Die geskrou van poue
Vriende vra my ‘n aantal jare gelede of ek hulle huis en baie ou hond sal oppas terwyl hulle oorsee is. Ek doen dit met graagte, het ek hulle vertel. So bevind ek my toe op ‘n laatmiddag op hulle ruim stoep met ‘n lekker groot glas wyn, luister na ‘n Bob Dylan wat sy ou treffers so sing dat hulle weer jou siel oopkrap daar waar dit onder teerpaaie en in winkelsentrums verstrik geraak het en ek verlustig my verder in ‘n tuin wat verskriklik mooi en pikant versorg is.
Genoeglikheid terwyl die laat middagson wegkruipertjie met die struike en plante begin speel. Dit is toe wat ek die poue die eerste keer gehoor het. Hulle sopraan-agtige gekekkel, gekraai, verhoog my vlakke van vreugde en ek lig my glas hoog. Alles wat ek sien, proe, voel en hoor, vind ek al hoe vreesliker lekkerder.
Nag een, bring die eerste ongemaklikheid. Laat nag, of dalk bitterlik vroeg oggend, hoor ek die poue waar ek saam met almal wat kan asemhaal in die donker rivier van diep slaap voortdryf. Die poue skud my wakker. Ek hoor hulle skerp geskrou vir wat hulle ook al in die nag onstig het. Ek reageer daarop soos die volwassene wat ek behoort te wees en verkwalik hulle glad nie omdat hulle my uit die rivier droë land toe kom sleep het nie. Ek hoor hulle nog ‘n keer of wat, maar die sweem van beneweling vind my gaandeweg weer reg om in die donker stroom terug te gly.
Die volgende oggend word ek wakker en ek vind myself natgesweet. Uiteraard dig mens dit maar net toe aan die warmte van die nag en begin dood gewoon jouself weer bepaksel vir die dinge van die dag.
Maar toe raak dit egter weer nag en op ‘n punt word ek, nee skrik ek, wakker wanneer die poue weer skril begin skree van hulle eie persoonlike ontsteltenisse. Ek vind myself weer natgesweet, maar meer nog, ek besef dat ek ‘n wolkbreuk van disparatiewe drome tydens die onderdompeling in sluimering en slaap ondergaan het.
Ek lê en luister na die geskrou van die poue en toe weet ek wat hulle is. Hulle is kleurryke personifikasies van vervloëe tye se hopelose geeste wat ons agterbaks moet vang om die roesmoes, parasiete van die star doppe van ons halfversmoorde siele snags af te krap.
Hulle, die poue, hulle het my goed betrek. Nou kyk ek die mense so rondom my, die koffie op die tafel voor my en ek weet daai poue bly dui op versuipte drome wat vra dat ek dit ernstig opneem voordat ek dalk ook iewers vorentoe, vir ‘n verlore onthalwe, laat middae en in diep donker nagte op die stompheid van onse mense angstig gaan begin skrou.