Die naaam van dinge

Dit is wat gebeur het. Dit is hoe dinge baie begin verander het. Dirk het bloot by die swaaideur van die winkelsentrum ingestap. Hy na binne, en die donnerse kinders storm van die anderkant verkeerd teen toegang/uitgaan se glydeur vas. Hy kon nie betyds keer nie en die versterkte glasblad van die deur het hom vol teen die voorkop getref. En in die rond steier het die opvolgende glasblad van agter hom tussen die blaaie geklap. Hy het steier steier die winkelsentrum betree.

Toe gaan staan hy. Iets ernstig het gebeur, het hy minstens begryp. Nee, het hy begin voel. Daar was geen bloed teen sy voorkop nie. ‘n Snaakse pyn. Maar dieper in. Agter die oë in. Skedeldiepte.

‘n Vrou met ‘n bekommerde uitdrukking het voor hom kom staan. ‘Meneer’, het sy gesê. Met groot oë. ‘Is jy okay?’. Het sy gesê. ‘Ja, baie dankie vir die belangstelling’, het Dirk geantwoord. Maar sy staan en weet van iets, of sien iets. Of vermoed iets. En sy vra, ‘Meneer wat is jou naam en van?

Dit is toe. Toe wat hy geweet het. Dat dinge nou wesentlik verander het. Dat hy soort van weergebore was. Hy het haar wel heelhartig geantwoord, nadat hy vir ‘n minuut lank na sy naam gaan soek het. ‘Baie dankie dame vir u betrokke belangstelling. My naam is Zirk’.

Toe loop sy. Toe staan hy so. ‘My naam is Zirk. Ek weet dit nou. Maar hoekom is ek hier? En waar kom ek vandaan?’. Zirk het nie geantwoord nie. Dirk was bloot stom. Sprakeloos. Toe staan hy so en dink soos wat die mense verby hom beweeg met hulle se verlangens om iets te gaan aankoop. En hy sê vir homself, ‘Zirk? Kyk wat gaan in jou ‘wallet’ aan. Dit is wat enige intellegente mens tog sou doen’. Sê ZirkDirk vir homself. Hy toe voel hy in sy binnesak. Sy hand het na sy linker bo-sak gegaan. Die beursie was daar. ‘My brein is okay’, het hy vir homself verheugd gesê.

En hy maak die beursie-ding oop. Note in twee van die drie sub-sakkies. Nie groot in getalwaarde nie, maar darem. ‘n Kredietkaart. ‘Kan net myne wees’, antwoord hy homself. Daar is voorletters en ‘n van in so ‘n bultigheid op die kredietkaart. D van Deventer hou die kredietkaart hom voor. En Zirk staan en kyk die storie so. Met onbegrip. Of hy is verkeerd. Of die dônners wat die kaart vir hom aangebied het, praat bloot stront.

‘Okay, ek sal dit later uitsorteer. Prioriteite. D van Deventer, of dan Z van Deventer’, grinnik hy. Soos hy dit nou in sy kop het. Hy kyk voort vir iets wat bloot rigting mag gee. Daar is geen tekens van niks verder nie. En daar staan hy. En die mense loop soos miere of vlieë rond en bont. Hy gaan staan teen ‘n glaswand. Maar hy maak seker dat daardie een nie oop of toe kan swaai nie. Mens kan nie in een dag twee keer weergebore word nie.

Hy word darem ‘n ietwat later aangehelp. Sulke jongmense met oë wat vir die lewe glinster, stap welig verby. ‘Hallo Oom Dirkie’, roep drie van hulle amper gelyk. Hy glimlag soos ‘n nuwe politikus en waai vriendelik soos die Pous vir hulle. Hulle gaan voort na die loopgrawe vir vandag en hy begin dink. ‘Wat het gebeur dat hy nou van Dirk in Zirk verander het?…en waar de dônner bly Dirk en Zirk?’.

