Dit was in die vroegerige 2000’s. Ek klop aan die deur van die huis te Landboustraat 4, Victoria Wes. Aan die anderkant skuins, het Wilkie-hulle soms lank gelede kom sirkus hou. Ons het hulle dopgehou. Die mense daar maak die voordeur wyd oop. Ek vertel hulle ek was ‘n kind in daardie huis. Ek wil hoor of ek nie dalk deur die huis mag stap om onthou weer te onthou nie. Hulle is vriendelik, se sommer ja so. Ek stap deur. Sien, onthou baie dinge. Stap toe in die hoofslaapkamer in. ‘n Kamer vol dinge. Te veel eintlik.

En daar hang dit. Die ligskerm van amper 50 jaar gelede. Ek vertel vir die mense daarvan. Hoe die ligskerm nie ‘n keuse gehad het nie. Dit moes bloot begin skyn as iemand die skakelaar aangesit het. Ek kyk, en ek se dankie vir kyk se dinge. En ek vertrek. Slaap in die Victoria Hotel oor.

Die volgende oggend wag daar iets vir my by ontvangs. Landboustraat 4 se ligskerm. Ek het nie tranerigheid in my oge gehad nie. ‘n Mens is nie ‘n sussie nie.

Ek vat dit weg. Tot vandag toe. Maar ek het darem ‘n geskenkbewys vir hulle se lightie aangestuur.

Nou staan die lampskerm hier. Dan daar. Probeer praat. Ek maak dit stil. Mens kan net soveel onthou verduur. Maar die lampskerm wil nie met nonsens ophou nie. Ons baklei voort. Of hy en sy ‘shut up’, of iets of iemand gaan bliksems breek.