Lank lank gelede was daar ‘n huis in Durbanville waar verlore, verwaarloosde kinders ‘n tydlank gehuisves was totdat die Maatskaplike Bestel, ‘n plan met hulle kon maak.

Een van hulle was ‘n dogtertjie wat by die skool in trane uitgebars het en die klasjuffrou was sensitief genoeg om die probleem van haar te kon onttrek. Haar pa het haar in die aande kom seksueel treiter. Toe sy die middag na ons toe gebring was daar, soveel hartseer en verlorendheid op daardie gesiggie, dat ek dadelik, as man, vertrek het om vir haar ‘n pop te gaan koop.

Met tyd het sy my begin vertrou. Sy het altyd baie lank gebad. Daar was ‘n terapeutiese aspek daaraan verbonde. Ons het dit geweet. Maar toe, het die roep altyd van die boonste verdiepping gekom. “Oomm Wwimm”. Dit het beteken sy was klaar gebad, pajamas aan, in die bed. En dan was Oom Wim opgekommandeer om vir haar ‘n storie te kom lees. “Brother”, het ek dit met oorgawe en aksente gedoen. Sy het stil gelê en luister. Later vaak geraak. Dan het Oom Wim haar bo op haar kop nag gesoen en werklik met geen traanmerke op my wange nie, afgestap. Later het ek onnutsig geraak. Storie gelees, maar doelbewuste growwe foute gemaak. In so ‘n mate dat ek sterk betug was, “Oomm Wwimm!”. Toe het ek geweet. Die kind voel totaal veilig. In so ‘n mate dat sy my kon uittrap.

Maar die sisteem was teen haar. Die landdros het haar terug huis toe gestuur. Na daardie huis toe. Sy het eenkeer kom kuier, maar toe ek haar die Maandagoggend skool toe moes vat, het sy geweier. Sy wou nie die huis verlaat nie. Ek het die maatskaplike werkers geskakel, begin werk by my lessenaar, en daardie dogtertjie het op haar eie vir my gaan tee maak.

Ek sal die skok, die verwerping op haar gesig nooit ooit vergeet nie toe die twee maatskaplike werksters ingestap gekom het nie. Op haar kop gesoen, koebaai gesê, maar die sisteem, en ons, het haar hart gebreek.

Ek besit ‘n foto waar ek vir haar stories lees. Sy het so ‘n slaapgesiggie daarop.

Op ‘n ander keer het ‘n jong seuntjie by die voordeur ingestap gekom saam met die maatskaplike werkers. Toe hy besef dit is waar hy gelos gaan word, het hy in trane uitgebars en op die vloer neer geplof. Ek het langs hom gaan sit en vir hom gevra of hy dalk lus is vir ‘n roomys. Ja. Toe gaan koop ek een en sit langs hom terwyl hy dit geniet. Met tyd, met tyd, het ek sy vertroue gewen. Eenkeer is hy saam met die res van die familie op die stoep. Hulle vra hom snaakse vrae. “Wat is Markus?”. “Markus is ‘n rooi trekker”, sê hy. Almal bars uit van die lag. “Wat is Oom Wim?”, vra een van hulle stout. Hy dink so vir ‘n halwe oomblik, toe sê hy, “Oom Wim is ‘n lekker roomys!”. Ek glo my gemoed het net daar die Nobelprys vir Internasionale Betrekkinge ontvang!

Maar op ‘n dag word ek en die mannetjie opgeroep na die maatskaplike kantore in Bellville toe. Hy het gesien ek is half somber. En ons twee sit in die ontvangslokaal en wag vir die maatskaplike werkster om uit haar kantoor te kom. Ek het toe al klaar geweet dat die mannetjie se ouma en sy oom hom wil inneem. Maar hy het nie geweet nie. Hy kyk my toe so en vra, “Oom Wim, gaan ek by jou bly?”. Op daardie oomblik, op daardie moment, kom die maatskaplike werkster uitgestap en toe bars hy in trane uit. Maar ek moes loop. Ek moes loop.

Hierdie soort  ervaringe kan sterflikes nie lank verduur nie. Dit het gestop. Ander dinge is later gedoen. Nog ‘n storie vir ‘n ander dag.

Maar soms ry ek verby daardie huis in Boston waar ‘n klein dogtertjie swaar gekry het. Om haar beter te onthou. Die huis is baie meer vervalle, maar hulle is lankal weg. Na waar mense nie van dinge dalk sou weet nie.

En soms ry ek by die maatskaplike kantore verby. En onthou die ‘lightie’ wat na my opgekyk het. Net voor ek hom in trane by die maatskaplike werkster gelos het. Miskien, gaan dit nou goed met hom. Ek sien hom in my onthou nog ‘games’ op die TV speel. Hy was so ontspanne. So, so ek onthou ek daai lightie.

So onthou ek hulle. 

Wim van der Walt