Die bank help darem. Met die voorhou van die kaart vra die toonbankdame hom dit. ‘ Is jou adres steeds High Towers in Bellville, Meneer Van Deventer?’. Hy dink vinnig en vra, ‘High Towers hoeveel, het jy my op rekord?. Gelukkig kom sy nie met ‘n teenvraag voor die dag nie en antwoord eerlik. ’84 High Street Towers. Regso Meneer van Deventer?’ Hy gee haar ‘n breë glimlag om dinge nog ‘n bietjie ligter te maak. ‘Absoluut reg. Dankie dame. Jy is so slim!’.

Nou weet hy ten minste waar hy bly. En dat die wêreld hom klaarblyklik as Dirk van Deventer ken. Okay dan. ‘Maar waar is High Street Towers? Waarskynlik  iewers in hierdie mal geraas waarin ek my bevind’. Praat hy met Dirk en/of Zirk. Hy kyk rondom hom. Daar is ‘n rekenaarwinkel skuins oorkant die gangetjie. Dit het ook ‘n glasdeur, maar hy stap vinnig in. ‘Dirk en of Zirk ken waarskynlik van rekenaars’, dink hy en kyk na die jongman wat die skerm voor hom soos God aankyk. ‘High Towers? Ek hoef nie op te kyk nie, ek bly self daar. Op met AkkerBoustraat en links in Devine Street’, sê die jongman wat net oë vir die skerm het. Links en regs van hom sit anner jongmense wat ewesinnig met hom oor dinge voel. Daar is groot heiligheid teenwoordig.

Dirk en Zirk stap uit. ‘Of dalk Zirk dan en Dirk’, dink hy. Miskien is ek ‘n tweeling. Hy soek na straatname op die hoek van die sentrum se stewige standplaas. ‘Jip, daai kant toe’ sien hy en begin stap. Hy het klaar gesien dat hy karsleutels ook het, maar tussen daardie plaat karre gaan hy nie na ‘n oopmaak ‘beep’ gaan soek nie.

En hy stap. Verby ‘n vrou wat ‘n blinde man rondlei met ‘n vrabakkkie vir vanaand se kos vir hulle. En hy haal instinktief geld uit sy beursie.’ As ek ‘n kar het, en ‘n woonstel bewoon, is ek waarskynlik nie aan die gatkant van die lewe vasgevang nie’. Sy kyk hom met oë aan wat diep binnekant dankie sê. Die blinde man voel iets goets het gebeur en sy mondhoeke glim ‘n lag.

Op die hoek van AkkerBoustraat en Devine Street, hoef hy nie eers te twyfel oor links of regs nie. High Towers staan soos Babylon bloot groot in die verte. Hy stap aan na sy verlede en sy toekoms se padkaart toe.

Die ‘remote’ werk. Die voordeur gaan kreun kreun soos ‘n ou prostituut oop en hy gaan binne. Veertien vloere. Die agste is waar hy hoort. Hy klim in die ‘lift’. Dit lyk vaagweg bekend. Hy voel assof sy ou en huidige voete die mat in die hyser help deurtrap het.

Op die agste vloer vind hy die woonstel. 84. Soos in 7 maal 12 is vier en tagtig. Hy sluit oop. Die deur gaan amper vanself oop. Dirk en of Zirk stap binne. Hy staan half verstom. ‘So, dit is ek!’, beaam hy homself. ‘Goeie hel!’.   

‘Lyk ek wragtig so?’. Dit nog voor hy homself in die spieël gaan bekyk het. Daar het hy ook ‘n bietjie geskrik. Een helse deurmekaar spul. Stoele wat kreun nog voor jy daarop gaan sit het. ‘n Rusbank met koffie kolle en die Allerhoogste alleen weet wat nog. ‘n Tafel vol pampiere. Boekrakke wat staan en kla oor hulle se harde dagnag werk. Die ergste is die mure van hoek tot kant vol skilderye en fotos. Nie beskaafde geel strepe op ‘n gevestigde‘charcoal’ teervlak nie. Alles hier wil ver wegloop. ‘Hier is niks vrolik nie. Ek is dus ‘n droë drol’, som hy dinge gevaarlik reg op.

