Dit is Saterdagaand. Dit is vroeg Augustus. Ek het my dag geveg om dit te probeer oortuig dat ek ook ‘n mens is. In die PicknPay ry vir die mooi swart dame geglimlag oor haar se vriendin wat haar arms en heupe gee vir die Omie daar by die ingang wat ‘n konsertina na wye dinge laat verlang. Sy het die gryskop Oom reg gelees. My geglimlag vir ‘n moment van medemenslikheid.
Later staan ek in ‘n woonstel. ‘n Wit gryskop man is besig om ‘n stoof reg te toor. By hom is ‘n effe beangste jong bruinkind. Ek begin met hulle in Ingels praat. Die mede-eienaar van die woonstel, hy praat met my Afrikaans, sy praat met my Engels, en sy kyk my diep in die oge toe ek ‘n ding vir daardie verboureerde bruinkind wil praat. Toe ek begin praat van A Story before bedtime, stop sy my. Hy is Afrikaans, glimlag sy. Ek, weereens, bepleit stories vir kinders voor slaaptyd. Miskien kan Oupa Uil daar verskyn. Die regmaakman kyk op. Se dankie, ek vertrek.
Langs die middelklas-teerpaaie staan, slinger die verloorders. Hoop vir ‘n bietjie skaamkry geld van ons kant af. Vir drank, vir tik, vir wat ookal, om vir ‘n moment van alles te vergeet. Ek ry en my hart huil. Ek het daardie jong meisiekind, Magda, nou al vir lank glad nie weer gesien nie. ‘Dankie Oom, Oom moet ‘n lekker dag he’. Ja, ek dink sy het finaal weggesink. En ek het vergeefs probeer om haar te red. ‘n Halfmas probeerslag.
Die dag loop aan. Ek soek vir woorde op plekke wat verlore betoe van die verlede staan probeer maak.
En toe dit ook. Ek word oortuig om iemand naby my hart te vergesel om die Springbokke teen die All Blacks te gaan kyk. En daar stap ek in. Dit raas, dit drink, dit sink. Gevloek, ‘n vroumens glimlag ongemaklik oor wat die een jongman sommer pront praat.
Ek ervaar die vervlakking van my sielsverlange. Ek hou uit om dalk dapper te mag lyk. Eintlik wen drank, maar die Springbokke en die All Blacks speel rugby. En ek probeer dekades oorbrug. Ja, daar was ‘n tyd wat ek ook soos ‘n dapper deelnemende held rugby gekyk het. Selfs op ‘n paar stadions gespeel het. ‘n Drie of twee gedruk het.
Maar op hierdie skreiende f-ken middag gebeur dit weer. Toe die Springbokke laas die Wereld gewen het, het ek my geforseer om in ‘n winkelsentrum dit te beskou. Toe kry iemand lelik seer. Toe loop ek. Toe sien ek in die stil straat buite ‘n man met ‘n plakkaat wat skreeu van hongerte. Maar die strate is dood soos stil rondom hom.
En vanmiddag kry daar toe weer jongmanne ernstiglik seer op daardie rugbyveld. Ek hoop hulle sal weer kan loop. Hulle le op die veld soos ‘n doodskoot.
As ek kon, sou ek loop. Soos daardie ander pynlike middag. Maar ek sit dinge deur. Die drink, drank, dronk doppe.
Maar vanaand vind ek maar weer my tweeling Italiaanse broer, Fabrizio de Andre, soos hy met ‘n siel sing. As hulle my nie Suid Afrika toe gestuur het vanwee hulle ekstreme armte nie, sou ek en hy nou saamgesing het. Verskoning, ek is tweede gebore en hulle was baie arm. Het my Suid Afrika toe gestuur. Karoo toe eintlik. As julle my kon sien, sou julle nie so ongelowig gewees het nie. Nie Afrikaans nie. Italiaans. Europeeees.
Toe voer hulle my die verkeerde soort melk. Toe breek my stem te bliksims, verskoning, bliksems, vinnig. Nou luister ek maar na alles. En kyk vir die mense. Hierdie nat oge van my is blote stront.
Wim van der Walt