n stem. Toemaar, ek het dit wat julle nou dink lankal deur begaafde sielkundiges laat nagaan. Daardie stem was nie afkomstig uit my kop nie. Nee, my lyf het eerste die stem van die Newton-moment ervaar. Die afskuwelike Februarie-hitte het soos ‘n Frankenstein in draakgedaante hel probeer naboots. Hel en hitte. Februarie. En toe. Toe voel ek dit. En niemand tot toe, het my iets daarvan vertel nie. My lyf het die breuk, die fluistering van een seisoen, wat oorgee, en die mondhoekglimlag van ‘n ander seisoen wat begin weet het dat sy/haar moment aangebreek het, stomgeslaan aangevoel. Herfs, wie se eerste naam Maart in die Suidelike Halfrond is, se eerste skrams-koelte van ‘n asem het vir ‘n heilige moment gesorg. Ja, somer, en die reste van die verpestelike Februariemaand sou nog tot in Maart probeer terugveg, soms soos ‘n vark wen, maar die wig het gekantel. Onaanvegbaar.
Ek sal die eerste gejuig van ‘n dankbare lyf, die kop wat summier daarna begin handeklap het, nooit vergeet nie. Newton, jy en ek, ons weet van dinge. Soos dat mens nooit groot beslissings in hoogsomer moet maak nie. Kies jou vrou, jou geloof, jou politieke party, jou kar, in die herfs wat mooier as almal saam kan sing, wat grondige logika uit diepgeleë liggaamselle gaan haal.
Koebaai Februarie, koebaai somer. Hallo Maart, hallo April, hallo hierdie vreemde dankbare gejuig van ‘n mens se lyf. Meneer Die President, moenie verkiesings in die somer uitroep nie, meneer die sjirurg, doen jou moeilikste operasies in die herfs, meneer die besturende direkteur van ‘n maatskappy wat op die aandelemark wil noteer, nee, nie Februarie nie, daarna. Mejuffrou argitek, wag vir herfs om die manne in jou kantoor hel jaloers te maak.
Maar hierdie kant toe, en daardie kant toe, moenie met heiligheid mors nie. Kyk volgende jaar of jy die alfa-moment, die weifelende kantel van die somer in die arms van die herfs kan aanvoel. Sluit sodoende by Alfred Newton en my nederige self aan.
Wim van der Walt – Bellville