Vandag was weer ‘n dag. Eers sit ek in Binnelandse Sake saam met ‘n magdom ander nommers wat wag om op ‘n skerm op te kom as hulle kans net wil opkom om daar op ‘n stoel voor die amptenare wat wag te kan gaan sit. Mense langs my wat vir my dinge vra wat ek met gemaakte vaardighede beantwoord. Maar eintlik, weet ek, is dit maar net ‘n mens wat vra vir ‘n stukkie terugee menslikheid. Sy, sy sal teruggaan vanaand en twee grade minder twyfel oor die velkleur van mense.   

Een amptenaar verskeur my hart. Hy is ‘beautiful’. ‘n Albino, noem mens hom seker. Maar die ‘kindness’ op sy gesig, die glimlag wat sy oë se hand vat en wag vir ‘n volgende mens om daar, net daar, met onverwagse brose omgee met vorms en saaklike antwoorde voort op ‘n mensepad te stuur. Daar is so ‘n stukkie verskriklike vreugde in sy uitdrukking elke keer wat ‘n mens met ‘n gestempelde lewe opstaan om voort te gaan. Huil, is  ‘n woord wat meer as vier letters het. Mens klap nie hande in ‘n goewermentskantoor nie. Nee. Ek sit net, en ek kyk net.

Ietwat later moet ek gaan toustaan om die blerrie karkaartjieman te kan betaal. En weer is ek deur die gode vir ‘n lewensles opgestel. So kom hulle verby. ‘n Vrou wat op ‘n sypaadjie gly en val. ‘n Gryskop township man wat tydsaam, haar sagkens ophelp. ‘n Ander een, ‘n jong bliksem, gaan tel haar waterbottel in die pad op en gee dit versigtig vir die verwarde mens oor.

Hulle stap verby. Sulke vet mense. Sulke maer mense. Sulke mense wat deur die lewe so geklap is dat hulle nie weet wat om vorentoe meer te moet doen nie. En die karre jaag verby. Blink karre wat gas die atmosfeer in jag, taxis wat kamakazi-games met die mense alkante toe speel.

En so, toe bevind ek my in die magistraatskantore om ‘n probleemsituasie met ‘n mens te probeer bestuur. Dit is middag. Die roesmoes van die aanklagrumoer is verby. ‘n Doodse stilte. ‘n Lang houtbank, normaalweg gevul met menseboude wat of aangekla gaan word of wat met ‘n soort lojaliteit probeer sê ‘ons weettie hoe moet ons pynloos verstaan wat ons nie pynloos verstaan nie’.

Die gedasde jongman word voort gehelp. Die aanklaer sê ek is volgende. Al andersins daar was ‘n klein bondeltjie van ‘n meisiekind in die hoek. Ene wat op ‘n stadium haar skraal arms om haar bene invou en haarself soos ‘n verlore baba probeer troos. En ek, die witmens, witkop, ou man, sit ook daar en ek weet, ek weet, ek is ‘n man, ek kan nie, ek mag nie, uitreik nie. Iemand anders het al met daardie ruimte verskriklik gemors.

Die aanklaer roep my in. Ek maak van die vensterkansie gebruik. Kyk na die verwilderde meisiekind en vra of sy nie eerste is nie. Nee, skud sy kop. En ek gaan in om my dinge te bespreek. Toe ek uitstap kyk sy op. Sy het daardie minste gebaar voorheen gehoor. Sy waai vir my ‘n hand soos ek vir haar my oop hand waai. Ek dink ek het miskien geslaag. Ek, miskien, mag sy dink, is iemand wat nie wil seer maak nie. En vanaand skryf ek haar waai hand diep in my hart in, op, om die duiwels stil te probeer maak. Duiwels en varke het ewe veel letters in elke alfabet van die lewe.

Vandag was nog ‘n dag. Maar die waai van ‘n hand.                                                          

 Wim van der Walt – Bellville