Hy kyk na die boeke. ‘Nee, hierdie man wat hier bly het gevaarlik ge-erf, of hy moet in ernstige psigoterapie wees. Die Italiaanse en Franse boeke behoort bloot verban te word, som hy dinge verder op. Die Engelse boeke skreeu Anglikaans alle kante toe. Die Afrikaanse boeke vat hulle verlore hande en bring dit gedwee terug hoofpad toe. Later, lyk dit vir hom of die Afrikaanse boeke ook nog die ander boeke se hande ook wil vat en dit ook hoofpad toe wil bring. Snaakse taal.

In die slaapkamer staan ‘n dubbelbed. Net eenkant is gekreukel. Die anderkant is bleek in die gesig. Hy gaan sit op die bed. Aan die gekreukelde kant. Kyk na die mure. Skilderye, fotos. Wit en swart fotos. Die fotos is almal baie oud. Kan nie Dirk of Zirk se familie wees nie. Hulle lyk na vier na selfs sestien leeftye en hulle wil nie meer huis toe kom of gaan nie. Hulle is tuisteloos. Huisloos.

Terwyl hy so sit en kyk na alles besef hy ‘n ding. ‘Ek is nie net meer Dirk of Zirk nie. Ek vind vreemde hande wat deurmekaar handeklap en verlore voete wat een of ander nag bloot soos skelms verdwyn het’. En hy sit doodstil vir lank. ‘Hoe nou vorentoe?’ wonder hy. ‘Ek het nie ‘n blerrie idee nie. Daar is klaarblyklik meer as een van ons wat saam die pad wil afstap. En nie een kan vir die ander weghardloop nie. Elkeen wil vir elkeen inhaal. Hier is moeilikheid’.

Terwyl hy so na mure en boeke en skilderye en fotos sit en kyk, leen hy half terug en stoot per ongeluk ‘n paar boeke van die bed af wat soos Franse guillotines koppe laat klap.

‘Ek moet my kop kalm kry. Ek moet om die blok gaan stap en diep asemhaal. Hoor jy my Dirk of Zirk?’. Praat hy onseker met homself.

So staan hy toe op. So stap hy deur toe. Terwyl hy agter hom die deur toesluit kom ‘n skoonmaakster verby gestap. ‘Middag Meneer Fritz’ sê sy. Sy maak nie ‘n grap nie, sien hy. Sy stap rustig op haar roete verby. Dinge voel vir hom nou bietjie erg.

‘Ek moet dringend by die pad uitkom, ek moet gaan wyd loop om myself raak te kan sien’, sê hy hardop vir homself. Hy hoor ‘n uil wat bewe in sy stem. En hy stap die lang gang wat nou soos ‘n loopplank lyk, af. Hy druk die ‘lift’ se help my knoppie. Dit vat ‘n rukkie om te begin hoor wat Dirk of Zirk wil hê, maar met tyd maak die hyserdeur oop. ‘n Bitterlike mooi meisie wat soos Woodstock lyk, staan binne in.

Hy stap in en groet. Sy groet terug. ‘Hallo Ettienne’ sê die Woodstock meisiekind vriendelik en kyk weer op haar selfoon. Skaamteloos.

Hy laat haar eerste uitklim. Toe, bly hy binne in die ‘lift’ staan. En hy druk die die nommer vir die agste vloer.

‘Ek sien nie vandag kans vir al my name nie’, sê hy toe hy op die agste vloer uitklim en knik net bloot knie-kop toe ‘n ou tannie hom as Hallo Alfred(!) aanspreek. Toe maak hy gatskoon vir sy en al die ander manne wat klaarblyklik by hom bly se karige woonsteldeur. Hy sluit oop en draai om, om die lang gang versigtig te bekyk.

Dit is toe wat daar ‘n satanswind deur die woonstelvenster stoot en die voordeur teen sy agterkop was waai.                                            

Wrak van der Walt – Bellville