Op die vooraand of so van my noodwendige verjaardag, wens ek so ek kon die langpad vat. Karoo toe. Lang stom ruimtes wat baie hard skrou,, stom vlaktes, wat kromlyf le en brom van baie oude dinge. Om by my kleinkinddorp uit te kom. Victoria Wes. Waar ek eintlik mens geraak het. Goeie hel. Dit was Authentic. Real to the bloody bone. Ek voel nog die lug, die lig. Ek voel nog die strate van grond. Die stil stram koppies. Ek voel nog die swembad se water. Ek voel nog die biblioteekboek in my hand. Die bladsye wat vra na my my vingers. Die nag wat wonder of die oggend oppad is. Om stil, soos doodstil, deur ‘n dorp te beweeg. Met respek. Met voete, maar eintlik my hele siel. Wat maar net ou skouers wou skuur. En vir ‘n gepaste lied sou wou soek.

En die Mongooldogtertjie. Sy wat skeefmond, lekhart, daar in die hospitaal gebore was. Pyn, en houtsplinters in kinderboude wat moes skuif omdat sy gepredestineer was tot houtvloere wat vir haar met ‘n gryns gewag het. Ja Rettie, ek was daar op die finale aand. En ek onthou jou finale laaste aardse woorde my Mongool/Down Sindroom sussie. Dankie dankie daarvoor.

Want menslike eksistensie het hierdie verhaal ‘n feitelikheid gemaak. Ek krom my rug trots hiervoor.

Nag Vicky Wes. My kar het ‘n protesterende probleem. Ek gaan jou nie nou betyds kom honoreer nie. Maar dankie. Almal julle, en alles. En asseblief. Moenie mors met die strate nie. En die mense nie.

Ek is dankbaar vir jou Karoodorp. Ek klap my hande soos ‘n Raleighfiets kaalvoetklong. Ek voel jou diepdonker nag. Jou verlange na die begin van ‘n baie mooi dag.

En dankie biblioteek vir jou baie boeke. Ek het julle gelaai op my bike. Soos godsdiens. Met Karoo erns. En derms.

Dankie klipverpletterde stomdorp koppies. Ek het gesien hoe julle vir mens met ‘n blou horison, wys gelate, ‘n wye kompas waai.

Wim van der Walt