Kyk hoe gemaklik le hierdie meisiekind in my arm. Kyk my hartseer. As jy kan. Want sy. Want sy. Moes wakker word en ‘n pa het daar in die nag gestaan om haar minder mens te maak. En sy het gehuil toe sy in ons huis ingebring was vir tydelike veiligheid. So, dat ek dadelik gery het om vir haar pop te gaan koop. As ‘n gebaar.
Met tyd. Met tyd. Het ek, het ek, haar vertroue gewen. Na haar lang gebad om te probeer skoon raak, het sy geroep. Oom Wim. Ek het langs haar op haar bed gaan sit. En vir haar stories vertel. En sy het gehoor wanneer ek begin ietwat stront praat het. OOM WIM! Het Angeline geprotesteer. En ek het in my siel geskal. Sy het my vertrou om kritiek te mag praat.
Maar nee. Op ‘n dag ‘n hofsaak. En Angeline, word terug gestuur na haar vorige harige tuiste.
En al wat ek het, is daardie onthou. Hoe Angeline, daar van bo in die huis af ondertoe, na my toe geroep het. Oom Wim! oom Wim!
En toe die landdros gepraat het, het die strak proses haar terug huis toe gestuur. Waar ‘n soort van ‘n pa, in die nag sou wag.
Terwyl sy eens, diep veilig in my arms ingekrul het.
Eens, daarna, het die Maatskaplike Dienste haar vir ‘n naweek by ons toegelaat. Op die Maandag oggend moes ek haar skool toe vat . Sy het geweier. Vir my tee gemaak en op my lessenaar kom neersit. Ek bly by jou. Het dit beteken. Maar ek, moes die maatskaplike werkers skakel. Hulle het haar kom haal. Ek het haar op haar kop gesoen en koeibaai gese. Met ‘n hart wat stukkend geskeur het.
En toe, was ook dit verby.