Dit was Saterdagaand in die Karoo. Die karre het klaar tougestaan by die klein kantoortjie in Victoria Wes se middedorp. Dubbel toilet grootte. Maar daar binne het Die Burger gele en wag vir ons amal. Die afleweringspunt van die naweek se Die Burger. Dan het die karre een na die ander vertrek terug na hulle se huise toe. Mens het Oom Callie Gribb se huis gekyk in die verbygang. Die verlatenheid van ‘n stoep wat geel lig laag laat hang het om die donkerte daar buite te waarsku om nie nader te kom nie. Die mense was diep binne in die binnekant van die strak meditatiewe mure.

By die huis gekom was dit spoedig tyd vir die radio om Saterdagaand binne toe te vat. U Eie Keuse. Mense het van oral oor, hulle versoeke aangestuur. So het mens geweet daar is nog mense elders. Al was daar baie van hulle in die lokkasie aan die kant van die dorp. My Aia Mieta het ook daar gebly.

Dan het die musiek gevolg. Groot mense het Die Naweek Burger daar in die studeerkamer gelees. Waar ek tot half vier in die middae moes slaap voordat ek buite kon gaan speel het. Nie dat ek geslaap het nie niggie. Ek was seerower, en cowboy en Tarzan almal by tye.

Maar daar in die studeerkamer was dit Saterdagaand en die mense se keuses het deurgevloei.

Ek noem enkeles – Caruso. O Sole Mio.

So het Caruso in die Groot Karoo geklink. Op ‘n Saterdagaand. Ek dink Caruso, saam met my pa, het my oortuig om Latyn op skool as ‘n vak te vat. Daardie Taljaners.

Maar stel julle voor. Die somber donkerte van die Karoonag. En hiri stem wat dit klief. Ek dink daar was roeringe in die dorp se begraafplaas.

En mens kon dit van Daniel Kirstein verwag. Elisabeth Schwarzkopf sou iewers in die gang van musiek opstaan. So ‘n mooi mens. So ‘n mooi naam. So ‘n mooi stem. Sy sou sing. O mio babbino caro. Die mense wat Die Burger gesit en lees het, het net daar vir ‘n lang ver-ge-wyle gestop. Die kind wat nog van min geweet het, het gewonder wat is die verhouding tussen sy ore en sy traankliere.

En dan het Daniel Kirstein dit goed geag om ‘n ander Wonderwerk kans te gee om vir ons daar in die Groot Karoo te kom sing. Maria Callas. Puccini. One Fine Day. Die verlange van ‘n vrou vir ‘n man wat haar verlaat het. Maar het sy gehoop, Een Mooi Skoon Dag, gaan hy terug kom.

Ek was in die moeilikheid. Mens kon nie met twee vroue trou nie. Elisabeth en Maria. Ek weet julle het oor my wyd baklei. Ek sou op LM Radio na ‘n anner vrou moes gaan soek.

Julle Karoo nag sangers, sangeresse, ek klap hande nou. Maar ek onthou. Julle het toe my kaalvoete se tone vreemd laat begin krul.

Maar dankie. Baie geagte Dankie. Vir julle almal wat mens se siel laat uit dop het. Aan die lang verlang verbete met vingers en note en woorde begin gevleg het.