Die onverwagte sonsopkoms

Dinsdae het daar altyd iets spesiaals by Bellville Biblioteek gebeur. Soos elke ander dag kom daar ou manne stadig die biblioteek ingestap om boeke teen verdere vereensaming te soek. Oumas wat string string kleinkinders inbring wat uitgelate rondkyk en genotlik rondkrul. Die jongmanne het altyd voor die rekenaars gesit en gooi aas uit na die internet vir werk. Geletterde priesteresse staan agter die toonbanke en gee passe uit sodat boeke en musiek op gewone plekke daar buite siele kan gaan verryk.

Maar Dinsdae was daar ook spesiale voertuie wat mense kom aflaai wat in hulle rystoele gehelp word en dan die biblioteek ingestoot word. Gestremdes wat mens se hart kan breek oor hulle vasberandendheid om hierdie dag se naam vreugde te maak. Die personeel ontvang hulle met egte warmte en mens voel dit aan dat die genotservaring twee kante toe slaan. As mens daar rond sou vertoef hoor jy van tyd tot tyd hoe ‘n rystoelmens genot keel gee en hoe ander hulle self verknuts om deel daarvan te wees. ‘n Moment so menslik dat dit ‘n sakrale damp aan ‘n doodgewone mense dag gee.

So ‘n Dinsdag was dit dan ook eens toe die herfs, reeds goudgeel gistend, met dwarse obsternaatheid van die winter wou wegskram. Saam met alles anders wat heerlik in die biblioteek aan gebeure was, het ‘n paar mense vir hulle weeklikse kunsklas in Gallery B opgedaag. Die studente het hulle met verf, potlood en  kwas voor hulle doeke staan gemaak en die ‘subject matter’ het sy staan gekry sodat sy lyf en gesig gaandeweg buite homself verwerkte nuwe vorm kan/kon kry.

Terwyl die studente aandagtig besig was het die kuratrise van die gallery verby die klas na buite gestap. Daar het sy dit opgelet. ‘n Bruinman, skraalkleinerig, in sy  veertigs, het op die houtbankie buite die gallery in die voorportaal van die biblioteek gesit. Hy was besig om deur die groot glasvensters van die gallery na die kunsklas en die beweginglose model te kyk. En hy was besig om saam te teken. Op sy geĭsoleerde eie.

Eina. Eina.

Die kuratrise het omgedraai en toestemming gaan vra of hy dalk die klas mag bywoon. Dit is spontaan toegestaan en die ‘outsider’ is binnegelaat om aan die klas waar die sublieme opgesoek word, deel te neem.

Hy het selfs na die tyd sy kunspoging by name getekend ingehandig. Hulle het dit nog daar. Al het “Sam”nog nie weer teruggekom nie.

Toe hy op daardie Dinsdagoggend gevra was oor sy ervaring van die kunsklas, het hy stil geantwoord, “Ek het nog nooit so gevoel nie”.

Net dit. ‘n Heilige oomblik van gerespekteerde menslikheid in ‘n geheiligde omgewing. Dit is wat dit was op daardie Dinsdag.

Dit is wat dit was. Dis verby. Die lewe het die biblioteek, die kunsgallery, die koffiewinkel, ingehaal. Die Kuns DVD’s ook. Alles kom stom maak. Die verlede verlep op die vloer. Mens stap nou daar met sulke stadige swaar voete. Wat soos jou hart voel.

Jy kan nie eers uitloop en asem gaan skep in Elizabethpark nie. Dit sink ook.

Bellville, my sinkende stad. Biblioteek, my hart.

Wim van der Walt – Bellville