Die man in die boomtakke

Dit is enkele dae voor Kersfees en met ‘n stroom ander karre is ek ook oppad na ‘n wuiwende winkelsentrum om te skep wat te skeppe is. Stadig in gelid beweeg ons na die afdraaie waar ons die offensief van ons beursies, reeds goed beplan, wyd in die sentrum uit en oop kan laat bars.

Toe sien ek hom. Toe sien ek hom. Die man met die sonverbrande gesig wat dag in en uit by die verkeerslig staan en wag vir enige blyke van materiële genade. Normaalweg staan hy stoïsyns, miskien selfs soos ‘n skaam Boedda, ‘n verwese Jesus, en wag vir twee, miskien vyf randstukke wat na sy kant toe mag kom.

Maar nie op hierdie oggend nie. Hy staan so diep in die takke van die somerboom versteek dat net genade mens hom laat raaksien. Dit lyk as of die boom hom met blaarhande probeer versteek. Selfs beskerm.

Dit is skeptyd en jy kruip weg, dink ek by my selwers. Waar is jou besigheidsin, broer, dink ek. Maar so in die verbygaan sê ‘n ander stupid stemmetjie vir my ‘n ding. Weet jy hoeveel verlies druk hom teen daardie boomstam vas?

Dit is die feesseisoen en al wat van jou oor is, is om met geen trots oor nie, vir oorlewing te staan en pleit. ‘n Klompie kilometers van hier af, is daar ‘n vrou, kinders, wat almal besig is om hulle lesse te leer hoe om voor mense half tussen belaglik en hopeloos te probeer reg op staan. En dit is jy wat hulle gefaal het.

Miskien het hy weer na ‘n paar minute klaar gehuil gehad en toe weer sy plek by die verkeerslig ingeneem om die oorgrote meerderheid mense wat smalend verby beweeg te verduur.

Ek weet nie want ek was te besig om in die sentrum die dinge te doen waarvoor ek gekom het. Miskien moet daar ‘n munisipale byregulasie te wees teen mense soos hierdie wat ons private ruimte skaamteloos ongemaklik probeer maak. Hitler sou geweet het wat om met hulle te doen. Ons, ons worry nie oor hulle nie.

Wim van der Walt – Tygervallei