Dit was ‘n doodgewone somersdag daar in die Karoodorp wat randjies kon waardeer omdat dit die wegvlug van siele help stuit het. Dit was die skool se dag vir atletiek en mededinging. Party van ons het ligblou linte op ons vests gehad. So het ek my atletiekgewaad op die stoel voor my bed gevind toe ek vir die groot gebeure van die dag wakker geword het. Dit was nie sommer net niks nie. Ek het toe al geweet hoe daardie mens swaar uit ‘n donker somber bed opgestaan het om die lightie ‘n kans vir hardloop op die gegewe dag te kon gee.

So gaan ons toe atletiekbaan toe. Groot geraas, luidsprekers. Trotse wenners aankondigings. Linte op die borse.

En toe. Dit. Dit was bloot meiskiekinders wat aangetree het om van agter ‘n witstreep gelyk weg te spring na ‘n wenstreep toe. Sy, hulle, was almal ‘n jaar ouer dan ek. Ek het voor daardie geleentheid, gebeure, niks bewustelik van die vreemde verlange van ‘n verkrampte innerlike, geestestoestand gehad nie.

Maar toe klap die skoot. En die meisiekinders spring weg om soos die wind vir alles en almal weg te hardloop. En Madeleine was voor. Dit was toe wat ek oë op my gevoel het. Ja, daardie moeder, op haar dag self ‘n Eeufees Koningin, het vir my gestaan en lag.

Sy kyk my borselkop, sproetgelaat ‘n genotvolle kyk. En Rina vra.

“Hoekom skreeu jy so hard?”.

Dit was in daardie momente wat ek die enorme, onverlosbare, onverskoonbare genotsvlakke van moeders, hulle susters, hulle se oumas, hulle se ouma-grootjies begin bevraagteken het. Hoe vrouens ‘n mens se naam so gat kan maak dat jy nie weer statuur sou kon staanmaak nie.

Ek het in daardie moment in ‘n Boedha verander. Geen uitdrukking op my se gesig nie. Geen geluid wat aardse wesens sou kon verstaan nie. Ek het gemaak of Rina bloot niks van niks verstaan nie.

Maar nou weet ek. Ek het vir daardie komplekse Moeder van my ‘n moment van instinktiewe vreugde gegee. Hoe ‘n knaap van haar so hard vir die lewe kon skrou.

Vir ‘n meisiekind. Ene ouer as ek. Ene met sproete op haar se gesig en met meisiebene wat die Groot Karoo sy gat laat sien het.

En toe ek baie jare later tydens ‘n 100 meter wedloop geduik het om die tweede plek myne te maak, het ek met bloedknieë opgestaan. En vir Madeleine van die Groot Karoo onthou.

Sorry Georgina en julle ander veertien.

Wim van der Walt