Waar ek hier sit, agter ‘n houtlessenaar met tragiese kapmerke aan die voorkant, sien ek ‘n stukkie van Tafelberg in die laat agtermiddag. Daar is ‘n bietjie meer son daar dan hier. Maar daar gaan dit ook nou stadig soos in vinnig onder. Wie nou weer het van waar nou weer so gesê – die son gaan nie daar onder nie, dit daar sterf elke dag. Soos in doodgaan.
Kaapstad is ‘n stad. Met strate. Plek plek besig. Plek plek baie bitterlik doodstil. Met mense van eens. Kop geboë op sement sypaadjies. Op my Groenpunt mat. ‘n Nag wat net die hartseer vir ure en ure op ‘n bank met arms wou vashou. Die lam lang verlang van die laatnag vuurtoring. Vuurtorings huil laatnag. Om mense van wat toe te waarsku.
Ander nou. Kaapstad het eens gelispel van kunsgallerye, teaters, diep skud flieks, van in ‘n kar te kon klim om na die see waar Ingrid Jonker weggespoel het met ‘n ween te gaan kyk het. En haar dogter wat vir jou koffie bedien het, ure voor dit, ook te onthou.
En die Russiese vrou wat so vir my op die Seepunt sypaadjie gesê het. ‘I hope for nothing. I fear nothing. Therefore I am happy’. Het sy gesê.
Nou, is die son gestorwe daar oor Tafelberg. Net die laaste bloed van die dag gloei rou goue kole. En skree vir oulaas nog op die mense wat iewers mense mag wees.
Tafelberg is ‘n stom berg. So blou, so hemelhoog, deur gode gestraf. Tafelberg onthou die stil gang van San mense. Tafelberg onthou vir Jan Smuts op ‘n klip wat die see kyk, en die berg kyk, en die mense sien krip krabbel soos miere daar onder. Tafelberg het eens vir Jan Smuts in sy diepste siel hoor huil oor holisme as ‘n finale antwoord op die kwaad wat partikularisme altyd, maar vir altyd, aan mense, veral die vrouens en die kinders sal aandoen.
Tafelberg het pas nou weer gesterf. Die son is bloot vir elders gesteel. Waar iemand nuwe woorde van hoop gaan kwetter. Maar hier, raak die berg, die lug, die lig, horison vir nou, finaal gekraak. Net die donkerte. Net die donkerte.
Tyd vir Bob Dylan. Tyd vir my tweeling broer Fabrizio de André. Ja, ek is wragtig, so wragtig waar Italiaans gebore. Voor hulle my Karoo toe verplaas het.
Ja, die son is dood. Ja, Ingrid Jonker ook. Jan Smuts ook. Maar dari see gaan vanaand weer op en af wyf. Wuif. Dari see gee nooit oor nie. Dari see onthou die lywe van mense, van ‘n siel wat nie langer universialiteit ‘n dorpsnaam wil gee nie.
Vir almal wat die Kaap, en daai berg, en daai see, ‘n glimlag en ‘n enkel troebel traan gegee het. Nag vir julle nagwagte. Ek onthou vir julle. Ek het soms vir julle almal met heupe gejive. Vir jou, donkernag skrou toring, ook.
Sharrap.
Wim van der Walt